’n Storie van ’n mosterdsaadjie in Johannesburg

Derick se werk is daar naby die Universiteit van Johannesburg. Die hope studente wat daagliks verby sy kantoor stap, druk swaar op sy hart.

Hier is ’n groot saailand. Hier bondel ’n klomp energieke studente saam. Hulle moet God se Woord hoor!

Vir drie jaar stap Derick verby die vriendelike glimlag van die kantoorwag. Maar dié oggend is dit asof ’n stem vir hom sê dat hy by die wag moet stop en hy begin praat. Gou besef hy dat Alex, ’n Zimbabwiër, ook ’n wonderlike kind van God is en hy brand ook om iets vir die klomp studente te doen.

’n Plan kom stadig in beweging.

Radio Kansel versprei maandeliks ’n klomp Word Today Bybels. Derick se sekretaresse sit so ’n los papier binne-in elke Bybel met ’n uitnodiging om te kom praat as daar fout is, of sommer net. Alex is die aflaaier. Want sien, soos hy op sy rondtes stap om alles veilig te hou, deel hy uit aan die wat wil vat en ook aan die wat nie wil vat nie. En soos hy sy werk doen, val die saad een vir een op die vrugbare grond.

Derick vertel van Bybels wat hy teen kosprys koop. Hy vertel van jongmense wat daar by sy kantoor inloop, sommige kom ingestrompel. Honger mense. Honger vir God se reddingswoord. Dors vir sin in die lewe en liefde wat vol maak. Heelmaak. Hy sê:

Vele van die besoeke aan die kantoor het al uitgeloop op privaat gesprekke en gebed met die studente wat kom aanklop vir die Testamente in hul eie taal.

Dit is ’n fees om te ervaar hoe die Here se bedieningsplan hier groei.

En wat ’n wonderlike ervaring om Alex Moyo te sien blom oor dit wat hy besig is om by te dra om God se koninkryk hier op aarde te laat groei.

Uit die klein saadjie groei ’n grote boom.

En jy?