‘n Ma se gebed…

“Here gee vandag aan Lynette spesiale wysheid, insig en kennis en hou haar nederig”. Ek onthou dit soos gister, my Ma wat by die ontbyttafel vir my bid. Ek was toe al lankal uit die huis, maar dit was deel van die oggend roetine wanneer sy vir my kom kuier het.

Ek het eers jare later die impak van haar gebed op my lewe werklik begryp… wysheid, insig, kennis en nederigheid. Hoe kragtig! Ek salueer jou Mammie!

Dis een van die mooiste herinneringe wat ek van my Ma het. Wat ‘n voorbeeld was sy nie vir my nie. Gelowig, geduldig, haar lewe gerig in gebed.

In vandag se gejaagde lewe kan die daaglikse saambid dalk agterweë bly, veral vroegoggend as almal op spoed is om klaar te maak vir skool en werk. Maar, bygesê, ek ken ook nie ‘n Ma wat nie konstant vir haar kinders bid nie, maak nie saak of hulle 2 of  20 is nie. Ek wonder net of jou kinders weet jy bid vir hulle? Hoor en sien hulle jou?

Al noem die Bybel dat ons in ons binnekamer moet stil raak, dink ek tog dat die impak wat ‘n hoorbare gebed op ons kinders kan hê nie onderskat moet word nie. Jou nukkerige tiener waardeer dit dalk nie vandag nie, en jou alwyse student kan dalk selfs vir jou lag, maar êrens langs die pad vorentoe gaan hulle onthou, gaan hulle besef en gaan hul weet dit was Ma se gebede wat hulle deur storm en drang jare veilig gehou het.

Dus, aan al die Ma’s, oumas, tannies en peetma’s, moet nooit ophou bid vir die jongelinge wat aan jou toevertrou is nie. Jy gaan dalk nie die voorreg hê om dit self te beleef nie, maar hulle sal nog eendag die vrugte van jou gebede pluk.

Vorige artikelTen spyte van…
Volgende artikelDie water stroom
Blogger - Lynette Beer
Lynette was ‘n direkteur in ‘n suksesvolle internasionale groep maatskappye waar sy verantwoordelik was vir bemarking en die persoonlike ontwikkelling van personeel. Sy het die temperamentmodel gebruik om ‘n nuwe produk saam te stel. In 2007 ontvang sy ‘n toekenning in haar industrie vir die mees suksesvolle besigheidskonsep en was bevoorreg om besigheidsaanbiedinge in Times Square, New York, sowel as in Londen te doen. Lynette Beer is ’n gepubliseerde skrywer van Carpe Diem Uitgewers met haar nuutste boek “Watter kleur is jou persoonlikheid” Sy het ook die “Presidential” toekenning verower by die Besigheidsvrou van die jaar funksie wat aangebied word deur die Nasionale Raad vir Sakevroue (SACBW). Besoek haar webwerf: www.lynettebeer.co.za.