’n Suksesvolle ma kan goed beplan

0
102
Veronica_Bell.jpg

Veronica Bell, violis in die musiekgroep Zamar, glo struktuur en beplanning is noodsaaklik in ’n gesin.

Om ’n musiekloopbaan en vier kinders te balanseer…

… moes ek minder optredes doen. Toe ons eerste twee kinders, Christiaan (12) en Lian (10), klein was, het hulle saamgegaan wanneer ek moes optree, maar nou is die oudste twee se skoolwerk belangrik. Met optredes is dit nou net makliker om al vier by die huis te los by ons oppasser.

My gewone dag as ma met baie kinders…

… bestaan uit ’n vaste roetine. Ek staan sesuur op. My huishulp help om almal gereed te kry vir skool. Nadat ek Christiaan, Lian en Nika by die skool afgelaai het, begin my dag. Wanneer ons in die motor ry, speel ek gospelmusiek vir die kinders. Ons het so al fantastiese fokus-op-God-oomblikke gehad.

Die uitdagendste deel van ons gesinslewe is…

…om by almal uit te kom. As die oudste twee eksamen skryf, help ek hulle albei om te leer. As hulle dramaklas het, spandeer ek tyd saam met Nika (3). Saans gee ek ekstra aandag aan Kara, wat nou nege maande oud is, wanneer ek haar kos gee, bad en in die bed sit.

Dit is ’n uitdaging, maar ek laat die begroting klop…

… deur ’n weeklikse spyskaart en inkopielys te beplan: van ontbyt tot skoolversnaperinge en aandetes. Ons koop slegs op verjaarsdae groot geskenke. Die kinders kry ook nie alles wat hulle ogies begeer nie. Tog glo my man, Usher, daaraan om die kinders goed toe te rus vir hulle tennis en hokkie met kwaliteittoerusting.

Ek leer my kinders van God deur…

… geleenthede wat deur die dag opduik, te gebruik om hulle van Hom te vertel. Wanneer die kinders vrae oor hawelose mense vra, verduidelik ons dat ons kan help deur vir hulle te bid en die huis vir haweloses te ondersteun. Juis wanneer dit ’n moeilike situasie is en ek nie altyd die antwoorde het nie, gesels ons daaroor.

Wanneer ek georganiseerd is en beplan, kan ek…

… ’n goeie ma wees. Ek laat die kinders help met aandete. Christiaan en Lian rasper kaas of maak groente skoon. Nika dek tafel en almal help afdek. Skottelgoed was is niemand se gunstelingwerk nie tot ons aan die gesels raak. Die kinders waardeer dit as hulle nie alleen gelos word om die werk te doen nie.

Die moeilikste tyd van die dag is beslis…

… tussen vyf en agt saans. Ek hou die horlosie fyn dop om alles in te pas: vyfuur koskook, sesuur aandete en daarna badtyd. Die kinders het screen time tot agtuur op voorwaarde dat al die huiswerk gedoen is. Na agtuur moet die oudste twee afskakel deur te lees of Lego te bou. Dan sit ek die twee jongstes in die bed.

My idee van ’n lekker vakansie is…

… wanneer ons op ’n plek is waar daar aktiwiteite is vir die kinders. Ons doen nie te veel goed op een dag nie; een dag fietsry en die volgende dag swem. Ek probeer ook apart fliek saam met die oudste twee. Ons neem baie foto’s en sit dit op ’n memory board in die studeerkamer waar almal dit kan sien wanneer die kwartaal moeilik raak en ons motivering nodig het.