’n Gladder nek en hals

0
1333

Die vel van jou décolletage moet net so mooi opgepas en versorg word soos jou gesig. Hoe gemaak as dit reeds tekens van ouderdom begin toon?

Dis noodsaaklik om skade te voorkom

Die son is net so sleg vir jou nek en hals soos vir jou gesig; tog gee ons minder aandag daaraan. Dan lyk hierdie dele van ’n vrou dikwels voor haar gesig oud.

Die belangrikste manier om skade en veroudering hier te voorkom, is om daagliks sonskerm met ’n SPF 30 tot 50+ op die area te gebruik. Dra ook ’n breërandhoed wat nie net jou gesig bedek nie, maar ook jou nek, skouers en bors-area.

Moet nooit toelaat dat hierdie dele rooi brand nie. Sonblootstelling lei tot plooie en pigmentasie, en laat die vel eenvoudig ouer lyk.

Vermy parfuum aan jou nek

Moenie parfuum spuit op die dele van jou lyf wat aan die son blootgestel word nie, sê Stephnie-Anne Dickinson, velsorgspesialis van Optiphi. “Parfuum bevat alkohol en as dit aan die son blootgestel word, kan dit pigmentasie veroorsaak, want dit maak die vel meer sensitief vir lig.”

Wend parfuum net aan op plekke wat nie in die son gaan kom nie, soos die binnekant van jou elmboë en agter jou knieë, mits jy lang moue en ’n langbroek of lang romp aanhet. Só sal die hitte van hierdie dele steeds die parfuum se reuk aktiveer.

Gebruik ’n vogroom met antioksidante

Wend jy vogroom net op jou gesig aan? Fout! Die vel bo jou halslyn moet dieselfde as jou gesig behandel word, en het veral vogroom net so nodig.

Kies ’n vogroom met antioksidante soos vitamien C en E, alfa-lipoësuur of koënsiem Q10. Namate ’n mens ouer word, daal die hoeveelheid natuurlike koënsiem Q10 in jou liggaam, wat moontlik tot die veroudering van jou vel bydra. Navorsing toon dat as jy koënsiem Q10 op jou vel gebruik, plooie minder prominent kan vertoon.

Alfa-lipoësuur kan die vel teen sonskade beskerm en moontlik tekens van sonskade verbeter.

Stimuleer kollageenproduksie om plooie te verminder

Kollageen hou die vel ferm en glad, maar met ouderdom en blootstelling aan goed soos rook en skadelike UV-strale raak dit ál minder in ’n mens se liggaam.

Bestanddele soos retinol, wat kollageenproduksie ’n hupstoot gee, kan die vel jonger en fermer laat lyk deur plooie te verminder en die vel dikker te maak.

“Retinol is die ideale aktiewe bestanddeel om sonskade te voorkom én vel wat reeds deur die son beskadig is, te verbeter,” sê Stephnie-Anne. Optiphi se Protecting Revitalizer-serum bevat retinol, en moet soggens en saans gebruik word vir die beste resultate.

Die wondermiddel hialuroonsuur maak droë vel vogtig

Hialuroonsuur kom natuurlik in ’n mens se vel voor en kan groot hoeveelhede vog hou, wat belangrik is vir ’n vol, ferm, jeugdige vel. Soos wat ’n mens ouer word, vervaardig die liggaam egter al hoe minder hialuroonsuur, en droë vel kan maklik oud, vaal en afgemat lyk. Daarom bevat al wat ’n teenverouderingsproduk is deesdae hialuroonsuur.

Hierdie produkte se grootste wapen is dat dit die boonste lae van die vel intens bevogtig en só die tekens van veroudering teenwerk. Die hialuroonsuur is soos ’n spons wat vog inhou en só plooie verminder en die vel se tekstuur verbeter.