‘n Taxi en ‘n ID en ‘n storie tussenin

Ek sien die vrou aangehardloop kom. Sy lyk haastig. Klaar gewerk.

Die volgende oomblik hoor ek ‘n toeter. Ek kyk in my truspieeltjie. ‘n Geïrriteerde bestuurder blaas die toeter vir ‘n lastige taxi wat voor hom gestop het. Ek glimlag effens. Ons almal loop een of ander tyd deur. Almal ken daardie frustrasie. Ek het begrip vir die man.

Vandag voel dit om een of ander rede anders. Miskien omdat ek eerste die vrou gesien het wat die bult moes afhardloop. Die spanning op haar gesig aanskou het. Dis vir haar wat die taxi gestop het. Moontlik is sy onbewus van die herrie wat sy veroorsaak het, of dalk bewustelik doof en blind. Sy het min keuses. Net te dankbaar dat sy  die geleentheid huis toe kon kry.

Die vorige week was daar nog ‘n vrou wat my pad gekruis het.  Een wie se storie begin met ‘n chroniese hoofpyn, ‘n draai gaan maak by die taxi wat sy elke dag na werk moet vat. Haar man wat haar op ‘n sekere tyd verwag, die geld vat en nie toelaat dat sy met vriendinne  kuier, haar familie ontvang of Sondae kerk toe mag gaan nie. Sy houvas? Hy dreig om haar kind saam met hom uit die land te vat.

By binnelandse sake raak ek ook een middag deel van die genommerdes. Eers die een ry, dan wag tot hul jou nommer roep, volgende ry. Gelukkig het ek ‘n tydskrif saamgebring. Ek verkyk my tussendeur aan al die mense. Almal afhanklik van die wat daar werk. Sommige raak kwaad en staan op, ander hef hul stemme, sommige kriewel op die blink stoele… maar uiteindelik leer ons almal om maar te wag. Sonder ‘n keuse. Net nog ‘n nommer.

Wanneer jy eendag uiteindelik met jou kosbare boekie uitstap is jy verlig en dankbaar. Jóú gesig en jóú vingerafdrukke. Uniek. Dit vertel so baie maar eintlik weet dit so min. Sien jy ‘n taxi en ‘n bestuurder maar van die vrou wat die taxi moet vang weet ons net so min. Jy sien ‘n werker in netjiese klere maar van haar vrese om huis toe te gaan, of dalk laat te wees, weet ons niks.

Wanneer Jesus ook nie die klip optel nie en almal een vir een hulle klippe neergooi en wegdraai, is dit dalk omdat hy weet elkeen dra sy eie pakkie.

Geloof, hoop en liefde… maar die grootste hiervan is die Liefde.