‘n Liefdesuitdaging VIR JOU (EN HOM)

2115

Julle skeep mekaar af, want julle is besig. Klein irritasies laat julle dan uitmekaar dryf. Aanvaar hierdie uitdaging van Gretha Wiid en kry julle vonk terug!

As ons ’n nuwe motor koop, pas ons dit op soos goud. Ons hou dit skoon en maak seker niks stamp of skraap daarteen nie.

Mettertyd raak ons laks. Ons los rommel in die kar en was dit as ons tyd het. Die kilometers klim en die waarde daal. Daar kom nuwe modelle op die mark en ons dink daaraan om die motor in te ruil of te verkoop.

Vir sommige mense werk ’n huwelik net so. Die begin is wonderlik en die fokus is op die regte plek, by jou geliefde. Later kom daar skrapies en rommel wat rondlê as julle baklei. Konflik word nie uitgepraat en opgeruim nie. Die eens spoggerige motor word net nog ’n item wat jou ’n klomp geld kos.

Nou het jy die geleentheid om aan die waarde van jou huwelik te werk – ongeag die kilometers op die klok. Daag jou man uit om hierdie liefdesuitdaging saam met jou te doen en stap vir stap by ’n droomhuwelik uit te kom.

Lees die stukkies op julle eie deur en gaan dink oor die opdragte. Maak notas van julle idees of emosies. Ontmoet mekaar dan by julle gunstelingplek en bespreek dit. Neem foto’s van die briefies of romantiese geskenkies om julle aan die kosbare oomblikke te herinner.

Eendag is julle huwelik dalk ’n vintage motor wat baie respek en bewondering by ander paartjies afdwing…

1. Is jou maat nog vir jou ’n prioriteit?

As paartjies nog in die “bemarkingsfase” van ’n liefdesverhouding is, gebeur dit natuurlik om mekaar eerste te stel. Jou grootste doelwit is om die ander persoon te beïndruk en hom of haar goed te laat voel.

Wees egter getroud vir ’n ruk, en jy sien sommer hoe hierdie strategie verander. Ons wys nou ons ware kleure. Ons kyk anders, praat anders, kies anders en doen anders.

As jy ongelukkig is oor iets, is die belangrikste doelwit om jou stem te laat hoor. Jou maat moet besef dat hy of sy sekere dinge verkeerd doen. Jy regverdig alles waarvan jy beskuldig word en fokus op “ek”.

Ons sal veg vir ons eie opinie en behoeftes, partykeer dae van stilstuipe deurmaak, maar jammer sê of aanpassings maak? Nie sommer nie!

Dalk is elke huwelik se beste strategie vir oorlewing en geluk om juis terug te gaan na die aanvanklike plan – om jou maat eerste te stel en te besef dat julle nie net kan oorleef nie. Kies weer en bewys dit met elke keuse, woord en daad!

Kyk jou maat in die oë en sê: “Ek het op ’n dag voor God belowe om jou te eer, waardeer en respekteer. Ek weet dat ek dit nie altyd doen of regkry nie, maar vandag kies ek dit weer. Terwyl ek jou in die oë kyk, wil ek die volgende sê…”

2. Is julle twee huweliksmaats of net huismaats?

Baie huwelike misluk as gevolg van groot kwessies soos ontrou of verslawing, maar daar is baie paartjies sonder vreeslik baie issues wat ook later skei. Hulle is vasgevang in elke dag se roetine, gewoond aan mekaar, leef, eet en gaan elke dag saam kamer toe. Maar daar is ’n missing link.

Dit laat my dink aan studente wat ’n kommune of woonstel deel. Hulle kom en gaan soos hulle wil, braai partykeer saam, het gemeenskaplike vriende en sit soms lekker saam en gesels. Hulle droom nie saam oor ’n toekoms nie. Hulle stel mekaar nie eerste nie en raak nie opgewonde oor mekaar nie. Hulle deel slegs ’n adres.

Soms is ons so besig om bésig te wees dat ons huwelik heel laaste op ons doenlysie is. Ons float en probeer om al die balle in die lug te hou. Niemand het ’n huwelik waar hulle mekaar élke dag van opgewondenheid bespring en mekaar se klere afruk nie. Daar is sekere roetines wat absoluut normaal en noodsaaklik is. Die krisis kom wanneer ons nie besef dat ons nét roetine oorhet nie.

