’n Seksfantasie

0
12
liefde_met_passie.jpg

Sy:
“Ek het geslaap
   maar my hart het wakker gebly.
Toe hoor ek die man wat ek liefhet,
   klop en hy sê:
‘Maak vir my oop,
   my beminde bruid,
my duif, my volmaakte!
My kop is nat van die dou,
my hare is nat
   van die nag se klammigheid!’
“Toe sê ek:
‘Ek het al uitgetrek,
hoekom moet ek weer aantrek?
Ek het my voete al gewas,
hoekom moet ek hulle weer
   laat vuil word?’
“Maar die man wat ek liefhet,
steek sy hand deur die opening,
en my hart word onstuimig oor hom.
Ek staan op om oop te maak
   vir die man wat ek liefhet
terwyl my hande drup van die mirre,
terwyl die mirre van my vingers afloop
op die deur se knoppe.
Ek maak oop vir die man wat ek liefhet,
maar die man wat ek liefhet,
   het omgedraai en is weg!
Ek was so opgewonde toe hy gepraat het!
Ek soek hom maar kry hom nie,
ek roep hom maar hy antwoord nie.
Die wagte wat die stad patrolleer,
kry my,
hulle slaan my, hulle maak my seer;
die wagte op die mure
ruk my tjalie van my af.
Vroue van Jerusalem, ek smeek julle:
As julle die man wat ek liefhet,
raakloop,
sê vir hom die liefde verteer my.”
(Hooglied 5:2-8)

Dis nou tipies van ’n droom, sou jy sê. Nes ’n mens begin bly word omdat iemand geliefd na jou toe kom, verander die droom en is hy skielik weg. Dan dwaal jy boonop in die donker strate rond op soek na hom! Dis omtrent die gevoel wat ’n mens kry as jy hierdie gedig lees.

Dagdroom of slaapdroom

’n Meisie wat op ’n bed lê en haar in ’n seksuele fantasie verlustig, is dikwels die tema in antieke liefdesliedere. In erotiese geskrifte wat in Egipte gevind is, is daar afbeeldings van ’n naakte vrou wat op ’n bed lê en droom. Dit lyk of hierdie gedig in Hooglied ook so ’n tema het.

Die vrou vertel dat sy geslaap het, maar dat haar hart wakker gebly het. Die mens se hart is destyds beskou as die setel van sy gedagtes (kyk Gen. 6:5 OAV). Aan die een kant sê sy dat sy geslaap het, maar aan die ander kant dat haar hart wakker gebly het. Het sy nou geslaap (en dus gedroom) of was sy wakker? Dalk moet ons eerder sê dat sy óf geslaap en gedroom het óf dat sy gedagdroom het en haar in ’n seksuele fantasie begewe het.

Dubbele betekenisse

Hierdie lied is vol erotiese woordspel. Die vrou sê een ding, maar wat sy sê, kan ook ’n erotiese betekenis hê. In vers 2 hoor sy haar beminde wat aan die deur klop en sê: “Maak vir my oop.

[pagebreak]

” Naas die letterlike betekenis het dit ook ’n sterk seksuele ondertoon. Selfs konserwatiewe Skrifverklaarders erken dat hierdie woorde ook ’n versoek tot seksuele omgang is, dat haar beminde haar vra om vir hom oop te maak.

Die man se kop is nat van die dou en sy hare van die nag se klammigheid. Dit is waar dat dit nogal kwaai kan dou in Israel (lees byvoorbeeld die verhaal van Gideon in Rigters 6:33-40). Maar die man se woorde kan ook seksuele ondertone hê. Hy sinspeel op sy eie begeerte na seksuele vervulling. Hy is reeds nat!

