‘n Lekker droom – letterlik!

Wat as die sêding “Jy is wat jy eet” waar was? Die wêreld sou sekerlik ‘n baie makliker plek gewees het, nie waar nie? Dink net …

Sou dit nie maklik gewees het as ons net iets kon eet om te verander wie ons is of hoe ons voel nie? Verbeel jou: dit is een van daardie dae waarop alles onderstebo en agterstevoor is. Almal vryf jou verkeerd op en niks loop reg nie. Natuurlik raak jy skuins befoeterd en soos in enige oorlog, is dit ongelukkig die onskuldiges wat die swaarste kry. Dit is die mense wat dit die minste verdien wat die snykant van jou frustrasie en ongeduld moet voel. Maar nee, dis maklik om net jou bui om te keer en weer in ‘n regte ‘sweetie pie’ te verander: haal net versigtig-versigtig die pers foelietjies af en eet die soet lekkerte happie-vir-happie totdat taai vingers en bietjie tjoklits om jou mond die enigste negatief is wat oorbly.

En wat van daardie dom dae wat elke nou en dan opduik? Of dom oomblikke? Wanneer jy niks regkry nie, al het jy dit al voorheen foutloos gedoen, of wanneer name uit jou kop glip soos fyn kristalglasies in seperige skottelgoedwater? Wanneer jy in ‘n argument, betoog, of vriendelike stryery is en net eenvoudig aan geen geldige stellings kan dink om jou punt te staaf nie? Dít, natuurlik, is wanneer jy die veelkleurige boksie moet nadertrek, en siedaar … jy’s ‘smart’!

Die moontlikhede is eindeloos (mits jou verbeelding natuurlik bereid is om saam te werk). Kragte, buie en emosies is net so ver soos die naaste swietie-winkel!

‘n Addisionele moontlikheid sou natuurlik ook wees dat jy vir ander mense in jou leefwêreld ‘n eetdingetjie kon aangee wanneer hulle ‘n sekere bestanddeel kortkom. Hoe gerieflik sou dit wees om met ‘n bietjie soetigheid van party onnodige suur smake ontslae te raak! ‘n Pietersielietjie wat die skerp knoffelsmaak verdoesel, ietsie sag en soet om te help met die taai toffie, ‘n kondensmelkie om bo-op die galbitter te gaan lê …

Dankie tog dat ek in die ry was toe verbeelding uitgedeel is! (Kan iemand my beduie waar is die realisme-ry?)