‘n Nuwe titel as Koningskind

0
251

Hugo Klynstra is glo die buite-egtelike kind van Prins Carlos (die neef is van koning Willem Alexander van Nederland) en sy kleintydse vriendin.

Hugo is nou 21 jaar oud en wend hom tot die hof omdat hy aanspraak maak op sy titel wat sy koninklike herkoms weerspieël. Hy wil verder ook hê dat sy naam opgeneem moet word in die register van koninklike adellikes. In die meeste lande met monargieë kan buite-egtelike kinders nie aanspraak maak op koninklike titels nie. In Nederland mag hulle wel. Hugo wil die titel hê van “Sy Koninklike Hoogheid prins Carlos Hugo Roderik Sybren de Bourbon de Parme”. ‘n Mens het ‘n baie groot koevert nodig as jy vir hom iets wil stuur want daar moet genoeg plek wees vir so ‘n lang titel!

Lees bietjie wat Paulus skryf oor ons nuwe status wanneer ons kinders van God word:

Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God. Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader. Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid (Romeine 8:14-17).