“’n Gewas verdiep my geloof”

Pieter Naude

Sanger Pieter Naudé was ’n bok vir sports. Hy was nie iemand wat hom aan geloof gesteur het nie, tot daardie dag in die dokter se spreekkamer…

By ’n konsert het ek my baadjie oor ’n biervaatjie agter op die verhoog gehang. Ná die vertoning het ek dit weer aangetrek. Niksvermoedend. Wie sou kon dink dat dit die begin was van ’n ketting van gebeure wat alles sou verander?

Later die aand het ek baie sleg begin voel. Ek was koorsig en het ’n verskriklike hoofpyn gehad. Dit was maklik om dit af te maak as ’n verkoue of griep.

Die volgende oggend was my tong en mond baie seer. Die klankman wou weet waar die bloed om my mond vandaan kom. My skouers het ondraaglik gepyn. Eers tóé het daar vraagtekens ontstaan.

In die hospitaal op Upington het die medici dadelik met antibiotika begin. Kleinsus Juanita (du Plessis) het egter daarop aangedring dat ek na ’n groter hospitaal in Pretoria oorgeplaas moes word.

Daar het ’n wakker spesialis die bytmerk opgemerk. Die legkaartstukkies het die een na die ander inmekaar begin pas.

’n Giftige spinnekop het die aand van die konsert in die baadjie ’n lêplek gaan soek en my op die arm bygekom.

Die gif het daardie nag stuiptrekkings veroorsaak. Dit was só erg dat ek my tong stukkend gebyt, een skouerknop gebreek en die ander een gekraak het!

Dis tóé dat die neurochirurg dit sien – ’n graad 2- kwaadaardige gewas op die brein. Hulle moes vinnig speel. Hoe gouer dit verwyder kon word, hoe beter was die kans op herstel.

Almal het my geken as ’n happy-go-lucky ou. Daardie dag was die keerpunt wat alles verander het. Baie dinge maal deur ’n mens se kop as jy sulke nuus kry.

Dit het gevoel asof die hele wêreld in duie stort. Wat sou van my vrou en kinders word? Kop op die arms het ek net daar op die dokter se lessenaar gaan lê.

Die hele familie was in ’n oogwink daar om ons te kom ondersteun en saam met ons die behandelingsopsies te bespreek.

Ek het nie saamgepraat nie. Net binnetoe gekyk en vurig begin bid en met Hom gepraat soos nog nooit tevore nie.

Ná ’n ruk het ’n onuitspreeklike kalmte die kamer gevul. Daar was duidelikheid oor wat moes gebeur.

Die operasie is ’n paar weke later gedoen. Ek is met ’n Blou Bul-slaapbroek in die teater ingestoot – as iets sou gebeur, sou dit darem in my gunstelingslaapbroek wees! Baie benoud, maar steeds met ’n humorsin.

Ek het ná die operasie wakker geword (sonder die Blou Bul-broek!) en die goeie nuus gekry dat dit ’n groot sukses was. Sowat 95% van die gewas kon verwyder word. En tot vandag toe wys die toetse geen verdere kwaadaardige groei nie.

Dis nou al ’n paar jaar sedert die operasie en steeds waardeer ek die klein dingetjies. Ons meisiekinders se gelag, my vrou se liefde, die gras, die reën en die wind vul my met verwondering en dankbaarheid.