n Helikopter red ‘n toeris

0
23
helicopter.png

Die soveelste toeris het Woensdag op Tafelberg verdwaal. Hierdie keer was dit ‘n Amerikaanse toeris. ‘n Toergids het haar hulpgeroep gehoor, en ‘n soekgeselskap is uitgestuur. Op die ou einde het ‘n helikopter haar opgepik.

Elke keer wanneer ek lees van ‘n helikopterloods wat ‘n persoon wat verdwaal het, gered het, dink ek aan die mens se verhouding met God. Sien, die loods in die helikopter kan baie ver kyk, terwyl die visie van die mens tussen die bosse op die grond baie beperk is. Later weet jy nie waar jy is nie. Dikwels is ons ook op ons lewenspad so verstrengel. Ons kyk hier voor ons vas teen ons omstandighede, en ons sien nêrens ‘n uitkomkans nie. Maar God sien die groter prentjie raak, en daarom kan Hy vir ons uit hierdie situasie waarin ons vasgevang is, uitlei. Dit is hoekom ons kan waag om ons lewensvrae en kwellinge aan God toe te vertrou.

Die psalmdigter sê in Psalm 113:5-8:

Wie in die hemel of op die aarde
is soos die Here ons God,
wat hoog woon en hier onder alles sien?

Die geringe help Hy op uit die stof,
die arme laat Hy
van die ashoop af opstaan
om hom by vernames te laat sit,
by die vernames van sy volk.