’n Kunstenaar moet veerkrag hê

1592

Tim Theron – akteur, vervaardiger en komponis – weet ’n kunstenaar se pad is nie maklik nie. Dit verg harde werk, ’n dik vel en mense wat jou anker sal wees.

Van jongs af was ek bewus van my kreatiwiteit: ’n behoefte en ’n honger om te skep en stories te vertel. Dit is amper die enigste motivering wat jy nodig het, maar net soos met enige aangebore talent, gaan daar niks van kom sonder harde werk nie. Jy hoor dit baie in sport of besigheid, maar dis net so waar hier. Jy moet iets van enige kreatiewe instink maak deur die bul by horings te pak.

Dit is vir my maklik om passievol te bly, want daar is nie eintlik ’n plan B nie. Ek kan nie met my hande werk nie en is verskriklik sleg met somme. Maar daar is verskillende maniere om passie aan te wakker. Ek omring myself met ander mense se skeppings deur te lees of na goeie films of reekse te kyk.

Dan gaan dit oor wat jy met daardie energie doen. Jy gaan sit en skryf die idees neer en werk daaraan. Vir my is dit om nooit stil te staan nie. Om konstant besig te bly, selfs al lyk dit asof daar niks van gaan kom nie. Jy weet nooit wat ’n idee kan word nie.

Hoopvolle jong kunstenaars sal dikwels raad vra oor hoe om hulle groot deurbraak te kry, of hulle ’n graad nodig het of net moet begin werk soek. Ek het al by ander mense gestaan as ’n jong ou of meisie dit kom vra het, en dan was die antwoord: “Nee, gaan doen iets anders. Die pad is te moeilik.” Dit is waar. Dit is moeilik, maar ook die moeite werd.

As ietwat van ’n idealis is ek van mening dat drome waar kan word. In plaas van om glad nie te probeer nie, moet jy eerder vir jouself ’n paar moeilike vrae gaan vra, en ook realisties wees, maar dit kan gedoen word. Daar is altyd ’n manier.

Iets wat jou veerkragtigheid toets is om gereeld nee vir ’n antwoord te moet hoor. Akteurs gaan vir baie oudisies en kry so min rolle. Jy moet leer om dit nie persoonlik op te neem nie. Dit beteken nie noodwendig dat jy sleg is nie. Dit beteken dalk net dat jy nie reg is vir ’n rol nie. Nie almal van ons pas oral in nie.

Dit raak moeilik; partykeer moet jy jouself net vir tien minute jammer kry. Tog is daar nie ruimte om jouself te beskerm nie. Vir ’n goeie oudisie moet jy oopmaak en alles gee.

Dit bly ’n uitdaging, maar as dit jou sterker maak, spoel die krag na elke faset van die lewe oor. Wat my gehelp het, is om in die oomblik te lewe. Jy laat die moeilike oomblik agter en laat nie toe dat dit jou hele bestaan omvergooi nie. Net so bederf die goeie oomblikke jou ook nie, want dit hou nie vir altyd aan nie. So leer ek ook om meer teenwoordig te wees.

As ek by die huis kom, veral na ’n moeilike dag, kom my kinders aangehardloop. Vir hulle is jy alles, is jy genoeg en goed genoeg. Ons bedryf is ’n onstuimige see, en hulle is my anker. Hulle is ’n veilige plek waar ek myself weer kan vind.

Omdat ek ’n baie emosionele mens is, is dit nie vir my maklik om my werk en lewe apart te hou nie. Die grense is belangrik, maar my binnekant voel meer soos georganiseerde chaos. My vrou help daarmee. Sy herinner my en sê: “Maar jy’s nie nou daar nie, wees hier.”