’n Ma en weghol dae…

Sonder om eens te begin lees ken jy dit…die weghol dae. Daardie dae, soms hou dit vir weke aan, wat dit smaak jy kies koers.

Ek het al gewonder waarheen sal ek nou nogal hol as iemand my wel die opsie sou gee. My ma het altyd gewaarsku: “Moenie dink jy kom staan eendag met jou tassie voor my deur nie, ek pak jou net daar terug in die kar en laai jou by jou eie huis af!”

Soms wil ek egter regtig net nie als hoef te hanteer nie. Sien nie kans vir die hangskouertjies wat van die skoolhek af aankom en ek sommer weet die rugby oefening het nie verloop soos hy gehoop het nie. Wil geensins hoef te cope met besluite of aksies wat hy neem in sy voortvarende tienerjare nie.

Kan nie nog ’n dag saam met haar in die winkels spandeer op soek na klere vir ’n lyfie wat nie die winkelpop standaarde handhaaf nie. Moeg en gedaan saam ‘n Hoof om ‘n tafel gesit met begrotings wat net nie wil klop nie…

Vanoggend, na ek bykans een se kop afgebyt het en ewe onsimpatiek ‘n ander vertel het om oor sy fyngevoeligheid te kom, roep Hy my nader.

Hy sê Hy verstaan as ek moeg word, maar weghol is nie ‘n opsie nie. Vertel my van fyn beplanning wat my die ma en vrou van presies hierdie gesin gemaak het.

Ek hoor dat ek hand uitgesoek is vir hulle, ten spyte van elke fout wat ek het. Hy my elke sterk eienskap ken en ek juis daarom perfek is vir my werk.

Styf trek Hy my in Sy arms in ek ervaar Psalm 91:4-5 tasbaar…

4Hy sal jou oordek met sy vlerke,
en onder sy vleuels
sal jy skuil;
sy trou sal jou beskerm
soos ’n skild.
5Jy sal nie bang wees
vir die skrik van die nag,
of die pyle van die dag;

Mede-Ma, op weghol dae, gaan klim onder Sy vlerke in. Gaan hoor weer ‘n slag wie jy is in Hom. Vertrou Sy woord, ons gaan allerlei afgevuurde pyle moet weerstaan, maar bang of skrikkerig hoef ons allermins te wees.

Ek en jy het ‘n spesiale skeppingsdoel as Ma van ons huise en Hy het ons spesiaal uitgekies, hoe wonderlik is dit!