‘n Naam vir R10

Lank gelede het my Pa ‘n tuinman gehad met die naam Barney (nie Barnato nie).  Hy het ‘n talent gehad vir hark.

Hy kon heel dag lank aan een blaar hark. Alhoewel hy nou nie van die fluksste soort was nie, was hy ons ou Barney, en my Pa se tiende.  So staan my Pa een middag by hom en vra: Barney, ons het nou ‘n nuwe hond gekry, maar ek het geen idee wat om hom te noem nie. Die vorige twee staffies was alreeds Buks 1 en Buks 2, so ons soek nou ‘n nuwe naam in die klein hondjie se eie reg. Barney staan so met sy arms oor die hark se steel, dink so bietjie en sê.  “Wat van REX?”

My Pa glimlag van oor tot oor en sê:  “DIT is nou ‘n briljante naam, dankie Barney.”

Barney hak af en sê:  “Wat van so ekstra tien randjie my Lanie omdat ek die naam uitgedink het…?”

Barney, jou opportunis jy.

Geld, ‘buckeroos’, ‘moola’, ‘bacon’.  Noem dit wat jy wil. As jy dit het kan dit jou pla en as jy dit nie het pla dit jou verseker.

So moet ons almal werk om te oorleef. Party sien geleenthede raak vir ekstra geld maak, soos oorle Barney, ander moet weer klomp ure insit om hulle pond vleis te verdien.  Werk hard en jy sal die vrugte pluk, anders gaan jy vrugte pluk, lees ‘n sogenaamde se-ding.

Daar is ‘n engelse gesegde wat sê:  “Rock bottom has built more heroes than privilege”.  Voel jy ook soms ‘rock bottom’?  Hetsy met jou finansies, jou huwelik, jou vriende?  Daar is baie fasette in die lewe wat jou dun op die grond gesmeer kan laat voel. Soms, aan die einde van ‘n maand voel dit of ek basketbal speel soos ek die leë ‘sjampoo’ bottel, die tandepastebuisie, die margarien houer, om nie te praat van die waspoeier of die ‘handy andy’ in die drom gooi nie.  Hoe is dit moontlik dat alles so gelyk op kan raak?   Kry jy ook soms ‘arc eyes’ van jou petrolliggie?  Oog op die pad. Oog op die naald van die petrol naald. Oog op die pad. Oog op die petrol naald. Kos koop laat my koud.  Dit voel of ek in die fetus posisie op my bed kan gaan lê as ek die pakkies klaar uit die motor gelaai het. Dit hou nie eers lank nie, ‘n week. Dalk.  Ek praat nie eers van my drome waaraan ek ook nog werk nie. Die kans om ‘n baba te kry en hom of haar “Paris” te noem is op hierdie stadium groter as om die strate van Parys (die een in Frankryk) te bewandel.  Spaar sussie. Spaar. Daardie dae wat jy moedeloos voel oor dit wat jy NIE het nie, loer net bietjie om jou. In die strate, veral by die dromme. My hart breek letterlik in stukke. Daarom doen ek die swartsakbroodjies.  Al kan ek dan een persoon kos gee op ‘n maandag is dit een minder wat honger ly.  Maak maar daardie toebroodjie, sit dit in ‘n sakkie bo-op die swartsak vir daardie een persoon wat krap-krap hulle hongerpyne probeer stil.  #swartsakbroodjies

PAY IT FORWARD…

Ek bid elke oggend vir my twee dogtertjies oppad skool toe.  Dankie vir ‘n dak oor ons kop.  Dankie vir kos op ons tafel. Dankie vir klere. Dankie vir ‘n warm bed.  Dankie vir gesondheid wat geen geld kan koop nie. Die basiese dinge wat ons net as vanselfsprekend aanvaar.  (‘n Geldjie af en toe vir ‘date night’)  DIT maak jou reeds ryk. Deur net die basiese dinge te kan hê. Onverdiend.

So ry ons weer een oggend aan’t bid. My 5 jarige onderbreek my gebed: “Mamma, wat is daai hond se naam nou weer wat agter Ouma se huis in ‘n gat gegooi is? Ek se vir haar: Sussie, sy naam was Rex, en hy is begrawe, en jy kan nie sommer so van hom praat nie, sy naam het ‘n storie en het R10 gekos.

“Money money money”….. (Soos ABBA gesing het).