‘n Brief in die pos

Wanneer laas het jy ‘n brief in die pos gekry? Ek praat nie van ‘n bankstaat, Edgars rekening of jou munisipale rekening nie. Ek praat van ‘n brief. Iets wat iemand vir jou stuur met wie jy nie elke dag kan praat nie.

My Pa was ‘n bankbestuurder, so ons het nogal gereeld getrek. Briewe was die enigste manier om in kontak met my maatjies te bly. Telefoonoproeppe was baie duur gewees. Selfone het net ingekom, maar was iets wat net die Dokter en die Prokureur op die dorp gehad het. Ag, en ‘n telegram was dáái tyd uit die mode.

Ek onthou as kind, so ongeveer 20 jaar gelede, was dit vir my ‘n moerse oomblik as ek ‘n brief in die pos gekry het! Die opgewondenheid! Ek kon my oë nie glo nie! Dit was absoluut die hoogtepunt van my dag gewees. My ma sou na skool vir my van die werk af laat weet het dat daar ‘n brief vir my gekom het. Dan het ek die hele middag gewag, en gewag, en gewonder… ek het sommer vir my mooi netjiese klere aan getrek, en my bos hare probeer kam. My kop was die hele middag by die brief… watter maatjie het dit gestuur? Is daar ‘n prentjie in? Wat staan in die brief?

Uiteindelik as my ouers by die huis gekom het, het ek dadelik my ma se handsak aangeval opsoek na my brief. Ek probeer die handskrif uitpluis…wie het dit gestuur? Dan sal ek alleen na my kamer toe gaan, en soos ‘n wafferse dame op die bed gaan sit en die koevertjie oopmaak.

Volgende, baie belangrike stap: Kyk hoeveel bladsye is die brief. Hoe meer bladsye, hoe meer nuus!

Volgende stap: bekyk die papier. Ons het altyd vir mekaar op sulke gekleurde blommetjie – papier geskryf.  Ek sal dan die brief oor en oor lees om seker te maak ek het alles raak gelees, en die nuus vir my ma gaan gee. Die brief word uiteindlik by al my ander briewe gebere, en word vir dievolgende 2 dae ten minste een keer ‘n dag gelees. Ek spring dadelik aan die skryf. Ek moet mos terug laat weet!

Liewe Alet,

Baie dankie vir jou brief…

My Ma moet weer bode speel en die brief asseblief môre gaan pos. Nie die dag daarna nie! Môre! So het ons klom kinders onder mekaar geskryf.

Toe word telefoonoproeppe goedkooper, en Selfone begin raak meer algemeen. Dan het ons smse van ons ouers se fone af vir mekaar gestuur, want skryf was to skielik so boring. Verjaarsdae en Kersfees het gekom, en so het ons kinders selfone begin kry, en direk met mekaar gepraat. Eers net een keer ‘n week gesms, want die sakgeldjies was min en airtime was duur. Iewers het Mixed ingesluip, en nog ‘n hele paar ander maniere om boodskappies oor die selfoon te stuur. Die briewe het minder geword in die pos, en later jare het E-posse meer algemeen geword. As jou ouers ‘n E-pos adres gehad het was hulle amper net so cool soos die rykste oom op die dorp! Amper!

Toe ons weer ons oë uitvee, het E-posse, watsup, Skype, Facebook en Twitter die wêreld oorgevat. Al wat nou in die pos kom, is ‘n paar venster-koevertjies met hier en daar ‘n rekening in, advertensies en iemand wat een of ander nuwe diens in die dorp lewer, en ‘n brief van die ontvanger van inkomste af.

Ek raak nie naastenby so opgewonde oor ‘n watsup of E-pos soos wat ek oor ‘n brief geraak het nie. Ek gaan haal nog soms pos uit, en kyk dan nogsteeds vinnig of daar nie een of ander onbekende koevertjie in die pos is nie, maar niks… Nie eers meer trou uitnodigings nie. Dit kom ook deesdae met die nuwe tegnologie aan.

Ek dink as ek vandag ‘n brief vir my Ma of my vriendinne stuur gaan hulle dink ek is heel kens. Het jy teveel wyn gedrink?  Nee, ek mis net ‘n brief in die pos!

###Pandora###