’n Nuwe huwelik in 4 stappe

0
151
huwelik.jpg

Met hierdie vier tegnieke kan jy enige moeilike gesprek in julle huwelik op ’n goeie noot laat eindig.

Die meeste van ons vermy ernstige gesprekke oor verhoudings omdat ons bang is vir ’n rusie. Dit hoef egter nie so te wees nie. Deur net op ’n oplossing in plaas van die probleem te fokus, kan julle selfs nader aan mekaar kom.

1. Begin by ’n beskrywing van wat jy graag wil hê

DIE PROBLEEM: As ons oor probleme gesels, begin die meeste van ons met ’n beskrywing van wat fout is. Ons praat oor presies hoe erg die situasie is, hoe dit gebeur het en wie se skuld dit is. Wanneer ’n gesprek met die probleem begin word, is almal onmiddellik op die aanval of verdediging.

DIE OPLOSSING: Voor jy oor ’n situasie praat wat jou ongelukkig laat voel, dink eers aan hoe jy dit graag wil hê. Gestel jy voel dat jou man nie genoeg by die kinders betrokke is nie, dink dan aan watter scenario vir jou sal werk. As jy hom graag by al die oueraande wil hê, begin julle gesprek deur vir hom dit te sê.

As jy begin met ’n beskrywing van hoe jy graag dinge sal wil hê, word julle gedwing om onmiddellik op oplossings te fokus.

2. Onthou weer hoekom julle mekaar liefhet

DIE PROBLEEM: Na jare se getroude lewe kan paartjies in die gewoonte verval om gedurig net kritiek op mekaar te lewer, amper asof dit uncool is om mekaar se lof te besing. Deur voortdurend oor mekaar se foute te gesels, veroorsaak net negatiwiteit. In so ’n verhouding is daar beslis nie ruimte vir liefde nie.

DIE OPLOSSING: As jy ’n bietjie na ou foto’s kyk, sal jy vinnig onthou hoekom julle vir mekaar lief is. Vertel vir mekaar die storie oor hoe julle die eerste keer ontmoet het. Probeer onthou wat julle van mekaar gehou het en ook hoekom julle op die ou end met mekaar getrou het. Deur te onthou hoe dit aan die begin van julle verhouding was, sal julle weldra weer positief oor mekaar begin dink.

3. Gee weer ’n slag komplimente

DIE PROBLEEM: Ons gesprekke gaan dikwels oor die foute wat ons maak. Dis mos hoe die lewe werk: Ons konsentreer op die 3% wat verkeerd is in plaas van die 97% wat reg is. Deur heeltyd te praat oor hoe jou man nie skottelgoed was of sy klere optel nie, kan jou later heeltemal moedeloos maak. En hy kan selfs ophou probeer omdat dit voel of hy niks reg doen nie.

DIE OPLOSSING: Komaan, daar moet iets wees wat jou maat reg doen of ten minste hard probeer om reg te doen. In plaas van om op sy foute te konsentreer, probeer om hom ten minste net een kompliment elke dag te gee. Selfs al is dit klein, soos dat hy moeite met sy voorkoms gedoen het, verdien hy dat jy dit vir hom sê. Deur ’n slag te praat oor wat hy reg doen, kan hom laat voel dat jy sy moeite raaksien en nie net as vanselfsprekend aanvaar nie.

4. Dink anders oor julle huwelik

DIE PROBLEEM: Paartjies is geneig om hulle huwelik as “harde werk”, “eentonig” of “sonder opwinding” te beskryf. “Ons ken mekaar al so goed, ons voltooi mekaar se sinne,” is nog ’n cliché wat paartjies wat al lank getroud is, graag gebruik. Ongelukkig het woorde krag en as jy dit oor julle verhouding uitspreek, is dit presies wat julle huwelik gaan word.

DIE OPLOSSING: ’n Huwelik hoef beslis nie so moeilik te wees soos jy dit beskryf nie. Eintlik is dit baie spesiaal om iemand in jou lewe te hê saam met wie jy eendag oud kan word. Dink anders oor julle huwelik. Dink daaraan as opwindend en besonders en vier die liefde deur elke dag vir mekaar dinge te doen wat die ander een gelukkig maak.

Soms neem dit net ’n ander perspektief en ’n manier waarop julle oor moeilike goed praat om ’n oplossing te kry. Geen probleem is onoorkombaar nie, veral nie tussen twee mense wat mekaar liefhet nie.

Verwerk uit ’n artikel deur Elliott Connie, skrywer van The Solution-Focused Marriage.