‘n Ma se muur tuimel in…

Ons ruk wakker, laat een nag, van ‘n hengse slag. Die huis is in rep en roer en na inspeksie bevind ons dat die grensmuur tussen ons en die bure sonder rede inmekaar getuimel het.

Dit voel uiters vreemd, die oopte. Half lekker aan die een kant, want ek hoef nie meer so vêr te rek om suurlemoene aan hul boom te pluk nie. Wasgoed ophang of ontspan in my agtertuin is egter nie meer so heel lekker, ek voel té ontbloot.

My erf se imperfeksies lê nou oop. Hulle weet nou dat ek nie elke week die swembad vee nie, dat ek nie ‘n wafferse tuinier is en gaan beslis kan agterkom dat die honde se toilet besigheid nie nougeset skoongemaak word nie. Mense sien en weet nou heelwat meer as wat ek bereid is om op ‘n daaglikse basis te deel.

Die scenario laat my dink aan ons ma’s se grensmure. Ons hou hulle so mooi in stand. Maak gereeld seker dat té dik takke nie dalk te hard daarop rus nie. Hou bome se wortels fyn dop, sodat dit nie moeilikheid maak nie. Ons hou egter kwalik rekening met die onvoorsiene omstandighede van die lewe wat gebeur.

Dit betrek ons en skynbaar goed versorgde, sterk mure tuimel in, voeter meestal sommer sonder seremonie in. ‘n Ma staan dan heeltemal ontbloot, almal is vry om in te kyk. Party sal nuuskierig loer en bakhand fluister oor onvolmaaktheid wat hul raaksien. Ander opper, moontlik in alle besorgdheid, hul opinie oor hoe jy so ‘n tragedie volgende keer kan verhoed, ‘n ma se mure behoort nie te val nie, jy weet!

Meeste mede-ma’s stap egter versigtig in en kom help. Hul vee swembad, gee taktvol tuinmaak wenke en deel gemaklik van hul eie boom se suurlemoene. Na ‘n week of meer, raak die nouer kontak, die opregte omgee, vir ‘n mens iets waaraan jy kan gewoond raak. ‘n Ma moet dan by haarself wonder of die bou van ‘n nuwe hoë muur regtig nodig is. Dalk net een hoog genoeg om die honde uit mekaar te hou en laag genoeg om steeds gemaklike kuiertjies met die mense om jou te hê. Ja, laag genoeg dat omgee en opregte liefde vir mekaar, gemaklik oor en weer kan glip.

Mede-Ma, dis soms nie so ‘n slegte ding as jou eie persoonlike grensmuur tuimel nie. Dit wys net weer hoe nodig ons Ma’s mekaar het, veral in tye waar slegs ‘n ander Ma jou hart kan verstaan. As jou muur geval het, soos ons almal s’n iewers in die onvoorspelbare lewe sal doen, moenie hom weer te vreeslik hoog bou nie. Gee die om jou, wat opreg is in hul aanbied van liefde en omgee, ‘n kans om jou by te staan.

Nee, ons muur is nog nie weer opgebou nie. Kleinman geniet die vryheid om die rugbybal twee erwe ver te skop en ek pluk nog na hartelus suurlemoene, ons besluit nog oor die hoogte van die nuwe muur… 🙂