ʼn Somerbruin lyf sonder sonskade

0
153
sonbruin.jpg

Die nuwe sonbruin voorkoms is baie subtiel. Dit beteken oneweredige strepe, ’n slegte reuk en oranje lyf is iets van die verlede. Lees hier hoe om dit reg te kry.

Die meeste vroue glo dat ’n sonbruin vel jou slanker en gesonder laat lyk. Met die onweerlegbare bewyse dat sonbrand kanker kan veroorsaak, is bottelbruin rome gewilder as ooit. Vroue word afgeskrik deur selfverbruiningsrome se slegte reuk en streperige afwerking en die geel velkleur wat dikwels daarmee gepaardgaan. Volg gerus hierdie slim sonbruin stappe en jy sal nooit weer ’n fout met selfverbruiningsroom maak nie.

Die nuwe selfverbruiningsrome stink nie

Baie vroue kla dat selfverbruiningsrome sleg ruik en spring van die een na die ander handelsmerk in die hoop om een te vind wat nie die kenmerkende chemiese reuk het nie. Alle selfverbruiningsrome op die mark bevat egter presies dieselfde aktiewe bestanddeel, naamlik DHA (’n suikerekstrak wat die boonste vellae vlek), en dit is hierdie bestanddeel wat vreemd ruik.

Die nuwe generasie selfverbruiningsrome, soos Clarins Delicious Self Tanning Cream (R355 by uitgesoekte kettingwinkels), gebruik geurmiddels soos sjokolade en ’n beperkte persentasie DHA sodat die rome nie te onaardig ruik nie. Ander, soos die Sampar 3 Day Weekend Body (R395 eksklusief by Edgars en Red Square landswyd) bevat glad nie DHA nie, maar gebruik tegnologie wat jou vel se meganisme om donkerder te word stimuleer. Wat hierdie produk so fantasties maak, is dat dit geensins jou klere vlek nie en jy hoef hoegenaamd nie in die son te kom nie, maar tog sal jou vel bruin word.

Jy kan sonbruinroom gebruik sonder strepe

Die geheim om strepe te voorkom is tweeledig – afskilfering en bevogtiging. Jy moet jou lyf deeglik skrop voordat jy die selfverbruiningsroom die eerste keer gebruik en daarna elke derde dag. Streperigheid of bruin kolle wat vuil lyk, is areas waar dooie velselle oneweredig afskilfer. ’n Skropmiddel soos Mama Mio Omega Body Buff (R410 by spa’s en salonne) of selfs net ’n nat, warm waslap in reiniger gedoop, sal die werk doen.

Smeer altyd lyfroom aan jou elmboë, knieë, enkels, hande en voete voordat jy die room gebruik. Hierdie areas is die droogste op jou hele lyf en absorbeer meer kleur, maar verloor ook die kleur stadiger as die res van jou vel. Jy kan verder voorkom dat jou handpalms bruin word deur rubberhandskoene te dra voordat jy die selfverbruiningsroom aansmeer.

So maak jy sonbruin-uit-’n-bottel gloeiend

Jy sal stukke beter lyk met ’n gloeiende lyf as jy die regte brons skakering kry. ’n Heuningbruin glans op ’n lyf wat gewoonlik melkwit is, is pragtig. As jy jouself egter donkerbruin maak as jy gewoonlik porseleinbleek is, sal jy leeragtig, droog en ouer as jou jare lyk. Die rede is dat ’n donkerbruin velkleur nie lig weerkaats nie, terwyl die goue glans waarvoor Jennifer Lopez so bekend is, glinsterend is. Jou sonbruin kleur moet jou laat beter lyk en nie jou voorkoms oorweldig nie.

Jy kan die voorkoms kry deur ’n produk soos Palmer’s Natural Bronze Gradual Tanning Lotion (R70 by Dis-Chem) te gebruik, wat jou ’n songekuste resultaat gee. Smeer dit aan voor jy gaan slaap. Maak net seker jy het geen parfuum of lyfsproei aan nie om kollerigheid te voorkom. Jy sweet gewoonlik nie as jy slaap nie, en as jou lakens die oortollige room absorbeer, sal jou sonbruin nie te donker uitkom nie. As jy nie ekstra wil spandeer op ’n nuwe selfverbruiner nie, kan jy een deel selfverbruiner met twee dele lyfroom meng om jou eie ligte sonbruinroom te maak.

Geskryf deur Ryno Mulder