‘n Ma kry voete van ‘n ribbok…

vyeboom

Half vier die oggend maak Kleinman se wit, wollerige honde-geskenkie my wakker, oor dit blykbaar speeltyd is.

In die vroeg stilte van die oggend wyl my vingers en hare bekou en belek word, deurdink ek al my bekommernisse. Jy ken dit mos, die ideale uur van die dag om sommer met nuwe kwellinge ook vorendag te kom.

In die stilte vertel ek fluisterend vir Hom van al die opdraendes wat die dag vir my inhou. Gee ewe vir Hom raad oor hoe ek dink Hy dit vinnig sal kan uitsorteer. Verder wonder ek effens selfbejammerend of die lewe dan tog soveel meer op- as afdraendes moet hê. Ek ryg my hele relaas uit, met hope kreatiewe oplossings natuurlik ook. Die wit bondeltjie nestel slaperig teen my nek en skielik kom die volgende woorde van ‘n ou bekende liedjie, duidelik in my gedagtes op:

“Al sou die vyeboom nie bot nie
En daar geen druiwe
aan die wingerde wees
Al sou die olyfoes misluk
En die lande geen oes lewer nie
Al sou daar geen kleinvee
in die kampe meer wees nie
En die beeskrale sonder beeste wees
Nogtans sal ek in my Here jubel
Sal ek juig in God my Redder

Die Here my God
Gee vir my krag
Hy maak my voete
Soos die van ‘n ribbok
Op hoë plekke laat Hy my veilig loop.”

Op Sy immer getroue manier kom wys Hy my so duidelik dat die vyeboom nie altyd bot nie. Daar soms geen druiwe gaan wees nie, en oeste van tyd tot tyd sal misluk. Hy verseker my egter dat ek krag sal kry en veilig sal wees in die hoë gevaarlike plekke, mits ek ten spyte van my huidige omstandighede, my sal verlustig in Hom.

Sjoe mede-ma, wat ‘n openbaring was dit vir my. Vandag wil ek jou bemoedig. Ek kan jou nie verseker dat jou land ‘n oes gaan lewer nie en my beeskrale gaan dalk ook nog lank sonder beeste wees. My en jou opdrag is egter om juigend vas te klou aan Hom, ons Beskermer, want net dan sal ons sterk genoeg kan wees om die moeiliker hoë plekke te trotsseer. Die hoër plekke vanwaar ons ’n uitsig sal hê wat min beskore is…