’n Fontein van genot

0
14
liefde_met_passie.jpg

Jy het tog self ’n vrou, jy het tog self ’n put met water: drink die strome uit jou eie fontein. Moet jou fonteine dan ook die wêreld vol loop, jou strome water oral heen vloei? Hulle is tog net joune, en jy sal hulle nie met ’n ander wil deel nie.  Sing die lof van jou eie fontein, verheug jou oor jou eie vrou,  so vol liefde, so mooi soos ’n takbok, soos ’n ribbok. Geniet voluit van haar liefkosings, laat dit jou deurentyd bedwelm. Waarom sou jy jou laat bedwelm deur ’n slegte vrou, my seun, waarom sou jy in die arms van ’n ander vrou gaan lê? ’n Mens se lewe lê oop voor die Here, elke tree wat jy gee, sien Hy. Die oortreding van die goddelose agterhaal hom, hy draai hom vas in sy sonde. Hy sterf deur sy gebrek aan selfbeheersing, sy dwaasheid het hom op die verkeerde pad gebring.

 (Spreuke 5:15-23)

Die raad wat die skrywer hier gee, is nie net vir getroude mense bedoel nie. Ook die ongetroude persoon kan baie baat hierby vind.

Water in ’n droë land

Om die impak van hierdie beeld behoorlik te begryp, moet ’n mens ’n bietjie kennis hê van die Bybelse lande. Dit is baie droog in daardie dele, en water was skaars. Die mense het natuurlik nie krane in hulle huise gehad nie. As daar enigsins ’n waterbron was, soos ’n oase of ’n fontein, het daar baie gou ’n nedersetting daar rondom ontstaan. In so ’n droë en dorre gebied was water ’n heerlike lafenis vir enige dorstige mens. Daarom het water ook baie gou tot ’n belangrike simbool ontwikkel. In hierdie gedeelte vergelyk die skrywer die seksuele genot wat die vrou aan haar man bied, met die verfrissing wat ’n mens ervaar wanneer jy water uit ’n put of fontein drink.

Die woord “put” wat hier gebruik word, verwys na die wateropgaarplek wat die Bybelse mense gemaak het om reënwater wat afloop, op te vang. Hierdie opgaarplekke het natuurlik net stilstaande water bevat, daarom gebruik die skrywer ook varser water as beeld te gebruik, naamlik die vloeiende water uit ’n fontein. Die belangrike klem in hierdie vers is egter die woorde “jou eie fontein”. Die man moet nie rondloop nie, maar hierdie genot slegs by sy eie vrou soek. En die genot wat sy hom bied, kan hy behoorlik indrink.

Vers 16 stel ’n vraag: “Moet jou fonteine dan ook die wêreld vol loop, jou strome water oral heen vloei?” Dit is baie duidelik dat die antwoord op hierdie vraag bedoel is om ’n baie besliste nee te wees. Dít mag nie gebeur nie. Maar teoloë verskil nogal oor die interpretasie van hierdie vers. Sommige reken dat hierdie vers (en ook vers 17) na die man se ontrouheid in die huwelik verwys. Die fonteine wat die wêreld vol vloei, verwys na sy saad wat hy in seksuele verhoudings buite sy huwelik stort. Maar dit lyk tog of die meeste Skrifverklaarders meen dat hierdie vers eerder na die vrou se huweliksontrou verwys.

[pagebreak]

Hulle baseer hulle standpunt daarop dat hierdie deel in Spreuke baie ooreenkoms met die antieke liefdespoësie vertoon. In daardie soort poësie was dit algemeen om die seksuele genot wat die vrou haar man bied, te vergelyk met die genot van heerlike vars water. In Hooglied 4:12en15 word die vrou eweneens as ’n fontein of ’n put met borrelende water beskryf.

Die vraag is ook hoe ver hierdie beeld se toepassing strek. Daar is geleerdes wat glo dat “die strome wat oral heen vloei” nie ’n onskuldige simbool is nie. Dit kan dalk ook verwys na die afskeiding van ’n vrou wanneer sy seks het. Haar vagina is die fontein waaruit die strome vloei. In vers 17 sê die outeur dat geen man tog hierdie “fonteine” van geluk wat sy vrou hom bied, met enigiemand anders sal wil deel nie.

Lê by jou eie vrou

Vers 18 en 19 bevat ’n ondubbelsinnige opdrag aan die man: hy moet sy eie vrou waardeer en haar geniet. Sy is so mooi en aantreklik soos ’n takbok en ’n ribbok. Soos in Hooglied is hierdie beelde nie staties nie. Dit gaan nie net oor die uiterlike vorm van die bokke wat ooreenkomste met die vrou vertoon nie. Die skrywer sinspeel waarskynlik op die bokke se beweeglikheid, hulle grasieuse huppel en spring deur die veld. In Hooglied 4 vergelyk die minnaar mos die “springerigheid” (die op en af bewegings) van ferm, jong borste met bokkies wat oor die veld hardloop en spring! Dit is ’n baie erotiese beeld vol dinamika. Hierdie vrou word as dartelend aanvallig voorgestel.

Die skrywer gee nog raad aan die man: “Geniet voluit van haar liefkosings.” Die Hebreeuse woord wat hier met “liefkosings” vertaal is, kan egter ook met “borste” of “tepels” weergegee word. Dit is nogal interessant om te sien hoe Bybelvertalings probeer om die seksualiteit in die Bybel “weg te vertaal”. Die Good News Bible, byvoorbeeld, vertaal hierdie vers met: “Let her charms keep you happy”. Die betekenis van die woord “charms” is darem ver verwyder van betekenisse soos “borste” en “tepels”.

In vers 20 word daar weer ’n sterk beroep op die man gedoen om getrou te wees aan sy huweliksmaat. Maar hierdie vers praat ook met die ongetroude man aan. Ook hy kan soms deur sy optrede iemand anders se huwelik laat verbrokkel.

Die rede waarom die Bybelse skrywer die leser hier vermaan om die grense van die huwelik te bewaar, lê in vers 21: “’n Mens se lewe lê oop voor die Here, elke tree wat jy gee, sien Hy.” Niemand moet dink dat hy of sy kan wegkom daarmee as hulle ontrou is aan hulle huweliksmaat nie. Sulke optrede lei altyd tot groot hartseer. Daarom sê die skrywer in vers 22 dat as ’n mens verkeerd doen, jy “jou vasdraai in jou sonde”.

In ons samelewing beleef ons dit daagliks dat mans en vrouens mekaar laat staan omdat hulle huwelik vaal, vervelig en onaangenaam geword het. Hulle gaan soek dan elders opwinding en plesier. In hierdie Bybelse gedeelte sien ons dat God nie wil hê dat ons ontrou aan mekaar moet word nie. Maar dit bevat ook sterk positiewe riglyne oor hoe elke getroude paar vir die res van hulle lewe bevrediging en kameraadskap by mekaar moet vind. Elkeen moet probeer om sy en haar huweliksmaat volkome gelukkig te maak.

DEEL
Vorige artikelNuutgemaak!
Volgende artikelWAT is gebed?
Geniet 'n eersteklas- aanlyn wêreld met dieselfde warm gevoel van 'n lekkerlees tydskrif.