‘n Rivier sonder walle

“The waters of a river are more essential than the banks;
but the river would do ill without these –
it would soon be lost in diffusion.”

Sonder die walle verloor die rivier sy identiteit. Is dit nog ‘n rivier daarsonder?

Die rigting waarin dit beweeg word vaag en soms selfs word die water stagnant, broei allerhande onheile daaruit en word dit uiteindelik dodelik. Of droog.

Wanneer die walle hoog is en die water laag, word sommige ontneem van die koel lafenis – die afstand is net te groot.

Waar wilgers groei op die banke van die rivier, is daar tekens van lewe op die oppervlak en diep fonteine waaruit die dorstiges kan drink.

Soms kerf riviere hulle eie walle oop, daar waar hulle met drif weer-en-weer loop, gefokus op die bestemming en die uiteindelike vryheid wat daar wag.

Koning Joram van Juda was soos ‘n rivier wat nie die nut of die waarde van walle kon sien nie. Sy oupa, Asa, en sy pa, Josafat, het so mooi die Here se leiding gevolg en binne Sy grense vir die Volk gehou. Maar Joram was ‘n walbreker.

Skaars word hy as koning gekroon, toe laat hy sy ander broers vermoor. Hy verlei sy eie mense om afgode te aanbid en trou dan boonop nog met koning Agab se dogter. Agab, wat presies dieselfde met sy koninkryk gedoen het. Walbrekers, water-laat-wegloop-ers, beterweterige skoorsoekers.

En in goeie Boere-Afrikaans hoor ek so in my gedagtes: “Koning Josafat draai in sy graf om as hy moet weet wat Joram alles aanvang!”

Die Here waarsku vir Joram deur die profeet Elia, maar hoor is min. Dan lees ons in 2 Kronieke 21:18:

“Daarna het die Here Joram met ’n chroniese siekte getref.
Niemand kon hom gesond maak nie. Na twee jaar was hy so siek dat sy ingewande uitgekom het.
Hy het baie pyn gehad en is uiteindelik dood. Sy mense het nie soos gewoonlik by die dood van konings vir hom ’n begrafnisvuur aangesteek nie.
Joram was 32 toe hy koning geword het en het vir agt jaar regeer.
Niemand was jammer toe hy dood is nie.”

Wat ‘n hartseer einde. Hy was ‘n koning sonder ‘n koninkryk. Dit was sy keuse.

Al wat Joram moes doen, was om binne die walle, die riglyne en grense, te bly wat sy voorgeslagte vir hom en die Volk uitgekerf het. As hy net sou voortloop op die pad wat die Here sy voorouers reeds jare gelede gewys het, sou hy ware koningskap kon ervaar. Nie die nagemaakte goudgeplateerde verskoning daarvoor wat hy met sy eie onderduimshede wou ontwerp en aanmekaarslaan nie.

Niemand was jammer toe hy dood is nie.

Ek weet nie van een ware dissipel van die Here wat in totaliteit aan Hom oorgegee was, van wie daar ooit hierdie woorde gesê is na hulle dood nie.

As roem en nalatenskap dan regtig so belangrik vir my is, moet ek hierdie oksimoroon omhels:

“As iemand onder julle belangrik wil wees, moet hy die onbelangrikste posisie onder julle inneem.
Hy moet bereid wees om alles te doen wat die ander van hom vra en moet die hele tyd reg wees om die ander te dien, of dit hom nou pas of nie.”
Markus 10:43 Die Boodskap

Dan moet ek my idees van belangrik wees laat gaan, dive bomb in die Here se rivier van genade in en binne die grense van Sy liefde vir my elke dag nader aan die wenstreep beweeg. Want op die einde wag daar dan vir my die roem van aangeraakte lewens, die nalatenskap van ‘n erkende leë plek en die liefdevolle omhelsing van die Vader.

“The Bible’s obituaries of good men are short.
There is no parade, no lengthened record on marble monument or polished stone.
They need none.
Their record is in heaven.”

Jou temalied vir die week: Till I found You

Vorige artikelBid opreg vir ’n wonderwerk
Volgende artikelEk sny hare vir Hom
Blogger - Maxie Heppell
Vir baie lank het my lewe nie regtig rigting gehad nie. 'n Gekompliseerde kindertyd, verkeerde keuses en dan die ongelukkige gevolge daarvan, het my gevange gehou. Tot daardie dag dat die Here Sy kind uit die modder opgetel en haar voete stewig op Vaste Rots laat land het. Psalm 40 bly tot vandag toe 'n groot favourite! Dit het my baie jare geneem om uit te kom by dit wat Hy nog altyd vir my lewe bedoel het. Maar nou is ek hier. En ek glo in God Drie-Enig, in die maagdelike geboorte, in Jesus aan 'n kruis, maar meer nog - aan die opgestane Jesus in my eie lewe. Ek glo dat Hy ons weer gaan kom haal en dat ek tot dan die Heilige Gees het wat my lei en my denke help vernuwe. In 2009 behaal ek my B.Th graad in teologie en sedertdien preek ek, praat ek en deel ek oral waar ek genooi word. Ek en my eerste liefde en ons langhaar-vierbeen meisiekinders bly tans op Jeffreysbaai in die Oos-Kaap en ons getuig gereeld: Die Here is nie net goed vir ons nie, Hy bederf vir ons!