‘n Hippie met ‘n pistol, ‘n ou staalkatel en ‘n flenter Honda

Liewe Persoon,

Daar het ‘n hele nuwe wêreld vir my oopgegaan… en ek staan verstom!

Gister (Sondag) wou-wou die dwarsgeit (wat altyd die laaste paar ure van ‘n naweek vergesel) in my binneste nesskop. Ek was op die punt om wéér die foto-albums van “me-lee-we” (soos Ouma Jannie altyd gesê het) nader te hark toe my oog op ‘n inskrywing op Facebook val: “Disassembled Honda CBR 900 1997 model for sale bike is complete just has to be put together” Ja, net so. Alles in een lang sin sonder enige leestekens. En ja, jy het reg gelees: die bike is in ‘n duisend stukkies ampers soos een van daardie 2000-stuk legkaarte met die Groot Vyf op.  Die prys is ook net reg: R7 000! Ek vra jou, met trane in my oë: “HOEKOM?” En as ek ‘n tweede vraag toegelaat word: “WAAROM?” Hoekom sal jy die bike van sy flikkerlig tot sy brieklig uitmekaar vroetel en dan dink iemand anders sal dit koop? Ek ken niemand wat so uitermatig lief is vir puzzles nie!

En daar gaat ek!

En skielik is dit weer asof ek en Pa in ‘n stowwerige pandjieswinkel iewers rondsnuffel. Ons het nooit iets gekoop nie, net lekker gekrap. Want face it, dit is mos wat jy in ‘n pandjieswinkel doen, of hoe? Ek onthou een so ‘n pandjieswinkel in Potchefstroom…daar was van uitgedroogde koukies tot geroeste tuinvurke en geraamde Tretchikoff-posters (daai een met die balletdanseres en die swaan met die asemnood). Om elke hoek en draai was daar ‘n nuwe ontdekking geklee as ‘n tweedehandse vonds. In Parys (die een hier neffens die Vaalrivier) het ons eenkeer op ‘n pandjieswinkel vol weermagvoorraad afgekom… dit was net blik helmets, geroeste trompette en ‘n hektaar kose. As ek nou daaraan terugdink dan is dit met ‘n groot gegiggel, want dit wou lyk asof die ou-sêding tog ‘n bietjie aangepas moet word. In plaas van: “An army marches on its stomach” is dit eerder – of so het dit in daardie pandjieswinkel voorgekom, “An army marches because of its stomach!”

Maar terug by my Sondagaand-lekkerte. ‘n Paar kliekke verder en ek ontdek ‘n bladsy waar mense items te koop of te ruil aanbied – amper iets soos Nikie van den Berg se  “Ditjies en Datjies”. En my tone krul van pure lekkerkry. Jy sien – ek is nie opsoek na ‘n bargain nie, maar eerder die storie agter die item(s) wat aangebied word. Miskien is dit die nuuskierige joernalis in my. Ja, ek weet baie van dié items het ‘n hartseer skaduwee – nood en dood. Baie van die goed is deur jare bymekaar gemaak en vertroetel. Party van die aanbiedinge het ‘n paar Rand gekos, en ander het net bloot eenvoudig hulle betowering verloor (soos byvoorbeeld die Honda CBR 900).

Ek deel graag – sonder oordeel, ‘n paar van die vondse waarop ek afgekom het (en ek noem hulle hier nes hulle daar in die wêreld van sosiale media aangebied word)

  • “Ek het oud tydse bed se staal bys… Maak my ‘n prys maar nie minder as R200”
  • Onder die hofie, “Biki van als” : pre-loved boeke moet self afhaal kort tlc. En daar gewaar ek dit:’ Die Hippie met ‘n pistool ‘- ‘n roman deur Gerhard van Vuuren
  • “Ford Cortina V6 fully restored kort net papiere”
  • “Ingevoerde matriekafskeid rok net 1 keer gedra. Size 38-44”
  • “Extra set of balls” (ek dink hulle verwys na snoekerballetjies)
  • “Koi pond motor en filters kort net’n bietjie aandag”
  • “Ek’t 3 baba katjies wat liefdevolle huise soek. Hul is hand groot gemaak met ‘n tietiebottel. Gewoond aan honde en gebruik ‘n sandbak. Die swart katjie is ‘n mannetjie”

En dan my absolute gunsteling en wenner van die dag: “Ou orrel te koop speel ni meer maar in goeie kondisie”