In ‘n oogwink kan alles verander

verander

In elke mens se lewe gebeur daar soms dinge wat alles onherroeplik verander.

Baie maal is dit goeie nuus. Dink maar aan die dag wat jy jou man ontmoet het, of toe jy gehoor het jy is swanger of daardie oproep om te bevestig jy het jou eerste werk gekry. Daarna was alles anders.

Dan is daar ook die tye wat die lewe dwarsklappe uitdeel. Die afsterwe van ‘n geliefde, die nuus dat die gewas kwaadaardig is, die maatskappy wat toemaak en jou van jou inkomste beroof.  Klein oomblikke wat jou hele lewe in ‘n ander rigting stuur. Buite jou beheer.  Dit gebeur net en jy moet aanpas.

Jy kan alles wen of verloor binne minute. Dit is in sulke tye wat jy moet weet wie jy is. Moet nooit jou waarde bepaal in dit wat jy het of in dit wat jy doen nie. Geld, goed en status kan oornag van jou weggeneem word, maar jy moet kan staande bly.

Hoe doen mens dit?  Jy hou vas aan geloof, hoop en liefde. Vergewe dadelik anders word jy bitter. Bitter mense is gevaarlike mense. Dankbare mense het hoop. Ek sê altyd, hoop is ‘n droom wat aanhou al word ons wakker. As jou wêreld op sy kop gedraai het en dit voel vir jou alles val uitmekaar, moenie dit alleen probeer hanteer nie. Reik uit na die mense rondom jou… jou familie, vriende, kollegas, mede gelowiges by die kerk. Hou aan bid al weet jy nie wat of hoe of waarom nie, weet dat die Vader jou ook deur hierdie krisis sal dra.

Fokus op dit wat jy nog het en nie dit wat van jou weggeneem is nie. Help ander. ‘n Mens dink altyd jou situasie, siekte of krisis is die ergste totdat jy om jou begin kyk en ‘n hand uitsteek om ander te help. Onthou, elke krisis het ook ‘n einde en dan wag daar ‘n nuwe begin. Durf dit aan met dankbaarheid en vertroue in die Vader. Hy sal sorg.

Vorige artikelSkaamte se dood
Volgende artikelHoop
Blogger - Lynette Beer
Lynette was ‘n direkteur in ‘n suksesvolle internasionale groep maatskappye waar sy verantwoordelik was vir bemarking en die persoonlike ontwikkelling van personeel. Sy het die temperamentmodel gebruik om ‘n nuwe produk saam te stel. In 2007 ontvang sy ‘n toekenning in haar industrie vir die mees suksesvolle besigheidskonsep en was bevoorreg om besigheidsaanbiedinge in Times Square, New York, sowel as in Londen te doen. Lynette Beer is ’n gepubliseerde skrywer van Carpe Diem Uitgewers met haar nuutste boek “Watter kleur is jou persoonlikheid” Sy het ook die “Presidential” toekenning verower by die Besigheidsvrou van die jaar funksie wat aangebied word deur die Nasionale Raad vir Sakevroue (SACBW). Besoek haar webwerf: www.lynettebeer.co.za.