‘n Nuwe Jy in God se hande

Praat ek laas Saterdag oor hoe om ‘n Super Selfbeeld te hê by Finesse se Nuwe Jy Fees.

Dit was nou wraggies lekker met die dames wat heerlik saamgelag en gedans het. Julle mag dalk nou wonder wat op dees aarde is ‘n Super Selfbeeld? Iemand wat te veel van hulself dink dalk?

Glad nie. In my opinie het jy ‘n Super Selfbeeld as jy weet wie jy is, dus weet wat is jou temperament met al sy swak-en sterkpunte, en dan spesifiek wie jy in Christus is. Almal van ons het ‘n unieke temperament samestelling geërf van ons grootouers aan albei kante. Maar dis nie ‘n geval van so gemaak en so gelaat staan nie.

Is nie nodig om humeurig te wees net omdat jou voorgeslagte almal so vinnig en maklik kwaad geword het nie. Jy sien, die slim mense kan lang lyste maak oor hoe pas jy waar in, hulle kan jou vertel watter siektes skuil in jou DNS en watter eienskap jy waar van wie oorgeërf het, maar hulle kan nie die werk van die Heilige Gees in jou stuit nie.

Wie en wat die mense sê jy is en wie jy dink jy is, verskil radikaal met wat God oor jou dink. Het jy geweet Hy het jou al geken en spesifieke planne met jou lewe gehad lank voor jy gebore is? Hoor wat sê Hy vir Jeremia in Jer 1:5: “Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan my gewy en jou as profeet vir die nasies aangestel.” God het nie net spesifieke planne met die manne en vroue van die Bybel gehad nie. Ook jy is vandag op hierdie aarde met ‘n doel en ‘n roeping.  Jy is nie hier as kloon vir enige iemand anders nie. Jy is jy. En jy moet die beste jy wees volgens God se plan vir jou lewe. Hoe doen jy dit? Glo en vertrou op God. Hy alleen kan ‘n Nuwe Jy voluit laat leef!

Vorige artikelMoet jy hom vashou of ruimte gee?
Volgende artikelProbeer jou bes (Deel 1)
Blogger - Lynette Beer
Lynette was ‘n direkteur in ‘n suksesvolle internasionale groep maatskappye waar sy verantwoordelik was vir bemarking en die persoonlike ontwikkelling van personeel. Sy het die temperamentmodel gebruik om ‘n nuwe produk saam te stel. In 2007 ontvang sy ‘n toekenning in haar industrie vir die mees suksesvolle besigheidskonsep en was bevoorreg om besigheidsaanbiedinge in Times Square, New York, sowel as in Londen te doen. Lynette Beer is ’n gepubliseerde skrywer van Carpe Diem Uitgewers met haar nuutste boek “Watter kleur is jou persoonlikheid” Sy het ook die “Presidential” toekenning verower by die Besigheidsvrou van die jaar funksie wat aangebied word deur die Nasionale Raad vir Sakevroue (SACBW). Besoek haar webwerf: www.lynettebeer.co.za.