‘n Ma vind haar rus…

Dis eers laatmiddag voor ek kans kry om by die Kleinman se leerwerk uit te kom.

Angstig en oorstuurs van rondjaag tussen drie skole, roep ek hom nader. Ruk sommer self sy boeke uit die tas en begin vra sy Geskiedenis en Aardrykskunde teen ‘n ongenaakbare tempo. Ek is moeg en wil klaarkry, moet boonop nog ‘n oormoeg Blom gaan bystaan met ‘n opstel wat kreatiwiteit verg wat hoegenaamd nie die tyd van die dag meer bestaan nie. Hy antwoord gedweë, maar toe ek ‘n effens langer asemteug vat sê hy: “Ek wonder maar net, as ek môre Natuurwetenskap skryf hoekom leer ons dan nou Geskiedenis?”

‘n Boek glip-gly stadig uit my hand en woordeloos gaap ek hom aan. Hy gaan voort: “Sal seker nou nie help as juffrou my oor fotosintese vra en ek vertel vir haar met watse wapens die San hulle prooi doodgemaak het nie.”

Verbaas vra ek of hy my nie net vroeër kon stop nie. My eerlike Kleinman vermors nie onnodige woorde nie: “Nee wat, mens stop mamma nie so vinnig nie, en ek moet in elk geval die Geskiedenis oormôre ken.”

Ons het ooreen gekom dat dit dalk nie die slegste ding was wat kon gebeur nie, en toe maar die regte vak betrek. ‘n Blom kry toe veel later die hulp van een met ‘n identiteitskrisis, met geen krummel kreatiwiteit oor nie en wys toe die hulp met rollende oë van die hand.

Vanoggend maak ek my tuis teen Sy bors. Wonder hardop of daar enige blywende skade gaan wees by my kinders oor hul ma soms onbeholpe voorkom. Kry myself met ‘n moedelose gesug jammer. Noem versigtig dat ek na al die jare my ma intens mis, aangesien sy my eerlik en reguit sou gesê het of ek droogmaak of nie. As antwoord kom Sy kalmte en rus in die woorde van:

Psalm 62:2 The Message (MSG)

 1-2 God, the one and only—
I’ll wait as long as he says.
Everything I need comes from him,
so why not?
He’s solid rock under my feet,
breathing room for my soul,
An impregnable castle:
I’m set for life.

En al waaraan ek vasklou, op ’n môre waar ek nie heeltemal so in beheer voel soos ek wil nie, is die woorde van hierdie psalm, Sy woorde aan my…en ek wil glo: “I’m set for life!”