‘n Pretrit prutpot

Ek hou van pretparke, maar die pretritte is nie altyd vir my so prettig nie. My hoofrede is dat dit half belaglik lyk om op my ouderdom, op die kleuters se ritte te gaan klim.

Jy kan jou net indink as ek dit sou waag om siel alleen op ‘n paddatjie-rit wat rustig op en af wip, te klim. Mense sal beslis bietjie lag daaroor… Selfs ek weet, ek raak nou bietjie groot vir daardie tipe pretritte.

Die ware tuimel-tollende spoed ritte is nie my idee van pret nie. Ek kan nie self rem of op my eie spoed met die geweldadige vinnige rit af gly nie.

Ek!… is nie in beheer nie.

So is dit seker in die die werklikheid van die lewe ook. Ons lewensritte. Dit het ‘n manier om mens nou en dan op ‘n wilder tuimel-tollende rit te plaas. Gewoonlik onverwags en meestal vreesaanjaend, onbekend en sonder brieke. Jy gryp na jou waardigheid en kry spierspasmas van al die geklouery. Jy weet nie altyd waar jou nuwe, vreemde en uitdagende rit sal eindig en of dit vreugde kan bring nie.

En, die rit moet voltooi word. Ongelukkig kan mens nie êrens langs die pad afspring nie. Glo my, ek het gekyk. Jy moet al jou vertroue plaas in die veiligheidsstoeltjie en jou eie kleingeloof, in die hoop om bewaar te word.

Langs jou gooi sommige mense hul hande in die lug. Is hul gek?

Versigtig trek jy jou hande los van die veiligheidsstoeltjie af. Jy begin gil, want jy is op die rantjie van ‘n lang, maagdraai tollende afdraande.

Die rit veroorsaak vrees, trane, onsekerheid, selfs berou en rou. Iewers besef jy tog jy gaan dit maak. Dalk gaan jy iets nuuts leer en beleef. Al is dit bietjie skrikwekkend.

Gelukkig is mens darem nie heeltemal ‘ge’-los nie, want die stoeltjie hou jou stewig vas.

Ons verkies miskien die kleuterritte wat bekend is en waar jy in beheer voel. Maar, selfs al hou jy van die verveling van bekendheid, groei jy ook uit daardie ritte uit. Dit kan nie hoër hoogtes bereik of drome waar maak nie. Net die waagritte kan.

Die laat-los-manier bevry die meeste, want jy weet dat God jou steeds veilig in sy arms het, soos die veiligheidsstoeltjie. Al lyk die rit horribaal en skreeu-bang, met Hom in beheer, gaan dit jou bring waar dit moet. Die enigste voorwaarde is dat jy genoeg moed en geloof sal hê om oor te gee aan die rit.

Nuwe, onbekende en bangmaak ritte mag dalk vreesaanjaend wees, maar dit kan ‘n pot vol nuwe vreugde bring, so onverwags en keel-skree-opwindend soos ‘n maagdraai rit in ‘n pretpark.