‘n Skoenboks toep

As daar maar net ‘n App (of in goeie nuwe Afrikaans: ‘n toep of program) was, vir onthou herinneringe.

Iets waarop jy kan klik en siedaar, jy is weer binne in een of ander spesiale gebeurtenis, waar jy alles net weer kan voel en beleef.

Dis amper iets soos daardie skoenboks vol droë blommetjies, kaartjies en keramiek goetertjies wat jou kinders deur die jare vir jou gegee het. Elke keer as jy dit oopmaak, spinnerak die spesiale herinneringe deur jou gedagtes. Somtyds is dit helder, maar ander kere kan mens nie mooi onthou hoe die of daai gebeurtenis was nie.

Dis nou die rede vir hierdie versugting na ‘n spesiale ultra virtuele toep.

Miskien is dit nie vir almal so nie, maar met ‘n tiener onder jou dak, raak die skoenboks items effens skaarser. Dus, wanneer ‘n spesiale herinnering opduik, gryp jy dit aan, want wel… soos baie weet, word tiener herinneringe nogal gekoppel aan oogrolle, toe deure, digitale oorpluisies en hul vriende se geseldskap. Ma is blykbaar net die beste en naaste noodsaaklikheid as die genoemde tiener dalk ‘n virus opdoen en jou aandag en medisyne benodig, of om hul rond te karwei, wanneer hul honger is, of selfs wanneer ‘n werkstuk by die skool afgelaai moet word (ons ma’s is mos maar suckers – somtyds, dalk meestal).

Hul besef nog nie dat hul eintlik van die veiligheid van hul huis hou nie, want hul is normale tieners en die opwindende lewe daar buite wink met ‘n hengse fanfare.

In elk geval, so gebeur dit dat ek en my man Kaap toe moet gaan vir vyf dae. Sussa moes as gevolg van skool by ‘n vriendin van my agter bly.

Ek pak pilletjies en pleisters vir enige bekende en moontlike gebeurlikheid. My man skud net sy kop en sê dat selfs ‘n apteker beïndruk sal wees met my voorraad mediese hulpmiddels.

Die langpad Kaap toe begin. Skaars halfpad weg, bel sussa. Sy is siek. Makeer sommer alles. My mediese vooraad voldoen sowaar nie aan die vereistes nie?

Die apteek word geskakel en ‘n aflewering gereël. Die skool word ingelig oor die pakkie medisyne wat daar afgelewer gaan word en ten minste nog twintig partye (naastenby…?!) raak betrokke by operasie medisyne vir die siek kind by die skool.

Intussen sit ek krom van selfverkniesing oor ek nie daar is nie. Ek! Die ma, wat op daardie stadium net beskikbaar is op whatsapp en as ‘n piepklein ronde fototjie op Find my friends. Tot in my gebeendere pyn die skuldgevoel oor die arme, dierbare ma waarin ek my siek bloedjie los vir die vyf dae.

Watter ma kan nie die ‘sjoe!’ van hierdie scenario verstaan nie?

Bloedjie raak gelukkig beter en van daar af raak die whatapps heelwat yler. Dis sekerlik goeie nuus. So neem ek aan…

Uiteindelik, toe ons weer tuis kom, besef ek die noodsaaklikheid van slim programmeerders. Hulle moet eenvoudig ‘n toep skryf wat virtuele herhinneringe kan opvang. My dierbare, stormsterk tiener het verlang. Sy kruip onder my arm in soos toe sy nog klein was. Ek prop die hele lekker gevoel van aandag gee en drukkies uitdeel, soos taai marshmellos in my onthou in en wens ek kan hierdie soete heerlikheid vir altyd beleef.

‘n Regte blommetjie-oomblik vir daardie virtuele skoenboks.

Mammas, ons moet sekerlik elke oomblik geniet saam met ons kinders, ingesluit die oogrolle en koue skouers. Die wat weet, sê dat mens eendag gaan verlang na die eenvoud van daardie oogrolle. Dis moeiliker wanneer ons kinders volwassenes is en jy handeloos moet toekyk hoe hul self met hul grootmens dinge moet worstel.

Maar intussen kan die tegnologiese slimmes iets soos ‘n klik op Find my memories vir ‘n virtuele skoenboks ontwikkel, gevul met daardie mooiste, spesiale herinneringe. Herbelewenis en al.

Hie-hie, ‘n ma mag mos maar droom.