’n Brug om te bou oor al jou vrese   

Is jy bang? Loop jy elke dag met ’n stuk vrees in jou rond? Wonder jy wat aan die einde van die maand gaan gebeur? Vrees jy die ergste?

Ons kan slegs oor daai brug wat ons oor die vrees gebou het, loop as ons besef hoe groot God se liefde vir ons is. Met ’n hoop vreugde het Hy die kamers daar bo in die hemel ingestap en elkeen se bed opgemaak. Met ’n lied in sy hart het Hy jou naamkaartjie ingeskuif en jou sjokoladetjie op die opgemaakte bed neergesit. God sien so uit na jou koms. Dit is sy liefde vir jou.

Dink jy nou dat dié God met al sy liefde van jou sal vergeet? Vir seker nie! Daarom, sê Jesus, kan jy nou maar jou bangheid dat die “monster” jou gaan vang, uit jou kop skuif. God is in beheer, al lyk jou lewe buite beheer. God het ’n goeie einde vir jou in gedagte, al lyk dit vir jou of jy ’n afgrond in die oë staar. God sal sorg, al lyk die wolke donker. Hoor mooi wat hier staan: God sal vir jou sorg. Daarom kan jy nou maar jou tassie vol bekommernisse vat en net so vir God gaan gee.

Hoor hierdie fantastiese getuienis van ’n Kruispadleser. Ons noem haar Annie:

Ek het self deur ’n donker diep pad gegaan waar ek ook so moedeloos was en God baie maal beskuldig het vir my situasie. Ek het letterlik dag en nag gebid vir uitkoms en vir antwoorde: Jaar in en jaar uit. Op ’n dag, terwyl ek besig was om te bid, het ek die Here se stem baie duidelik met my hoor praat en Hy het gesê: “Wanneer gaan jy nou ophou om my voor te skryf en na my wil vra?” Ek was letterlik tot stilstand geruk en het skielik besef dat ek eintlik die Here voorskryf met al hierdie vrae en gebede. Ek het dadelik vergifnis gevra. Daarna het ek my probleme een vir een fisies in ’n denkbeeldige boks gepak en dit boontoe aangegee en gesê: “Here, nou besef ek dat ek niks aan my probleme kan doen nie, neem dit asb. en doen soos U goed dink.” Ek het elke oggend weer al my probleme in die denkbeeldige boks gepak en dit aan Hom oorgegee en gesê: “ Hier is my pakkie Here, hanteer dit asb. vandag vir my.” Na presies ’n maand het die deurbraak gekom en het Hy dit opgelos. Dis nou al 11 jaar later en ek is geweldig gelukkig en geseënd deur ons Hemelse Vader.

Dalk het dit tyd geword dat jy ook besef dat God jou baie lief het en dat Hy in beheer is – al lyk dit nie so nie. Dalk moet jy ook soos Annie maak en élke oggend jou bekommernisse in jou tassie pak en aangee boontoe. Dalk moet jy net vertrou en oor die brug stap.