Daar is ’n lang lys verskonings hoekom ons nie tyd het nie, maar ons doen nooit moeite ten spyte van moegheid en min tyd nie. En baiekeer is dit te laat!

Kies een weeksaand om alle tegnologie af te skakel en tyd te maak vir mekaar. Gesels oor julle eerste ontmoeting en wat julle alles van daardie oomblik kan onthou. Maak vooraf ’n lysie van dinge wat julle tyd steel en dink wat jy kan verander om meer tyd te hê vir julle twee.

3. Luister julle regtig nog na mekaar?

Sjoe, ons kan darem onnodige goed kwytraak as ons kwaad of gefrustreerd is of seer het! ’n Bakleiery laat ons twyfel aan ons liefde. Ons voel stukkend en selfs bitter.

As jou maat jou egter die geleentheid gee om jou hart uit te praat en werklik jou pyn, vrees, woede of frustrasie probeer verstaan, laat dit jou belangrik en geliefd voel. Een gesprek waar jy werklik verstaan en gehoor word, kan baie seer, frustrasie en bitterheid uitwis.

As jy jou maat laat besef dat jy regtig na sy opinie wil luister, sal hy nie hoef te veg om gehóór te word nie. Die lelike woorde, die venynige terugbaklei en selfs doodskree sal tot ’n einde kom.

’n Sagte antwoord (en stilbly sonder ’n negatiewe gesindheid) keer mos die grimmigheid af, of hoe? Hoe beter jy dus luister, hoe minder grimmigheid, iesegrimmigheid en irritasie sal daar uiteindelik wees.

Maak beurte om kort sinnetjies sonder emosie te sê. Dit kan enigiets wees, soos die drie beenhare wat jou kielie as jy jou bene teen mekaar skuur.

Jou maat moet al hierdie sinne herhaal – woord vir woord. Soos julle vorder, kan julle kort sinnetjies met gevoel waag. Begin by positiewe dinge: “Die mooiste ding wat jy ooit vir my gesê het, was…” Dalk het julle meer pret met luister as wat julle ooit gedink het moontlik is!

4. Hoe beskerm ek my huwelik teen ’n affair?

Baie mense maak die fout om te glo dat gelowiges nooit in buiteegtelike verhoudings betrokke sal raak nie. Dis glad nie waar nie!

As ons leemtes in ons huwelik het, hetsy emosioneel, seksueel, finansieel of geestelik, sal Satan ons met iets probeer versoek wat aan ons behoeftes gaan voldoen. As jy dors genoeg is, is selfs ’n slukkie brakwater welkom!

As iemand emosioneel, seksueel of geestelik ’n leemte in die huwelik ervaar, is daardie huwelik ’n maklike prooi vir die brullende leeu. As ons egter op mekaar gefokus is en mekaar se behoeftes eer en erken, word dit moeiliker om voor versoekings te swig.

Kleintydseer is een van die algemeenste redes waarom mense later uitreik na ander vir aandag, erkenning en liefde. Dit is belangrik om te besef dat jou maat nie die pyn of leemtes uit jou kinderjare kan genees nie. Word self gesond sodat jou huwelik gesond kan wees.

Jou gevoelens van verwerping, die vrees dat jy nie goed genoeg is nie of jou soeke na aandag en erkenning maak jou weerloos. Hierdie emosies maak van jou ’n teiken sonder dat jy dit besef.

Gesels oor die grense in julle huwelik. Is daar iemand wat te veel tyd in jou maat se geselskap deurbring? Is daar dalk iemand saam met wie jy te veel kuier?

5. Geld – doen dit julle verhouding kwaad of goed?

Vir sommige mense is geld ’n vorm van sekuriteit. Hulle is gefokus op spaar, hou makliker by ’n begroting en raak angstig oor impulsiwiteit en spandabelrigheid.

Vir ander is geld ’n vorm van vryheid. Hulle is makliker waagmoedig en impulsief, en het altyd ’n plan om uit die moeilikheid te kom.