Sy terg hom

Maar sy het nie nou lus om op te staan en aan te trek om die deur vir hom oop te maak nie. Buitendien het sy reeds haar voete gewas en wil dit nie weer laat vuil word nie. Ook hier het ons ’n dubbele betekenis. Die woord voete is in Hebreeus dikwels gebruik as ’n eufemisme vir geslagsdele. Daar is talle voorbeelde daarvan in die Ou Testament. Rut het daar op die dorsvloer by Boas se voete (geslagsdele) gaan inkruip (Rut 3:4). In Jesaja 7:20 het die Here met ’n skeermes die hare van die Assiriese koning se voete (geslagsdele) afgesny. In 2 Samuel 11:8 stuur Dawid Uria huis toe om sy voete (geslagsdele) te gaan was. Daarmee het Dawid geskimp dat Uria met sy vrou Batseba seks moet hê. Hy het gehoop dat Uria dan sou dink dat hyself die pa was van die baba wat Dawid by haar verwek het. Ons lees ook in Jesaja 6 van die visioen waarin die profeet serafs in God se teenwoordigheid gesien het. Elke seraf het ses vlerke gehad: met twee het hulle hulle gesig bedek (omdat hulle nie na die heilige God kon kyk nie) en met twee het hulle hulle voete (geslagsdele) bedek (uit respek vir God). In Deuteronomium 28:17 word die woord voete vir vroulike geslagsdele gebruik. Ons lees daar van “nageboorte wat tussen ’n vrou se voete uitgaan”.

As die vrou dus sê dat sy nie weer haar voete wil gaan was nie, gee sy waarskynlik daarmee te kenne dat sy nie seks wil hê nie. Maar hoe moet ons haar optrede verklaar? Waarom sê sy aan haar man dat sy nie seks wil hê nie? Sommige Skrifverklaarders sê dit is omdat die man te laat tuisgekom het. Hy kom klop aan die deur as sy alreeds in die bed en half deur die slaap is. Ander teoloë redeneer dat sy net besig is om haar man speels te terg.  Hierdie verklaring pas by die volgende vers, waar ons lees dat die tweetjies wel bymekaar slaap.

Hy kom in

Sy sê in vers 4 dat “die man wat sy liefhet sy hand deur die opening steek”.

[pagebreak]

Ook hierdie woorde het ’n dubbele betekenis. Letterlik beteken dit dat die man buite haar huis staan en dat hy sy hand deur die sleutelgat steek. Die sleutels van destyds was geweldig groot, en ’n mens kon inderdaad jou hele hand deur die sleutelgat steek. Daarom het die antieke mens hulle sleutels oor die skouer gedra (kyk Jes. 22:22 OAV).

Maar die vrou se woorde “die man wat ek liefhet steek sy hand deur die opening” dra weereens sterk seksuele ondertone. In die eerste plek weet ons dat ook die woord “hand” dikwels in Hebreeus as ’n eufemisme vir ’n man se geslagsdele gebruik is. Die woord “opening” verwys weer na haar vagina. Sy sê dat die man sy penis in haar vagina plaas. Die vrou beskryf dus die seksdaad. In die volgende sinnetjie beskryf sy haar emosionele belewenis wanneer die seksdaad plaasvind: sy sê dat haar “hart onstuimig geword het oor hom”. In die oorspronklike staan daar eintlik dat “haar binneste oor hom in beroering gekom het” (soos ook in die OAV). Hierdie vrou fantaseer dus in haar dagdrome oor die seksdaad.

Vervolgens sê sy dat sy opstaan om die deur vir haar beminde oop te maak, terwyl haar hande “drup van die mirre op die deur se knoppe”. Sy het bepaald te veel mirre aan haar gesmeer. In die antieke wêreld het vroue ruimskoots van mirre gebruik gemaak wanneer hulle hulleself vir die seksdaad voorberei het (kyk Spr. 7:17-18). Maar teoloë is oortuig dat ook hierdie woorde ’n dubbele betekenis het. Dit verwys na die vaginale afskeiding van ’n vrou wat seksueel geprikkel is.

Hy is weg!

In vers 6 lees ons dat wanneer sy die deur oopmaak, haar beminde nie meer daar is nie. Sy is hoogs ontsteld, want sy het oor hom gefantaseer. Sy gaan soek hom oral, maar kry hom nêrens nie. Toe sy in die strate ronddwaal op soek na hom, kry die wagte haar. Dit was die taak van die wagte om die stad te patrolleer, en dit was heeltemal ontoelaatbaar vir enige vrou om in die nag alleen op straat te wees. Immers, ’n vrou wat in die nag alleen op straat is, is as ’n prostituut beskou (kyk Spr. 7:11-12). Daarom gryp die wagte haar en slaan haar. Dan smeek sy die vroue in die stad Jerusalem om tog vir haar beminde te sê dat sy na hom verlang – indien hulle hom dalk raakloop.

Anders as in die ander liedere in Hooglied, het hierdie droom nie ’n gelukkige einde nie. Dit is nogal tipies van slaapdrome, maar ook in die werklikheid gebeur dit dat liefde onvervuld bly.