’n Gesonde besigheidsplan

0
102
marietjie_shepard.jpg

Marietjie Shepherd stap al ’n lang pad saam met La Ferm. Vandag verstaan sy wat goeie besigheidsbeginsels is.

Dis 1984 in ’n ontspanningsaal in Witbank. Gerda en haar vyfjarige kleindogter (dis nou ek!) staan op ons oefenmatte voor ’n skare vroue. So begin ons ons gesonde waardes en leefstyl uitleef – vir vier geslagte lank al. LA FERM ontstaan in 2008 toe ek saam met my ouma ’n oefen-DVD maak. Later word dieetkundige Izette Faul ’n vennoot, want geen oefenplan kan sonder ’n gebalanseerde eetplan suksesvol wees nie.

By LA FERM wil ons kliënte help om ’n gesonde leefstyl aan te neem waarmee hulle lewenslank kan volhou. Die grootste uitdaging wat ons het is om mense te laat besef daar is nie iets soos ’n quick fix nie. Ongelukkig val baie mense vir die maatskappye wat kitsoplossings belowe. Die leefstyl wat LA FERM nastreef is ’n gesonde en energieke een met ’n positiewe uitkyk op die lewe.

Al beperk dit ons mark is ons DVD’s en ander produkte hoofsaaklik in Afrikaans. Ons glo wel dat God dit so bestem het dat ons mense in Afrikaans moet bedien. Tot dusver is dit ’n groot sukses en baie bevredigend. Nog iets wat LA FERM sy kliënte waarborg, is om hulle van wetenskaplik-gebaseerde inligting te voorsien. Die gesondheidsindustrie ontwikkel daagliks. Ons bly dus innoverend deur gereeld navorsing te doen om aan ons kliënte die beste advies te gee om gesond en jonger te bly.

Tegnologie is ’n fantastiese hulpmiddel om hierdie kennis te deel. Deur sosiale media gee ons aan ons kliënte – of dit nou individue of besighede is – inligting vinnig en maklik deur. Almal van ons is baie besig en persoonlike kontak is nie altyd moontlik nie. Daarom is ons webwerf en aanlynwinkel so ontwerp om baie gebruikersvriendelik te wees met ’n goeie beskrywing van ons produk en dienste. Vinnige reaksie op navrae en bestellings is een van die eienskappe waarop ons trots is.

Gaan loer gerus na www.laferm.co.za.

Kliënte is egter beslis nie net vir ons nommers nie. Tydens ons ekspo’s en praatjies kry ons die geleentheid om gesigte by produkte, telefoonnommers en eposadresse te plaas. Ons wil nie net fisiek nie, maar ook emosioneel en geestelik ’n verskil in mense se lewens maak. Deur anders oor jou liggaam, kos en oefening te dink, verwesenlik kinders van God die Skepper se doel met hulle lewens.