Ongeag watter kant toe jy en jou maat meer neig – sekuriteit of vryheid – die bonus lê daarin om te besef dat albei maniere voordele het.

Natuurlik moet ons spaar en mooi werk met geld, maar ons moet ook soms waag, leef en onsself partykeer bederf. As julle mekaar se sienings waardeer en balans kan handhaaf, het julle die beste vooruitsig met finansies.

Dalk is een van die wonderlikste dinge vir julle geldsake om ’n slag te gaan sit en dink hoe julle doelwitte lyk. ’n Droom of doelwit wat geformuleer en uitgespreek is, is iets wat jy makliker volg. As jy eers weet waarheen jy mik, is dit soveel eenvoudiger om daar uit te kom.

Gesels oor julle verskillende temperamente met geld. Kan jy dink aan ’n voordeel van elke temperament?

Gooi vir die volgende maand al julle R5-muntstukke in ’n blik. Gaan fliek en eet roomys, of doen iets spesiaals daarmee. Soms het ’n mens nodig om te giggel, mense te laat frons en weer soos ’n verliefde en arm student te voel.

6. Is julle verslaaf aan tegnologie?

Net soveel soos tegnologie tot ons lewe bydra, net soveel steel dit ook! Dit steel tyd, kommunikasie en emosie en het die vermoë om ons op allerlei vreemde spore te laat dwaal…

Ons bestee tyd aan ander mense se emosies, opinies en kommentaar, maar het soms nie eens ’n idee wat alles in ons maats se lewe gebeur het nie. Ons kommunikeer heeldag, maar ons deel nie meer ons maat se hart nie.

Die mense wat nie op sosiale media soos Instagram en Facebook is nie, wys maklik ’n vinger na sosiale verslaafdes, sonder om te besef dat daar dalk ’n stukkie tegnologie in hulle eie lewe is waarvan hulle ook moet afstand doen, soos die TV en die rekenaar.

Kry balans. Sit dit af. Gesels en maak tyd vir die mens langs jou! In plaas van om soggens eerste na jou Facebook-boodskappe te kyk, gaan maak koffie en lê ’n rukkie in jou maat se arms voor opstaantyd.

Al is daardie foontjie ’n wonderlike ding om jou in kontak met ander te hou, is lyf-, oog- en hartskontak steeds die belangrikste.

Besluit watter grense jy vir jouself gaan stel met sosialemediagebruik, jou foon en die TV. Dis altyd makliker om by jouself te begin en die eerste stap te neem.

7. Is pornografie besig om jou huwelik te vernietig?

Daar is baie dinge wat ons huwelik en menswees beïnvloed en vorm sonder dat ons dit werklik besef. Ons vriende, die keuses wat ons maak, ons gewoontes oor drank en sosiale verkeer, programme wat ons op TV kyk, dit wat ons op die rekenaar doen as almal slaap…

As ons nie waaksaam is en hierdie waarheid snap nie, sal ons onwetend ons karakter besmeer of selfs ons huwelik vernietig.

Terwyl almal saamstem dat pornografie nie in ’n kind van die Here se huwelik of lewe hoort nie, stry mense oor die grens van dinge soos erotiese flieks of TV-reekse waar die karakters mekaar warm vry. Is dit verkeerd? Waar lê die grens?

Duisende vroue regoor die wêreld leef met ontnugtering, pyn, verwerping of woede as gevolg van ’n maat wat vroue aanlyn opsoek, hulle lywe geniet en dan seks by hulle eie vroue kom soek. Mettertyd beïnvloed dit alles in daardie huwelik. En op ’n dag besef ’n mens dat die huwelik intussen ’n stille dood gesterf het.

As ons nie toelaat dat God se Woord ons gees, denke, keuses en leefstyl aanspreek en verander nie, sal die duiwel altyd toegang hê tot ons manier van dink en leef.

Neem tyd en laat die Heilige Gees vir jou dinge uitwys wat jy moet aflê. Onthou dat jy belowe het om getrou aan jou maat te wees.

8. Hoe kry ek dit reg om my maat te vergewe?

Die beste huwelike kom gereeld by plekke waar mense mekaar moet vergewe en vryspreek, berou moet toon en weer moet kies om te veg vir die verhouding.

