‘n Begrafnis, absolute perfeksie en “It is well with my soul”.

Die trane loop so oor my wange dat dit teen my nek afdrup en my hemp effens natmaak.

Ek klou my vrou se hand vas wat langs my haar eie trane afvee, maar dis nie trane van hartseer vandag nie, dis trane van ‘ongeloof’ oor wat ons beleef en ervaar, dit wat ons hoor en die ironie van alles wat die afgelope week gebeur het in ons gemeenskap (later verwoord Olga Malan dat dit ‘gelooflik’ was en nie ongelooflik nie en die woordspeling maak impak op my). Ons sit in die allermooiste kerk in Upington – die Moedergemeente en die klank wat ons hoor, kan nie anders as om jou aan te raak en diep te roer nie.  Ek kyk op na die galery, na die orrel en ons dorpskoor, Siyanda Cantando staan fors en fier in hul koordrag en bring hulde aan hul mentor, hul koorleier, hul alles (sien meegaande foto geneem deur die baie talentvolle Anena Burger op presies die regte oomblik). Die onverwagse dood van hul koorleier, Christi Engelbrecht het ons almal hier bymekaar gebring op ‘n warm, winderige Saterdagoggend wat nog lank onthou sal word in my denke. Hierdie Saterdag het die Upington gemeenskap uit dieselfde kerkgebou afskeid geneem van twee ikone van ons dorp, mense wat sulke diep spore in die gemeenskap getrap het, mense wat op verskillende maniere oorlede is, maar mense wat nooit ooit vergeet kan of sal word nie. Mense wat nie onthou sal word vir wêreldse redes van hierdie aarde nie, maar juis vir hoe hul geleef het en hoe twee mense in diens van ander gestaan het elke dag van hul lewe. Nie dat hul geleef het om onthou te word nie en dis juis hoekom beide Christi Engelbrecht en Frikkie Rademeyer vir my altyd sal bybly. Die een vir haar talent en hoe sy altyd musiek wou deel met ander mense, die ander hoe hy kon kosmaak en mense bedien sonder om ooit te kla of spoed te verloor. In ‘n wêreld waar ons mense op Instragram, Twitter en FB aanhang, wat ons nog nooit ontmoet het nie, ‘n lewe waar die aller-domste sêgoed en uitkyke van ‘Celebs’ aangehang word en dit ons bisarre hedendaagse lewe kenmerk, waar mense bekend is net omdat hul bekend is, is hierdie twee mense vir my spesiaal vir al die regte redes.

Terug na waar ek sit in die kerk en ek wil hê jy moet jouself inleef in wat ons almal gelyktydig hier ervaar het. Die klank wat hierdie kerkgebou vul, kan ek net verwoord as perfeksie, as klank en emosie wat die gebou vul tot in sy kleinste hoekie. Die man wat die orrel speel is een van die mees talentvolste mense wat ek ooit leer ken het, Jean du Plessis en ek dink nie hy kon die orrel beter of harder gespeel het nie. Hy speel dit in die vorm van perfeksie wat tot in jou maag kriewel, wat note in jou emosies plaas en klank omtower tot iets wat jy nie ken nie. Hy speel vir sy vriendin Christi en hy leef sy talent voor God uit in absolute nederigheid. Die vrou wat die plek van hul koorleier instaan vir die dag, Olga Malan, staan met ‘n doelgerigtheid, postuur, kalmte en in soveel beheer van haar emosies dat ek myself afvra hoe doen sy dit? Sy voer dit uit met baie meer kalmte as wat haar swanger lyf behoort toe te laat en sy deel die begrafnisgangers voor die koor begin sing het, die volgende mee:

Christi (koorleier) het twee weke tevore die lied, ‘It is well with my soul’ gekies as hul eerste lied vir die jaar. Sy het met ander woorde, hierdie lied absoluut vir haar eie begrafnis gekies en hierdie laaste optrede van haar geliefde koor is totale en absolute perfeksie. Die klank is perfek in balans met die orrel, die woorde duidelik en suiwer en niemand sou ooit kon dink dat die meeste van die koorlede se wange nat is van die trane nie. ‘n Laaste perfekte optrede vir ‘n vrou wat geleef het vir die mooi, die goed en die doel van God vir haar lewe.  ‘n Vrou wat geweet het nét om te gee en in wie se woordeskat die woordjie ’neem’ ongekend was.  In my eie denke sien ek haar tydens hierdie optrede in ‘n tuin, omring met die allermooiste blomme waar sy stilstaan, haar kop effens skuins hou en vir oulaas luister asof sy wil sê: “Maak jou mond rond asof jy ‘n warm aartappel daarin het” of: “Soprane, sing die noot asof iemand die hare op jou kroontjie trek”.  Sy luister tevergeefs vir ‘n vals klank en of een van die stemme harder of sagter moet sing, maar dit is perfek soos wat sy en Johan (haar mede-koorafrigter man wat reeds oorlede is) dit sou wou hê… en Christi glimlag.  Want vir hierdie optrede is daar nóg Een wat glimlag- God.

Na die diens staan ons effens verwese in die wind buite die majestieuse gebou en ons is stil. Ons kyk op en Brunhilde Louw kom stap reg op ons af, ons gesels oor die lied wat Christi gekies het en sy vertel klein bietjie agtergrond tot hierdie baie bekende lied, wat ek nie geweet het nie. Sy staan stil en vra my om iets te skryf hieroor en ek is vir ‘n oomblik effens verstom daaroor, maar het nou al geleer dat ons Hemelse Vader mense en dinge oor my pad bring wat ek net eenvoudig moet oop wees voor. Ek antwoord nie vir Brunhilde nie, maar hier diep binne my weet ek baie goed sy het met ‘n doel na ons gestap en ek moet my laat lei verder.

