’n Thaise tronk leer ’n ma en dogter hoe om pyn in iets positiefs te omskep

792

Duisende kilometers tot in ’n Thaise tronk het hulle langer as ’n dekade geskei. Vandag is ma, VANESSA GOOSEN, en haar dogter, Felicia, dankbaar om mekaar opnuut te leer ken.

Dis ’n prentjie wat jou hart laat breek: die dogtertjie met twee poniesterte en groot donkerbruin oë wat ’n vet soen op haar ma se mond plak. Dis moeilik, want die ystertralies is in die pad. Vroeg vanoggend nog was sy saam met Mamma, knus in haar arms, agter dié einste traliemuur.

Nou moet sy skielik “koebaai” sê vir die enigste huis wat sy ken. Sy verstaan nie hoekom nie. Sy weet nie dat die reëls bepaal dat ’n kind wat hier in die tronk gebore word, net tot op drie jaar by haar ma mag bly nie. Daarna moet sy “huis toe” gaan – na ’n land en mense wat sy glad nie ken nie.

Elke keer draai sy om en hardloop terug. Om vir Ma nog ’n soen te gee. Sewe, agt keer gebeur dit, maar Mommy, met haar hande styf om die tralies vasgeklem, huil naderhand so hard dat die dogtertjie besef sy moet eerder nie weer terugdraai nie.

Sy moet net aanhou loop, ’n vreemde lewe en toekoms in, saam met ’n tannie (ma se beste vriendin) wat haar nuwe versorger gaan word. Niks maak meer sin nie. Nie ma of dogter weet wat vorentoe wag nie.

Ook maar goed so, want baie hartseer, verlange en onvermydelike vervreemding lê vir hulle voor. Met ’n lewenslange vonnis, sal ma en dogter ooit weer by mekaar uitkom? En belangriker nog, sal die afstand tussen hulle harte, wat jaar na jaar al groter rek, ooit weer kan krimp?

FELICIA (dogter, 23) vertel: Die dag toe ek my ma moes groet – dit het gevoel of ek ’n deel van myself in die tronk se gange agterlaat. Asof my hart op die koue sementvloer val en iemand daarop trap. Stukkend.

Vir jare daarna was die plek waar my hart eens was leeg. Daar is maar min wat ek van die eerste paar jaar van my lewe in Thailand kan onthou. Dit was vir baie lank geblokkeer, so asof dit met daardie klein meisie gebeur het, nie met my nie.

’n Verstoteling. Dis die gevoel wat al die jare aan my bly klou het soos ’n neet: dat ek ’n fout was. Dat niemand my regtig wou hê nie.

Dit maak nie saak hoeveel liefde ek ontvang het nie, die gemis was altyd daar. My pa het lank gelede sy rug op ons gedraai. En my ma was so lank en so ver weg in ’n vreemde land se tronk dat ons vreemdelinge was vir mekaar.

En ek, ’n vreemdeling vir myself. Ongelukkig en ontuis. Dit het lank gevat om my identiteit te vind. Die kultuurskok was groot – om uit ’n Thaise tronk skielik vryheid te beleef, in ’n vreemde land en tussen mense wat heeltemal onbekend was vir my.

Betonmure, traliehekke en sementvloere was my eerste speelplek. Die gevangenes en hulle taal was my verwysingsraamwerk, en skielik kom ek Suid-Afrika toe waar daar groot, oop ruimtes is. Gras en bome en mense wat sê hulle is my familie.

Ma VANESSA het groot deernis met wat haar dogter moes deurmaak. Vir 16 jaar het sy deur haar eie hel gestoei.

Om op 21 die doodstraf te kry was die grootste skok van my lewe. ’n Besoek aan Thailand het by die lughawe op pad huis toe geëindig toe Thaise beamptes versteekte heroïen ontdek het. ’n Vriend het my gevra om boeke terug te vat huis toe. Die dwelms was in dié einste boeke versteek.

Wat?! Ek kon nie my oë glo nie. Kan ’n mens dwelms in ’n boek versteek? Niemand wou na my verduideliking luister oor die vriend wat wou hê ek moet die boeke vir ene Obey gaan aflewer nie.

Hulle het my uitgelag. “‘Obey’ is ’n kodewoord in smokkelkringe. Het jy dit nie geweet nie?”

