’n Gesteelde uurtjie in die veld

0
14
liefde_met_passie.jpg

Sy:
Hooglied hoofstuk 7
“Ek behoort aan die man
   wat ek liefhet
en dit is na my dat hy smag.
Kom, man wat ek liefhet,
   kom ons gaan veld toe,
kom ons gaan slaap in die dorpies;
ons gaan vroeg smôrens
   na die wingerde toe,
ons gaan kyk
   of die wingerdstokke bot,
of die botsels oop is
en die granaatbome bloei.
Daar sal ek my liefde vir jou gee.
“Die liefdesappels versprei
   hulle geur;
daar is allerlei keurige vrugte
   by ons deur,
   vars en oud;
ek het hulle vir jou gebêre,
   man wat ek liefhet.

Hooglied hoofstuk 8
 Was jy maar my broer!
   Het jy ook maar aan my ma gedrink!
Dan het ek jou gesoen
   as ek jou in die straat kry
en niemand sou my
   daaroor kwalik geneem het nie.
Dan het ek jou saamgevat
   en na my ma se huis toe gebring
en het jy my daar
   die kuns van die liefde geleer.
dan het ek jou laat drink
   van my kruiewyn,
van my granaatsap.
“Sy linkerarm is onder my kop,
sy regterarm omhels my!
Ek smeek julle, vroue van Jerusalem,
wat is dit dat julle
   die liefde wakker maak en aanvuur
voordat die tyd daarvoor ryp is?”
(Hooglied 7:10-8:4)

In hierdie pragtige liefdesgedig nooi die vrou haar geliefde uit om ’n gesteelde uurtjie saam met haar in die veld deur te bring. Watter verliefde paartjie weet nie hoe lekker dit is om saam in ’n tuin of veld te wandel nie! En dan is dit nog lentetyd ook, want hulle gaan kyk “of die wingerdstokke bot, of die botsels oop is en die granaatbome bloei” (7:12). Hierdie vrou kies haar plek en tyd goed, want waar kan jy ’n meer romantiese atmosfeer hê as juis tussen die plante en blomme in die veld met ’n lekker lente-atmosfeer.

’n Soet belofte

Die man het ’n goeie vooruitsig, want sy beloof hom reguit ­– sonder om ’n ompad te loop – dat sy daar vir hom haar liefde sal gee (in die Griekse en Latynse Ou Testament staan dat sy haar borste daar aan hom sal gee). Eintlik het sy alreeds gesuggereer dat sy daar in die veld haar liefde/borste vir hom sal gee, toe sy van die “wingerde en granaatbome” (7:12) gepraat het. Die digter van die liefdesliedere in Hooglied vergelyk dikwels seksuele genot met die plesier wat ’n mens verkry wanneer jy lekker vrugte eet. Die digter van Hooglied speel dus met woorde. Aan die een kant neem die vrou haar beminde na ’n tuin sodat hulle daar hulle liefde met mekaar kan deel. Aan die ander kant word sy self ook die tuin wat al hierdie genotvolle vrugte (seksuele plesiere) aan haar man bied.

[pagebreak]

Die liefde tussen hierdie man en vrou is wedersyds. Daarom kan die vrou sê: “Ek behoort aan die man wat ek liefhet en dit is na my dat hy smag.” Hierdie woorde herinner sterk aan Genesis 3:16 waar Eva gestraf word deur ondergeskik gemaak te word aan haar man: “Na jou man sal jy hunker, en hy sal oor jou heers.” Dit is juis deur Eva se hunkering na Adam dat Adam die oorhand oor haar verkry. In hierdie liefdeslied in Hooglied, daarenteen, word feitlik presies die teenoorgestelde gesê, naamlik dat die man na die vrou hunker: “dit is na my wat hy smag” (7:10). Die man se passie vir die vrou is so sterk dat sy hom eintlik geheel en al oorheers, en hy is die een wat aan haar ondergeskik word. Sy is nie net die sterker persoon nie, maar die liefde word ook in hierdie lied absoluut vanuit haar perspektief beskryf. Dit is verder die vrou wat al die inisiatief aan die dag lê wanneer sy die man uitnooi na ’n geheime afspraakplek in die veld.

Middagslapie tussen die blomme

Haar uitnodiging “kom ons gaan slaap in die dorpies” (7:11), kan ook vertaal word met “kom ons gaan slaap tussen die hennablomme”. Om die waarheid te sê, so ’n vertaling maak eintlik baie beter sin as die weergawe van die NAV, want die twee verliefdes is juis in die veld. ’n Mens gaan tog nie veld toe om in die dorp te gaan slaap nie, maar veel eerder om in die natuur te wees. Hierdie twee verliefdes wil sommer daar in die veld tussen die blommetjies slaap. Dit laat ons weer dink aan Hooglied 1:16-17, waar ons van ’n “huisie in die natuur” lees met ’n bed van groen blare. Watter romantiese omstandighede is dit nie!

