’n Leefstyl van dankbaarheid

dankbaar

Vir my was die Amerikaners maar nog altyd vreemd; vreemde maniertjies en soms bietjie oor-dramaties.

Verlede jaar ontdek ek egter iets van hulle kultuur waarby ek aanklank vind: “Thanksgiving”.

Die idee daarvan om ʼn hele dag te vat om dankbaarheid te betoon aan die mense in jou lewe en aan God het my geïnspireer! Om nie net ʼn dag daarvan te maak nie, maar eerder ʼn leefstyl van danksegging te kweek.

Aan die begin van 2016 plaas ek ʼn groot glas bottel, notaboekie en pen op ʼn strategiese plek op ons trap landing. Daagliks loop ons daar verby en word herinner om neer te skryf waarvoor ons daardie dag of week dankbaar is.

Op Oukersaand maak ek vir ons lekker kos en ek en manlief sit sommer op die vloer by die koffie tafel en eet, terwyl ons deur die jaar se briefies in ons bottel lees. Ons ontdek dat meeste van die klein oomblikke wat ons deur die jaar laat glimlag het, lank vergete is. Deur die briefies herleef ons elke herinnering en geniet ons dit van voor af!

Aan die einde van 2016 het ons ons vas gestaar aan die uitdagings van die jaar en moes ons herinner word aan die goeie. Hierdie jaar ontdek ons dat ons perspektief drasties verander het. Ek besef dat ons nou weekliks saam reflekteer en in verwondering gesels oor God se goedheid en guns. Die uitdagings van die week verdof in vergelyking.

Ek dink aan ʼn sin uit die fliek August Rush:  “The music is all around us, all you have to do is listen…”. Net so is daar in elke dag, in elke week van die jaar soveel om voor dankbaar te wees as ons net die tyd vat om dit raak te sien.