‘n Seuntjie het hulle gelei

In die boek “Oom Attie se Slaaptydstories” lees ek nou die dag die storie van ‘n klein seuntjie vir my kinders.

‘n Aandoenlike storie oor die 4 jarige seuntjie wat by die hospitaal beland het in die oorlogtyd omdat beide sy ouers dood was. Die verpleegster het vir hom ‘n bedjie gemaak in die saal waar die ouer vroue gelê het. Die seuntjie was baie stil maar het elke aand daarop aangedring om sy gebedjie op te sê en dit dan ook te sing voor hy gaan slaap. Een nag was daar weer ‘n lugaanval en almal was baie bang. Skielik was daar ‘n harde slag naby hulle en dit was opeens pikdonker in die saal. Almal was beangs en die seuntjie het vreeslik gehuil. Skielik het die verpleegster daaraan gedink om hom te vra om sy liedjie te sing. Dit het hom ‘n oomblik tot bedaring gebring en hy het saggies en met ‘n huilstemmetjie begin sing. ‘n Wonderlike ding het gebeur. In die donker het nog ‘n stem begin sing en een vir een het die ou dames almal begin saamsing. Die seuntjie se vrees het verdwyn en hy het uit volle bors sy liedjie gesing. Die ou dames het rustig geword.

Danksy die gebedjie wat ‘n mamma vir ‘n klein seuntjie geleer het…

Vanoggend val daar ‘n boekmerk uit my Bybel. My jongste tel dit op en wil weet wat dit beteken: “ We walk by faith, not by sight.” 2 Korintiers 5: 7 Ek verduidelik dat ons met geloof stap en nie op grond van dit wat ons sien nie.

Dit tref my later soos ‘n bom. Dis die versie wat ek ook nou nodig het. As ek rondom my kyk sukkel ek regtig om met tye die lig te sien. Die antwoord lê voor my. Deur ‘n dogtertjie wat ‘n boekmerk optel. Ons loop nie die pad op grond van wat ons kan sien nie. Ons loop dit deur geloof. Dit gee ‘n ander perspektief.

My oggendversie van 2 Kronieke 31:21 pas skielik daarby aan: “ In alles wat hy onderneem het…. het hy met sy hele hart gevra na die wil van sy God, en daarom was hy voorspoedig. (Koning Hiskia).

Om ons lewe voor God neer te sit vra dat ek met geloof moet loop, nie met wat ek sien nie.

‘n Seuntjie het die vroue gelei. My dogtertjie het my vanoggend gelei.