‘n Stukwerker red ‘n pastoor

0
14
Helping2.png

Op sommige plekke in Pretoria staan daar  altyd ‘n klomp stukwerkers. Wanneer jy daar stop om ‘n werker te kry om jou vir die dag te help, storm almal op jou af, en vier of vyf klim sommer tegelykertyd in jou motor, en dan moet jy die res met ‘n groot gesukkel uit jou motor kry en wegwys. Die afgelope naweek het Dr Johan Rademeyer, ‘n pastoor in die Pinkster Protestantse Kerk, ook so ‘n stukwerker van ‘n straathoek af gaan huur om hom te help om klippe op ‘n koppie te gaan laai vir sy tuin. Later, terwyl Rademeyer en Joseph Moyo (die stukwerker) die klippe gelaai het, het twee rowers hulle oorval en beide van hulle vasgebind. Een rower het die pastoor in die been geskiet. Terwyl een rower weggegaan het om geld te trek met die pastoor se bankkaart, het ‘n worsteling ontstaan, en Rademeyer en Moyo het daarin geslaag om die ander rower te oorrompel, waarna hierdie rower weggehardloop het. Rademeyer was baie swak van die bloed wat hy verloor het, maar Moyo het hom teen die berg afgedra tot by die snelweg.  Moyo het gewaai dat die mense moes stop, maar niemand wou nie. Uiteindelik het ‘n Sotho-vrou gestop  en gebel om hulp te kry.

Hierdie is vir my ‘n pragtige storie, selfs al is dit op ‘n tragiese storie gebou. Maar dit is vir my mooi omdat dit weer eens ‘n klomp goed vir my illustreer, en ‘n klomp vooroordele verkeerd bewys. Gewoonlik waarsku ons mekaar teen die stukwerkers, en vertel ons mekaar hoe gevaarlik dit is om ‘n onbekende en vreemde stukwerker by die hoek van ‘n straat op te laai. En dit is seker waar. Dit is gevaarlik. Maar ook in daardie groep mense is daar mense met ‘n goeie hart, soos daar ook mense is met ‘n bose hart. Is dit nie ook maar wat ‘n mens moet onthou as daar ‘n groep prokureurs bymekaar is, of ‘n groep akademici, of ‘n groep eiendomsontwikkelaars, of ‘n groep verkoopsmanne nie. Daar is goeies, en daar is slegtes onder almal van ons. As ons net kan leer om ‘n bietjie by mekaar stil te staan, en na mekaar se lewensverhale te kan luister, sal ons ook soveel menslikheid en omgee raak hoor, nie net by ons gegoede vriende nie, maar ook by stukwerkers. En ja, op die ou einde was dit ook ‘n swart vrou wat op die snelweg gestop het om ‘n gewonde en bloeiende wit man te help, terwyl talle wittes verby gery het.

Jesus het eenkeer tien melaatses genees. En dan lees ons in Lukas 17:15-16 die volgende: En een van hulle het, toe hy sien dat hy genees is, omgedraai en God hardop geprys. Hy het voor die voete van Jesus neergeval en Hom gedank. Hierdie man was ’n Samaritaan.” Ja, die Jode was verbaas dat dit juis ‘n Samaritaan was wat erkentelikheid teenoor Jesus gewys het. Wys die Bybelse verhaal en die verhaal wat hier in Pretoria afgespeel het, nie vir ons dat ons tipering van mekaar boos is nie. Goed en sleg hang nie af van die groep waaraan jy behoort nie. Dit hang af van die individu. Dit hang af van ons hart.