Ek het nie. Dom en naïef, en kwaad en verbitterd om die prys te betaal vir iets waarmee ek niks te doen gehad het nie.

Om uit te vind van my swangerskap was ’n nagmerrie en ’n seën. Dit het beteken dat die doodvonnis in ’n lewenslange vonnis verander word. Maar hoe kry ’n mens ’n kind in hierdie situasie? Tussen duisende gevangenes, ingedruk in selle waar almal in haglike omstandighede op die vloer slaap?

Die toekoms was donker, net soos my hart en gemoed. Hoe oorleef jy so iets? Nie net as ’n mens nie, maar as ’n ma wat haar kind iewers vorentoe sou moes afstaan, wanneer albei mekaar se liefde en teenwoordigheid broodnodig het?

FELICIA: Dis ongelooflik hoe ’n mens se kop werk. Hoe jy dinge vir jouself kan opmaak, net sodat die harde werklikheid nie moet insink nie.

As jy niks werd voel nie, dink jy ook jy mag nie gehoor of gesien word of te gelukkig wees nie. By my “nuwe” ma-hulle wou ek vir niemand ’n las wees nie. Om van buite af sterk en onafhanklik te lyk was my grootste missie.

In my hart het ek geskreeu vir hulp en liefde, maar my eie leuens het my laat wegsink in stilte oor hoe ek regtig voel. Niemand mag geweet het nie.

Net my beste vriendin het die waarheid geweet, die res van die skool moes maar die storie glo dat my ma ’n model was op ’n lang, lang besigheidsreis oorsee.

Dit was nie heeltemal onwaar nie. Sy was ’n model, selfs op haar tyd ’n Mej. SA-finalis. En sy was op ’n besigheidsreis, tot haar arrestasie.

Ma. Iemand wat ek met verloop van tyd glad nie meer geken het nie. In my kop het ek ’n prentjie van haar opgemaak. ’n Fantasie oor ’n beeldskone prinses, ’n perfekte mens wat mooi, lief en saggeaard was. Elke sprokieheldin in elke fliek wat ek gekyk het, het oor dieselfde karaktereienskappe as my ma beskik. So het ek myself wysgemaak. Niemand kon so volmaak en perfek soos sý wees nie.

VANESSA: Tyd en afstand het harde leermeesters geword. Dit het my dinge laat onthou wat ek eerder wou vergeet, en goed laat vergeet wat ek tot elke prys wou onthou.

Wanneer die lewe wat jy ken, in duie stort, word jou hele idee van normaal onderstebo gekeer. Vryheid word ’n vreemde begrip, ver buite jou bereik. ’n Verskrikking waarna ’n mens hunker, maar waarvoor jy ook bang is.

Die reëls en roetine van my tronklewe laat my mettertyd veilig voel. Mense in uniform besluit wanneer ek mag opstaan en gaan slaap, eet of die puttoilet gebruik. Jy aanvaar dit so.

Die feit dat ek ’n kind en geliefdes iewers ver weg het, het ’n vae onthou geword, soos die buitelyne van ’n dowwe beeld.

Toe Felicia vir die eerste keer as sesjarige kom kuier het, het ek my verkyk aan die kind wat so groot geword het.

“Kyk net hoe het haar gesiggie verander!”

Sy het ’n toppie aangehad wat haar maag laat uitsteek het.
Dit het my so gepla dat ek gesukkel het om op enigiets anders te konsentreer. Ek wou heeltyd haar bloes aftrek. Toemaak. Beskerm. Die lewe daarbuite is vol gevare, weet sy dit dan nie?

En toe die wanhoop – hier sit ek, toegesluit. Nie in staat om haar op te pas nie.

Sy het aanmekaar gehuil. Hulle het so ver gevlieg, en sy mag nie eens langs my kom sit nie.

“Ek wil nie met haar praat nie,” sê my kind bot, en wys na my.

Die tronkbeampte het hardvogtig toegekyk. Ek wou die vrou wakker skud, op my knieë pleit vir ’n bietjie genade, maar wat gaan dit help? My veggees was aan die kwyn. Ek het my vingers deur die tralies gedruk om Felicia se klein handjie vas te hou. Die yster het seergemaak, maar ek wou nie laat los nie.