Liefdesappels en ander vrugte

Terwyl hulle daar in die veld is, ruik hulle die soet geur van die liefdesappels (7:13). Hierdie vrugte is gebruik om die geslagsdrang aan te wakker. Die liefdesappelplant het twee of drie dik wortels wat gevurk of inmekaar gevleg is. Dit het die antieke mens aan manlike en vroulike geslagsorgane en die seksdaad laat dink, en dit is moontlik die rede waarom hierdie plant se vrugte later as ’n seksopkikker gebruik is. Ons lees in die antieke geskrifte dat selfs diere op hitte geraak het as hulle van hierdie plant geëet het. Hierdie vrou maak dus nie ’n onskuldige opmerking as sy praat van die lekker geur van die liefdesappels wat daar in die lug hang as hulle saam in die veld is nie.

Dan voeg sy by dat “daar allerlei keurige vrugte by die deur is, vars en oud” (7:13). Weer moet ons “vrugte” hier opneem as beelde vir al die seksuele genietinge wat sy aan haar beminde wil gee.

[pagebreak]

Boonop lê hierdie lekker vrugte (seksuele plesiertjies) sommer “by die deur” – dit wil sê dit is binne die bereik van hulle tweetjies. Hulle kan dit geniet, want dit is alles daar tot hulle beskikking.

Hierdie “vrugte” is verder “vars en oud” (7:13). Daarmee herinner sy haar beminde dat sy ou bekende plesiertjies aan hom wil verskaf, maar dat sy ook met allerhande nuwighede na vore gaan kom. Hierdie man het inderdaad baie om na uit te sien! Ander geleerdes glo weer dat die “vars en ou vrugte” verstaan moet word as die totaliteit van al die seksuele genot wat hierdie vrou aan haar geliefde wil bewys.

Alles net vir jou!

Dit was darem nog altyd lekker vir enige man om uit sy vrou se mond te hoor dat sy hope seksuele genot aan hom wil bied, en veral as sy nog byvoeg: “ek het dit net vir jou gebêre, man wat ek liefhet” (7:13). Sy wil alles gee, maar sy wil dit net vir hom gee, en sy het dit ook nog nooit met enigiemand anders gedeel nie. Dit is ook nie al nie, sy beplan sommer ook ’n lekker plek en tyd en omstandighede waar sy dit vir hom gaan gee. Hierdie meisie het geen teruggetrokkenheid in haar as dit by seksuele sake kom nie. Sy neem die voortou en lei haar geliefde in allerlei seksuele genietinge in.

Baie geleerdes reken dat hierdie liefdeslied net hier (aan die einde van hoofstuk 7) eindig. Ander reken egter dat die eerste vier verse van die volgende hoofstuk deel uitmaak van hierdie selfde gedig. Daar is nogal goeie redes vir so ’n moontlikheid, en daarom is hierdie vier verse ook hierbo aangehaal as deel van die lied. Ten einde hierdie redes te verstaan, moet ons net eers na een probleem kyk.

Ek wil jou oral mag soen!

Die vrou spreek in vers 1 haar begeerte uit dat haar beminde haar broer was sodat sy hom selfs in die straat sou kon soen. Dit lyk tog snaaks as ’n vrou wat soveel seksuele aanloklikhede aan haar geliefde gebied het, nou skielik wens dat haar beminde eerder haar broer was. In ’n broer-suster verhouding kan daar tog nie van seks sprake wees nie. Een van die moontlike verklarings hiervoor kan wees dat hierdie verliefde paartjie uit ’n samelewing kom waar dit as ongehoord beskou is as ’n man en vrou in die openbaar enige vorm van liefde teenoor mekaar bewys het (vgl. Spr. 7:13). Ja, daar het regtig sulke gemeenskappe in die Ooste bestaan. Die enigste vorm van toegeneëntheid wat wel toegelaat was, was dié tussen ’n broer en ’n suster. Maar dit het selfs nie gegeld vir toegeneëntheid tussen ’n halfsuster en halfbroer nie. Hulle moes volle broer en suster wees – daarom voeg die vrou by: “het jy ook maar aan my ma gedrink!” (8:1)

[pagebreak]

Met hierdie inligting in gedagte, kry die totale lied skielik betekenis. Hierdie vrou het haar beminde ontsettend lief, en sy wil hom net soen en soen en soen. Daar in die veld het sy hope geleentheid gekry, maar sy wil dit oral en altyd doen – ook in die openbaar. Daarom wens sy dat haar beminde haar broer kan wees sodat sy hom sommer net kan gryp en soen elke keer as sy hom sien, selfs in die openbaar en in die straat. Sy voeg derhalwe ook by “en niemand sou my daaroor kwalik geneem het nie” (8:1). Ja, haar liefde vir hom moet so in die oopte kom dat sy hom sommer ook na haar ouers se huis wil neem en daar by wil hom wil slaap (8:2).

Nou kan ons sien dat die eerste vier verse van hoofstuk 8 inderdaad met die laaste verse van hoofstuk 7 saamgaan en een liefdeslied vorm. In die eerste gedeelte word die liefdespel in die veld gespeel tussen die hennabosse en ‑blomme. Sy soek intimiteit en privaatheid waar sy hom al haar liefde kan gee. Die tweede helfte van die lied speel af in die straat en in haar ouers se huis. Sy het haar man so lief dat sy absoluut oral vir hom van haar liefde wil gee: in die veld, in die straat en in haar ouers se huis.

