’n Leerskool wat werkloses help

0
570

POPUP leer mense in minder-bevoorregte gemeenskappe die nodige vaardighede om hulle lewens te verander. So speel hulle klaar met werkloosheid en maak ’n blywende verskil.

Daar is baie mense wat swaarkry en net so baie wat wil help. Die oplossing is egter nie noodwendig liefdadigheid nie, maar eerder bemagtiging. Moenie “vis” uitdeel nie, maar leer mense om self te hengel. ’n Gereelde inkomste en gesonde gees het meer waarde as ’n vol kruidenierskas af en toe.

POPUP, oftewel die People Upliftment Programme, is ’n organisasie wat daaraan glo om behoeftiges selfonderhoudend te maak. Hierdie opleidingsentrum is in ’n ou gebou in Salvocop in Pretoria geleë. Daar is ook sentrums in Soshanguve en Nelson Mandelabaai.

Alhoewel dit aanvanklik ’n tuiste vir haweloses was, is dit deesdae ’n leerskool wat werkloses help om werk te kry. Op dié manier kan hulle in hulle eie behoeftes voorsien en word hulle eiewaarde ook verhoog.

“Ons wou met hierdie bediening meer doen as blyplek gee vir behoeftiges – ons wou regtig lewens verander. Marlene Freislich het ’n groot rol gespeel om hierdie verandering moontlik te maak. Sy was vir tien jaar die hoof- uitvoerende beampte (HUB), voordat sy die leisels aan my oorgegee het,” sê Gerrit Heymans.

Die organisasie se droom om minderbevoorregtes te help het in 1991 begin toe dit deur die Doxa Deo-bediening gestig is. Die oorspronklike idee was om blyplek vir haweloses te gee en hulle te help met kos, klere en emosionele ondersteuning.

Daar is egter gou besef dat hierdie benadering mense eerder afhanklik maak as om hulle te leer om verantwoordelikheid vir hulleself en hulle toekoms te aanvaar. Daarom moes daar ’n ander plan gemaak word.

Vandag is dit ’n sentrum wat hoop gee vir stukkende mense wat minderwaardig voel en hierdie as hulle laaste uitkoms sien. Die hoofdoel is om die mense se lewens so te verbeter dat selfs hulle familie, vriende en onmiddellike omgewing positief daardeur beïnvloed word.

Programme word sorgvuldig volgens elke individu se behoeftes (liggaam, verstand en gees) opgestel en is gegrond op Christelike beginsels. Daar is verskillende fases waardeur leerders moet werk, wat ’n verpligte drie week lange Fondasie vir die Lewe-program insluit.

Die mense leer noodsaaklike vaardighede wat hulle help om makliker werk te kry of om hulle eie besighede te begin. Dit help ook om die negatiewe invloede (aanranding, misdaad en verslawing) in die gemeenskappe waarin hulle grootgeword het, te neutraliseer. Leerders kan tussen 18 en 45 jaar oud wees en moet al die verpligte programme, wat werkplekopleiding insluit, voltooi om ’n sertifikaat te kry.

“Ek het altyd soos ’n nikswerd gevoel. Toe universiteit nie uitwerk nie, wou ek net doodgaan sodat ek nie nodig gehad het om oor die toekoms bekommerd te wees nie. Die Fondasie vir die Lewegedeelte van die program het alles verander. Dit het my geleer om op God te vertrou en nie oor probleme te stres nie, maar eerder oplossings daarvoor te soek,” vertel Tiisetso, ’n jongman wie se lewe deur die organisasie omgekeer is.

Dit is belangrik om die jeug met die regte uitkyk en vaardighede die toekoms in te stuur. Vind uit hoe jy kan help by www.popup.co.za, skakel 081 043 8813 of volg hulle op sosiale media by @POPUP.

Stories van hoop word aangebied in samewerking met Mergon.