“ʼn Blink toekoms lê voor”

0
7
farm.png

Die opskrif in gister se koerant het my absoluut getref. Dit lui “’ Blink toekoms lê voor” – daarom dat ek dit net so gebruik het vir vandag se bloginskrywing. Die berig handel oor die Agri Noordwes se Jongboer-konferensie wat in Hartebeesfontein gehou is. Daar was verskeie sprekers en hul boodskap was dat Suid-Afrika nié op ‘n afdraande pad is nie, en dat daar ‘n goeie toekoms en blink geleenthede voor ons deur lê. Dinge wat verkeerd is, kan reggemaak word.

Dit was vir my sommer net lekker om so ‘n positiewe berig te lees. En dit gaan nie daaroor dat ons onsself wil bedrieg  nie. Die realiteit is dat daar regtig vir ons ‘n mooi toekoms voor die deur lê, nie net vir die jong boere nie. Maar sien ons dit raak? Is ons nie geneig om net teen probleme vas te kyk nie?

Hoor net wat sê God in Jeremia 29:11: Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting!

Leef jy met ‘n verwagting vir dit wat mooi is? Dit is dan wat God vir ons beplan!