In my ma se huis

Eintlik praat sy nie van haar ouers se huis nie, maar van haar “ma” se huis (8:2). Die rede hiervoor is moontlik ook eroties. Dit is juis die ma wat deels verantwoordelik was om ’n dogter die “eerste kunsies” van die seksuele ervaring te verduidelik. Maar sy voeg by dat sy daar in haar ma se huis die verdere kunsies van intimiteit weer van haar man wil leer (8:2).

Sy beloof dat sy haar geliefde daar in haar ma se huis “sal laat drink van haar kruiewyn en van haar granaatsap” (8:2). Dit is weereens beelde vir die seksuele genot wat sy aan haar beminde wil bied. “Kruiewyn” is moontlik hier, net soos op ander plekke in Hooglied (1:2; 7:9), simbool van soene. Sy gaan hom laat verdrink in al haar soene wat so soet soos wyn is! Sommige geleerdes meen dat wanneer sy sê dat sy hom van haar “granaatsap” gaan laat drink, sy na haar borste verwys. Haar borste word as granate voorgestel waaraan haar geliefde suig. Dit is ook waarom sy van haar granaatsap praat.

Moenie ons pla nie!

Die hoogtepunt van al hierdie liefkosings loop uit op seks. In vers 3 maak die paartjie gereed vir die geslagsdaad: “sy linkerarm is onder my kop, sy regterarm omhels my!” En wanneer dit gebeur, wil die vrou deur niks en niemand gesteur word nie.

Daarom, wanneer haar geliefde sy arm bo-oor haar gooi, roep sy uit na die vroue. Die betekenis van haar uitroep sal beter verstaan word as ons die Good News Bible se weergawe van vers 4 aanhaal, eerder as die NAV wat ons hierbo gegee het:

[pagebreak]

“Promise me, women of Jerusalem, that you will not interrupt our love.” Sy sê dus dat sy nou by haar geliefde wil lê en dat niemand haar moet kom pla nie. Dit is amper soos daardie “Moenie steur nie”-bordjie wat ’n verliefde paartjie aan die knop van die hotelkamer se deur hang.

Hier eindig die liefdesgedig van die boek Hooglied. Verder vertel die digter ons niks meer nie. Ons weet mos nou wat hierna gaan gebeur. Wat ’n pragtige lied oor ’n geheime afspraak tussen twee verliefdes! Watter inisiatief lê hierdie vrou nie aan die dag nie! Beide in die veld, en in haar ouerhuis, het haar inisiatiewe vrugte opgelewer. Die gesteelde uurtjies wat sy beplan het, was toe al die tyd die moeite werd.

Kan dit alles “geestelik” wees?

Om hierdie gedeelte as enigiets anders as ’n lied oor die liefde van ’n dolverliefde paartjie te beskou, is ’n verkragting van die teks. Maar deur die eeue heen het Christene probeer wegskram daarvan om te erken dat die Bybel ook oor aardse en seksuele liefde praat. Dan het hulle allerhande geestelike interpretasies aan hierdie verse gegee, want “die Bybel sal nie oor sulke ongeestelike goed praat nie”. Oor sommige van hierdie verklarings kan ’n mens regtig nie help om te glimlag nie. Dit verskaf eintlik groot pret om te kyk met watter vindingryke voorstelle Christen Bybelverklaarders na vore gekom het. Kom ons kyk net na ’n paar voorbeelde.

As die vrou haar man die veld toe nooi (7:11), is dit verklaar as die kerk wat Christus na die wêreld toe nooi om sy boodskap hierheen te bring. Die “botsels wat in die veld oopgaan” (7:12), is gesien as die geloof wat besig is om te bot en wat op vrugte uitloop. Die liefdesappels wat ’n heerlike geur versprei (7:13), is beskou as die lieflike boodskap van die Here wat deur die apostels versprei is. Die woorde “drink aan my ma” (d.w.s. “suig aan twee borste”) beteken om aan hemelse waarhede te drink wat uit die twee Testamente kom, naamlik die Ou en Nuwe Testament (8:1). Dit kan ook beteken om te drink aan die twee liefdesgebooie, naamlik die liefde vir God en die liefde vir die naaste. Die feit dat sy haar broer na haar ma se huis neem, beteken dat die kerk vir Christus na die sinagoge wil neem (8:2).

Hierdie is net enkele van Christene se pogings om weg te kom van die letterlike betekenis van die romantiese liedere van Hooglied. Maar kom ons aanvaar ’n slag die liedere van Hooglied soos dit oorspronklik bedoel is: liefdesliedere, of nog beter, erotiese liedere.

DEEL
Vorige artikelNuutgemaak!
Volgende artikelWAT is gebed?
Geniet 'n eersteklas- aanlyn wêreld met dieselfde warm gevoel van 'n lekkerlees tydskrif.