Later dieselfde middag gaan doen ek my huiswerk oor die lied ‘It is well with my soul’ en ek kan nie glo wat ek lees nie en voel eintlik effens dom vir die feit dat ek nooit die betekenis besef het nie. In kort, die lied is deur ‘n Prokureur met die naam Horatio Spafford in 1873 geskryf. ‘n Moderne Jobverhaal van ‘n baie suksesvolle man, perfekte lewe met eiendom, ‘n goeie praktyk, pragtige vrou, 4 dogters en 1 seun. Hy en sy vrou verloor eers hul 2-jarige seun, daarna meeste van hul aardse besittings en eiendom in die Chicago vuur van 1871 wat hul finansieel ruïneer. In 1873 stuur hy sy vrou en 4 dogters per boot Europa toe aan boord die ‘SS Ville du Havre’. Hy kry na ‘n paar dae die telegram met die baie bekende boodskap vanaf sy vrou ’alleen gespaar’. Dit is nadat die boot op die vaart sink en sy ander kinders verdrink in die ramp.  Oppad na sy vrou vir bystand skryf hy die lied op dieselfde plek waar sy 4 dogters verdrink het. Die uittreksel van die eerste deel slaan my weereens stom en ek deel dit met jul:

“When peace like a river, attendeth my way,
When sorrows like sea billows roll
Whatever my lot, thou hast taught me to say
It is well, it is well, with my soul”

Ek sit daarna en wonder oor hierdie man, die gebeure van die dag, die lied wat so onteenseglik hard met ons almal gepraat het en die sterk boodskap hierin. Ek vang myself die volgende paar dae dat ek nie kan ophou wonder oor hoe ‘n ongelooflike diep kind van God Horatio Spafford moes wees om nadat alles van hom weggeneem is, steeds hierdie lied te kon skryf nie.  Wie van ons sou dit oorleef, wie van ons sou kon verwoord dat nieteenstaande so ‘n lot in die lewe, alles reg is met my siel en met my verhouding met my Hemelse Vader. Wie van ons aanvaar ons lot soos dit is tans, wat nog te sê van ‘n lot soos Horatio Spafford s’n? Meeste van ons, myself inkluis sou so kwaad vir die lewe en vir God gewees het dat ons heel moontlik sou moed opgee vir  die lewe, net eenvoudig sou gaan lê en nooit weer opstaan nie.  Hierdie man se lot is soveel meer as wat ek myself kan indink en tog het hy deur dit te aanvaar sy doel vir sy lewe bereik. Deur sy lot en God se pad met sy lewe te aanvaar, skryf ‘n Prokureur in 1873 een van die bekendste geloofsliedere op aardse, se woorde. Deur terug te staan en deur die trane te aanvaar die pad wat God met hom wou loop, impakteer hierdie man my lewe 146 jaar later steeds. Hy skryf op ‘n boot in 1873 die afskeidslied van Christi Engelbrecht wat ons in absolute volmaaktheid kon beleef vanoggend. Die ironie van die alles maak my stil en stom en ek kan nie genoeg verwoord hoe groot God is nie.  Deurdat hierdie man hierdie aaklige lot aanvaar het, het Hy ‘n instrument geword in God se hand wat hy nie in sy wildste drome ooit kon sien of voorspel nie.  Soos Christi hierdie lied gekies het omdat dit vir haar so spesiaal was sonder om te weet sy kies dit vir haarself, so gebeur dinge elke dag in ons lewens wat God vir ons kies en ons moet dit net aanvaar.

My uitdaging aan jou as leser vir hierdie komende week, is om diepe selfondersoek te doen en te poog om só te leef dat jy, nieteenstaande jou lot in die lewe, op ‘n eerlike en opregte wyse kan leef en te kan verwoord:’ it is well with my soul!”

Vorige artikelViva die Gees-legkaarte!
Volgende artikelSien probleme as geleenthede
Blogger - Len Fourie
Len matrikuleer in 1992 te Hoërskool Upington en behaal 5 jaar daarna sy Magistergraad in Stads-en Streeksbeplanning (1997) aan die Universiteit van die Vrystaat. Len begin reeds in 1995 as student werk by Macroplan Stads-en Streeksbeplanners in Upington (dieselfde Firma waar hy permanent aansluit as Stadsbeplanner in opleiding einde 1997), na voltooiing van sy M-Graad studies. Len is bevoorreg genoeg om in 2006 Hoof Stadsbeplanner te word en die Firma Macroplan se bestuur oor te neem. Len het ‘n absolute passie vir sy Hemelse Vader wat hom die gawe gegee het om sy talente in die lewe uit te leef, ‘n groot liefde vir sy geboortedorp Upington, sy gemeenskap en die Noord-Kaap Provinsie in geheel. Die aspekte wat Len se hart vinnig laat klop sluit in enige vorm van toer, verkenning van ‘n nuwe plek, nuwe land, hetsy in Afrika of enige land oorsee, die neem van amateur foto’s en veral die bestudering van die klimaat. Die lewe bid soveel skoonheid en hy wil dit vasvang en dit met mense deel.