’n Kerk waar eens ’n sjebeen was

0
20
Albert Maritz

Deur die loop van sy lewe was daar veral twee mans wat ’n onuitwisbare indruk op akteur Albert Maritz gemaak het. Hy vertel sy verhaal…

Deur die loop van sy lewe was daar veral twee mans wat ’n onuitwisbare indruk op akteur Albert Maritz gemaak het. Hy vertel sy verhaal…

Amos Sithole, ’n sjebeen-eienaar, was nie net ’n groot sakeman wat vir hom ’n lewe ver van sy huis in KwaZulu-Natal geskep het nie, maar ook ’n mens-man. Die soort ou saam met wie ’n mens dinge kan doen. Van die ander man het ek nie veel geweet nie, behalwe dat hy baie oud was. Die eerste keer wat ons kontak gemaak het, régtig kontak gemaak het, was toe ek een oggend per ongeluk verby sy skuiling gedraf het.

Wat my daardie dag met groter aandag na hom laat kyk het, was die sorgvuldigheid waarmee hy homself gegroom het. In sy grasskuiling was hy redelik ingerig. Hy het regop gesit, gestut van agter, dalk met ’n stoeltjie, dalk ’n stammetjie van ’n boom? Met ’n blikspieëltjie in die een hand en ’n wyetandkam in die ander was hy besig om sy hare te versorg. Daar was nog ’n paar kleinigheidjies: ’n houtvrugtekissie met een rakkie. ’n Eetlepel, selfs ’n bord.

Al die jare was dit sy skans teen die wêreld, sy wegkruipplek, tot daardie dag…

Dit was toe ek nog in Gauteng gebly het dat ek op ’n dag, net voor ek die draai na die snelweg neem, dit sien: ’n wolk rook tussen die gras op die hoek. Die einste ou man skarrelend op die sypaadjie. En toe die twee jong mans, in netjiese klere, wat die pad voor hom oorsteek. Hulle lag uitbundig.

Ek ry stadiger, stop toe dit veilig is en klim uit. Die brand is redelik groot. Nou nie so dat dit die buurt daar naby binne sekondes sal verswelg nie, maar dit is daar… daar waar die ou oom in die gras woon. Die man wat altyd daar naby hom hare sny, gaan ongestoord voort asof niks verkeerd is nie. Niemand verroer ’n vinger om iets te doen nie.

Dit was vir my te hartverskeurend om net te ignoreer. Dadelik het ek geweet Amos sal weet wat om te doen. Nadat ek hom opgelaai het en ons uiteindelik daar kom, was net die ou oom nog daar. Die twee jonges was skoonveld. Die gesig van die ou oom tussen verbrande plastiek en karton, stukkies messe-en-vurkgoedjies met smeltmerke op, die effense bedekking teen die reën nou vernietig, was hartverskeurend.

Sonder ’n woord knik ek en Amos vir mekaar. Ons kry vir hom ’n nuwe seil, stokke vir hoogte, bakstene om dit te anker, ’n bietjie eetgerei en kos. Ook ’n regte spieël. Vir ’n rukkie was die ou oom weer veilig teen die res van die wêreld.

Kort hierna is Amos met MIV gediagnoseer. Ses maande later was hy dood.

Vir my was Amos ’n engel. ’n Engel met ’n sjebeen, maar nietemin ’n engel. Iemand wat nie ’n ou oom hier aan die einde van sy kragte alleen kon los om op sy eie ’n versengende vuur te oorleef nie.

Die oom is lankal nie meer hier nie. Amos se sjebeen ook nie. Daar is nou ’n kerk. Deesdae hoor jy Sondae, Saterdagaande, enige vreemde tyd van die week, stemme opstyg soos die gemeentes wat deesdae die perseel gebruik, kerk hou.