‘n Brief aan my ma

Elke kind het sekerlik al gehoor hoe hul ma sê: “Jy sal eendag verstaan wanneer jy jou eie kinders het.”

Wel, nou het ek my eie en ek verstaan dinge tog so bietjie meer.

Hoewel my eie kind nog baie klein is, verstaan ek nou die volheid wat mens in jou hart beleef. Vandag, op mamma se verjaarsdag wil ek vir mamma dankie sê:

  • Dankie dat mamma ons kom wys het wie Jesus Christus is, en hoe ons nader aan Hom kan leef.
  • Dankie dat ons mamma kon hoor bid, dit het ons deurgedra en geleer hoe om self by die Here stil te raak.
  • Dankie vir elke keer wat mamma ons tog ‘n drukkie gegee het, al wou ons nie een terug gee nie.
  • Dankie vir elke keer wat mamma nee gesê het, omdat mamma geweet het iets beter wag om die draai.
  • Dankie dat mamma ons geleer het wat geduld is.
  • Dankie dat mamma ons nie toegelaat het om in die middel van iets op te gee nie, en ons aangemoedig het om tot die einde uit te hou.
  • Dankie dat ons kan deel in mamma se kreatiwiteit, en dat ons darem so titseltjie daarvan kon kry.
  • Dankie dat mamma ons geleer het om altyd te help waar ons kan.
  • Dankie dat mamma dinge altyd so passievol aanpak en mamma se hele hart daarin sit.
  • Dankie dat mamma ons kom wys het hoe om ‘n man lief te hê en hom in alles te ondersteun.
  • Dankie dat mamma ons kom leer het dat harde werk op die einde seë
  • Dankie dat mamma ons elkeen se persoonlikheid help vorm het.
  • Dankie dat mamma steeds die een is wie ek wil bel vir raad wanneer ek nie weet hoe om dit te hanteer nie.
  • Dankie vir die respek en liefde wat ons deur ons lewens deur ervaar het, en nogsteeds ervaar.
  • Dankie vir elke diep gesprek waar ons ook moes leer dat die antwoord nie altyd is soos ons dit wil hê
  • Dankie dat mamma elke dag die Vrug van die Gees uitleef.
  • Dankie dat mamma ‘n wonderlike man gekies het. Pappa, dankie dat pappa deur al hierdie dinge gehelp het om ons groot te maak in die vrouens wat ons vandag is.

En laastens, dankie dat mamma en pappa ons elkeen help vorm het, ons elkeen uniek liefhet en ons nooit weggestoot het wanneer ons verkeerde paaie gekies het nie, maar eerder aanhou bid het tot ons weer die regte pad gevind het.

Baie geluk met mamma se verjaarsdag! Mag mamma soveel seën ervaar as wat mamma ‘n seëning vir ander is.

Ons is baie lief vir mamma!