Omdat intimiteit, emosionele konneksie en vertroue belangrik is vir die gesondheid van ’n huwelik, kan ons dit nie bekostig om mure van onvergewensgesindheid om ons harte te bou nie. As die mure hoog genoeg is, verloor ons later alle hartskontak en bloei die huwelik dood.

Selfsug en eiebelang sal jou die vinger wil laat wys en heeltyd jou maat beskuldig. Jou eie gevoelens is immers vir jou dan belangriker as jou maat se vryheid en jou huwelik se vreugde.

Ons pyn of woede vat soms jare om te genees, maar vergifnis is daardie keuse wat ons in ’n oomblik maak – die keuse dat ons wíl aanbeweeg en die seer wil agterlaat. Miskien help dit om te onthou dat vergifnis nie die oortreder meteens onskuldig maak nie – dit maak bloot die slagoffer vry.

Dis net werklike berou wat ons maats help om makliker te vergewe. Berou beteken ek is gekonfronteer met my maat se seer en pyn en dit maak my seer om hom of haar so te sien.

Raak stil en vra vergifnis by God vir die tye wat jy jou maat seergemaak het. Wees jy nou die hand wat hom of haar genees.

9. Is seks regtig so belangrik in ’n huwelik?

Seks is nie die grootste of belangrikste deel van ’n huwelik nie. As jy dink hoeveel tyd julle aan seks bestee, sal jy saamstem dat dit eintlik maar ’n baie klein deeltjie is.

Dit is soos die waaierband van ’n kar. Nie die waardevolste, duurste of grootste deel van die enjin nie, maar as dit nie werk nie, ry die kar nie baie ver nie. Dieselfde beginsel geld seks. As dinge in die privaatheid van ’n mens se slaapkamer nie lekker werk nie, sorg dit vir baie frustrasie, seer en diskonneksie.

Ons groei maklik emosioneel weg van mekaar af. Ons prioriteite raak uit balans en ons maak nie genoeg tyd vir mekaar nie… en is dan verbaas as ons sekslewe soos harde werk begin voel.

As jy emosionele konneksie in jou verhouding verloor, moet jy weet die konneksie tydens seks sal ook verlore gaan! Jy sal dit dalk regkry om steeds seks te hê (of te gee), maar uiteindelik sal jy leeg voel omdat seks in ’n blote daad verander het.

As jy emosioneel verbind (connected) is in jou verhouding, is wonderlike seks net soveel moontliker en makliker.

Stuur die kinders vir ’n aand na maats of familie en gaan kuier by julle eie huis. Vat ’n lang borrelbad met kerse en iets lekkers om te drink. Pak eetgoed op die bad se rand – of dit sjokolade is of kaviaar.

10. Is intimiteit dieselfde as romanse en seks?

“Intiem” klink sag en liefdevol – soos twee mense wat na aan mekaar is in hart en liggaam. Miskien is dit die rede waarom baie mense dink dat ’n beter sekslewe hulle meer intimiteit gaan gee.

Die waarheid is dat baie mense ’n intieme verhouding het sonder dat hulle vreeslik gereeld seks het. Ander paartjies het trommels vol seksspeelgoed en het hope pret tussen die lakens – maar hulle harte is leeg en verwyder van mekaar.

Intimiteit is dat jy jou maat se veilige ruimte is en dat hy of sy altyd by jou hulle hart sonder verwyte of vrees vir veroordeling kan oopmaak, soos oor sy of haar donker verlede, oomblikke van teleurstelling, mislukking en onsekerheid sonder ’n vrees om afgejak, weggestoot of aan hulle foute herinner te word.

Ware liefde sê nie dat dit liefhet ten spyte van foute nie. Ware liefde sê dat dit liefhet as gevolg van jou menswees – die volle pakket – byna as gevolg van jou foute en tekortkominge.

Soms moet ons begin deur die ander persoon raak te sien – werklik te sien. Ons moet besef dat ons van ons kant af intieme oomblikke moet opsoek en intieme gesprekke sal moet hê.

Wat is die grootste seer wat jou maat ooit ervaar het? Sy diepste teleurstelling of oomblik van mislukking? Ken jy die grootste vrees of die bekommernisse wat hom laat wakker lê?