‘n Ongewone klaaglied in die Karoo laat my diep dink

0
255

Daar is ’n Karoo in sy stem. ’n Groot Karoo en ’n klein ene. Dis hoe dit is as Hy praat. Dis soos ver rantjies in die laatmiddag op ’n trietsige wintersdag. Alles in jou verlang. Alles wens.

As jy om jou kyk, hoef jy nie te glo nie. Jy weet. Jy weet dat niemand jou ooit kan oortuig dat dit sommer net gebeur het nie. Jy weet dat hierdie plek soos ’n kunswerk is wat van ’n Kunstenaar praat. Jy weet dat toevalligheid net nie inpas by die wydheid hier voor jou nie.

Om te sê dat hierdie klip en stof en bietjies-bietjies Karoobos maar so uitgekom het toe daar uit die niksheid iets begin het, gaan hier nie aftrek kry nie. Hier giggel ’n mens daaroor dat enigiemand hoegenaamd sulke onsinnige gedagtes kan hê. Want jy weet. Die Karoo laat jou weet.

Die siel wil psalms maak wanneer dié plek se Maker aan die vroegaand kom werk. Hier en daar hoor jy ’n jakkals wat ook nie kan stilbly nie. Jakkals en uil weet daar moet gesing word as dit so lyk. Stil en wyd en mooi. Eintlik het “mooi” nie genoeg gewig om van die Karoo te praat nie. Dis asof “mooi” effens te vrolik is. Te lig en prettig. Die Karoo is mos nie rêrig mooi nie. Jy soek meer na Bybelwoorde soos “verhewe” of “skoon”. “Heilig” kan ook werk.

Iewers raak ’n donkie bewoë van dankbaarheid dat hy getuie kan wees van die kunswerk, as hierdie Karoo-winterdag sy pligte afhandel sodat die nag kan vertel. Want van vertel weet hy. Vertel van hoe stiltes uitbundig kan uitroep. Vertel van hoe dorheid beide loflied en smeekgebed kan wees.

Droë vlaktes lê in nederige oorgawe. Hulle weet van wag – wag sonder om hulle geloof te verloor. Vaal of groen, hulle bly opkyk met ’n dankbaarheid dat hulle hier kan wees. Hier onder die grote hemel saam met skaap en ribbok, springhaas, ystervark en springbok.

’n Boer kom huis toe met ’n moeë lyf wat al meer as sewentig Karoo-winters in die litte bêre. Sy skape is versorg. Soos reukoffers sê die diesel en olie aan sy hande dankie dat die trekker weer loop.

Binne brand ’n koolstoof en hang die geur van koffie en boerekos soos liefde in die lug. Sy wat nog steeds vir hom soos ’n godin lyk, kom met haar sagte kyk nader. Sonder om te praat loop twee harte oor. Voor die Aandster nog sy lê kan kry, skyn daar ’n dieper en belangriker ster in hulle twee se kyk. Alles hier is hemel.

Môre, vroeg, saam met die snerpende ryp, hoor jy die hartseer lied wat van ver af kom om ook die Karoo se oeroue heiligheid donker te kom maak.

Eers klink dit nie te boos nie. Maar tog, as jy mooi luister, so moet die midwinter se oggendwind nie klink nie. Dit moet sagter suis. ’n Tolbos moet saamrol en ’n koor van ou biesies by ’n droë damwal moet kan saamsing. Hierdie klank kom soos ’n dief met ’n masker aan. Hy sing saam. Effens krakerig, maar nie soos ’n jong boomtak teen ’n oue nie.

Jy wonder hoekom jou siel dan so onrustig kan word. Hier kom word jy mos stil. Hier kom jy mos weg van ’n wêreld wat te vinnig vir jou binneste begin beweeg het. Hier kom kyk jy mos terug so ver as toe ons liewe Heer nog in die stof van ’n ander heilige plek kom loop het. Wat is dit dan vandag dat hierdie klank wat so amper na die Karoo klink, jou hart se rus kom wegneem?

Jy kyk doringdraad se kant toe. Vier plastieksakke kwetter asof hulle vinke is. In ’n oomblik flits visioene deur jou gedagtes. Walvisse wat plastiekdode sterf. Oseane wat vergaan. Riviere wat verwurg word. Reënwoude wat nie meer huis kan wees vir sjimpansees en ander diere wat nog nie eers ontdek is nie.

En dan bid jy. Pleit dat die mensdom tot besinning sal kom. Pleit en bely. Want miskien was daardie vier plastieksakke aan ’n Karoo-doringdraad op ’n dag in jou kombuis.

Koos van der Merwe, bekroonde liedjieskrywer, digter, predikant en solokunstenaar.