’n Gladde lyf in ’n japtrap

0
232
gladde_bene.jpg

Die metode wat jy gebruik om van ongewenste hare ontslae te raak, hang af van die area wat jy wil behandel. Hier is van ons gunstelingmetodes vir jou gesig, onderarms, bikinilyn en bene.

Gesig

PLUK Bekyk jou wenkbroutangetjie van naby. Pas die punte presies teen mekaar wanneer jy dit toeknyp? Indien nie, of as dit nie gemaklik ’n haartjie vasgryp nie, is dit tyd om in ’n goeie tangetjie te belê. So ’n tangetjie is elke sent werd, want dit knyp haartjies die eerste keer vas en sal nie jou hand moeg maak as jy fyn werk doen nie. Moet net nie die tangetjie selfs een keer laat val nie, want dan is dit klaarpraat met hom.
WENK Koel die area waar jy wil pluk met ’n blokkie ys af. Of smeer ’n verdowende salf wat jy by die apteek oor die toonbank kan koop, vooraf aan as jy kleinserig is.
GEBRUIK Tweezerman Limited Edition Isaac Mizrahi Collection (R450) by Dis-Chem.

Onderarms

ROOM Die nuwe haarverwyderingsrome wat jy in die stort kan gebruik, is supergerieflik. Jy mors nie en daar is nie so ’n erge nare reuk wat in die lug hang wanneer jy haarverwyderingsroom gebruik het nie. Die hare en room spoel gewoon in die drein weg sodra jy dit met die growwe handskoen afvee wat by die verpakking ingesluit is. Onthou dat die rome slegs veilig is vir gebruik op jou arms en bene, maar nie op jou gesig of privaat dele nie.
ONTHOU Maak seker jou vel is heeltemal skoon, sonder seep of ander lyfroom, voordat jy die haarverwyderingsroom aansmeer, anders sal die hare nie eweredig verwyder word nie.
GEBRUIK Mandy’s In-Shower Hair Removal Cream (R65,99) by Clicks, Dis-Chem, Shoprite Checkers, Pick n Pay, Spar en apteke.

Bikinilyn

WAKS Vir diegene met ’n hoë pyndrumpel bly dit die beste manier om jou vel op lang termyn glad te hou. Skrop jou vel met ’n afskilferingsroom en bevogtig dit ’n paar dae voordat jy jou waksbehandeling doen, sodat die waks nie aan jou vel vasklou en seerder maak nie. Gebruik altyd ’n strelende olie na die waksbehandeling om rooiheid te verminder en velirritasie te verhoed.
ONTHOU Moenie waks gebruik direk voor of tydens menstruasie of as jy ’n babelaas het nie, want jou liggaam is dan meer sensitief as gewoonlik.
GEBRUIK Nair Soothing Body Wax Strips (R69.99) by kettingwinkels.

Bene

HAARVERWYDERINGSAPPARAAT As jy gemaak is vir spoed, gerief en om haarverwydering pynloos te hou, behoort jy ’n haarverwyderingstoestel vir jou lyf te hê. Dit is ontwerp om hare te verwyder sonder om jou seer te maak. Die handstuk is van hipoallergeniese materiale om velirritasie te verhoed en jy kan die toestel in water was om higiëne te verseker.
ONTHOU Dit help as jou vel silwerskoon en heeltemal droog is voor jy die apparaatjie gebruik. Dit maak dit makliker vir die meganisme om hare van jou veloppervlak af weg te lig en af te sny.
GEBRUIK Philips SatinSoft Wet&Dry Epilator HP6519 (R699) beskikbaar by Clicks, Dis-Chem en Dion Wired.

Geskryf deur Ryno Mulder