‘n Ma se lessie op die rand van die Nuwe jaar…

Loop ek myself op Oujaarsaand byna te pletter teen ‘n glasskuifdeur in ons huis.

In die bykans twintig jaar wat ons hier bly het vele ander dit al oorgekom, maar ek nog nooit. Betraand, bebloed en met ‘n gewonde ego daarby is ek sommer klaar moedeloos vir die jaar wat die volgende dag begin. Hoe op aarde moet ek nou die nuwe jaar in die oë kyk, verby die dik geswelde neus, wat nou meer aan ‘n snawel herinner? Almal het getroos. ‘n Hoof dra ys aan om die ergste pyn te verlig en moontlike skade vir die volgende dag te verhoed. ‘n Tiener vra met veel simpatie, maar ook ‘n glimps van ‘n glimlag of ek seker is ek is ok. ‘n Blom vergeet skoon om verder foto’s van die aand te neem, glo te hewig geskrik. Vertel my dat grimering die volgende dag die ergste skade onder beheer behoort te bring. Kleinman is tjoepstil en toe almal wegstap en met hul eie dinge aangaan vra hy, in sy nog kleinseuntjie stem, dat ek effens moet afbuk. Hy kom nader met die gesiggie teenaan myne en sê: ”Julle het ons altyd vertel dit werk so kom ons  hoop dit doen.” Hy soen my seer neus vlindertjie sag, draai om en stap weg. Hy laat my met meer trane agter en ek bêre hierdie oomblik diep.

Vanoggend is die skade nie heeltemal so erg soos almal gedink het nie. My nuwe jaar en oggend begin by Hom. Uit die aard van my persoonlikheid, wil ek gewoonlik ‘n verklaring vir gebeure kry, kan nie sommer aanvaar dat dinge net gebeur nie. Ek vra versigtig vir Hom of Hy my iets probeer leer, of hoekom sou ek die Oujaar nou op so ‘n onmoontlike manier moes afsluit…Wat op aarde moet ek nóg leer hierdie jaar? Iets só dringend dat ek dit enkele ure voor die nuwe jaar moes weet?

My antwoord is eintlik voor die hand liggend en kos toe nie soveel wroeging en worsteling soos gewoonlik nie. So al asof Hy geweet het dat ek hierdie redelik vinnig gaan nodig kry.

Hy vertel my dat ek hierdie jaar in die besonder dit gaan nodig hê om Hom nog meer te vertrou, Hom te vra voor ek doen en om baie, baie meer sensitief te wees vir Sy insprake. Nie holderstebolder dinge te doen, oor ek dink dis die regte en edel ding om te doen nie, maar rustig te raak en seker te maak dit kom van Hom af. In die proses behoort ek blinkskoon glasdeure te sien voor ek hulle tref…

Nouja mede-ma, dalk kan jy ook ietsie neem uit my voorval, miskien leer jy vandag iets sonder om met die oorlogswond te sit soos ek…;-)

Vorige artikelGeroep Om te Vertegenwoordig
Volgende artikelMy Lewe. My geluk.
Blogger - Liana Schönborn
Ek is ’n bevoorregte tuisbly mamma van 3 kinders. ’n Sagte tiener, ’n vrolike Blom en ’n Kleinman wat ’n ding sê soos hy is. Ek is lief vir my God, vreeslik erg oor my Hoof van 17 jaar en mal oor my kinders. Skryf is een van my passies en ek deel graag my reis deur die lewe met mede-mamma’s. Mag ek hoop bring, geloof weer laat opflikker en elke leser se hart roer, as instrument in God se hand. Volg ook my persoonlike blog by: http://doodgewonema.wix.com/doodgewonema