Sy het ’n pakkie hartjieplakkers by haar gehad. “Are you going to give Mommy a heart?” vra ek hoopvol.

“Yes!” gil sy opgewonde en hardloop na my vriendin toe om die hartjie op háár te plak. Ons twee kyk vir mekaar en knik.

Ek begryp. My kind ken my nie meer as haar ma nie.

“Dis reg, my skattebol,” roep ek haar nader. “Melanie ís nou jou mamma terwyl ek hier is. Maar jy kan my Vanessa noem.”

Die kleintjie se oë helder op, asof sy skielik ’n bietjie meer van haar deurmekaar wêreld verstaan.

Daarna sien ons mekaar net twee keer weer in die tronk. Dis elke keer ’n skok om te besef hoe groot die kind geword het. Hoe haar lyf verander. Hoe sy vrou word. En die besef dat ek absoluut alles mis!

Wie kan in ’n halfuur se kuier ’n leeftyd se herinneringe inhaal?

My hart pyn. My hare word grys. Kommer en verlange eis sy tol, maar die bietjie kontak wat ons het, laat my elke keer opstaan en terugveg. Aan hoop vasklou. Miskien, eendag, sal my lot verander.

FELICIA: My lewe ruk hand uit. Alkohol, partytjies, verkeerde vriende en slegte keuses. Ek verdien niks beter nie, maak ek myself wys. Al voel ’n mens so stukkend dat jy nie liefde of aanvaarding in jou lewe wil toelaat nie, beteken dit nie dat jy nie daarna smag nie.
Ongelukkig gaan soek ek op al die verkeerde plekke, want ek glo dis al wat ek verdien.

Iewers in my tienerjare begin ek skielik onthou en kry nagmerries oor die tronk. Die slegte reuk en die geraas. Die vroue wat skel en skree. Die tralies wat my en my ma uitmekaar hou wanneer ek gaan kuier.

En ook my ma se woorde: “Ek belowe, ek kom binnekort huis toe.” Hoekom vat “binnekort” so lank?

En toe gebeur dit! Ma is 37. Die Thaise koning het besluit ná 16 jaar is dit tyd om haar vry te laat.

Ek voel naar. By die skool word ek ’n paar keer flou. Niemand verstaan wat aangaan nie. Hoe moet jy beskryf dat jy tegelykertyd opgewonde en vreesbevange is? Dat jy so verskriklik uitsien na iets wat jy glad nie ken nie? Dít maak my angstig.

My voog-ma is ’n rukkie tevore oorlede; en nou kry ek weer ’n ma. My regte ma, maar ons ken mekaar nie. Hoe hanteer ’n mens dit?

Oorweldig. Daar is nie ’n ander woord om te beskryf hoe ek die dag op die lughawe gevoel het nie. Ek moes ’n paar keer badkamer toe hardloop om my natgeswete gesig af te spoel. Van senuwees en blydskap… die prinses in my kop kom huis toe!

VANESSA: …en toe land ek, en niks voel reg nie. My familie is vreemdelinge, almal lyk anders, ouer as toe ons laas gegroet het.

Die politieke bestel het verander. Almal is soveel groter as die klein Thai-mense vir wie ek lief geword het.

Die wêreld buite die tronk is groot, besig en gejaagd. Niks is of lyk meer dieselfde nie. Ek het elke oggend die koerant gekoop, sodat ek naarstiglik kon probeer inhaal, maar my weet en verstaan bly beperk.

En Felicia… my dogter… Ek moet myself voortdurend herinner: “Dit is my kind dié. Ek is haar ma.”

Dit vat nie lank vir ons om koppe te stamp nie. Ek is toe nie die goeie fee wat sy in haar gedagtes opgetower het nie. Sy sê ek is hard en loud. Kwaai en streng. Alles moet nóú gedoen word. Sy verstaan nie wat die tronklewe aan jou doen nie. Haar leefstyl staan my nie aan nie. Laatnag uit, vroegoggend terug. Ons leef in twee wêrelde. Verby mekaar.

FELICIA: Met Ma by die huis is my grootste wens dat sy kalmer raak. Stadiger en rustiger lewe. Mooi vra as sy nie van iets hou nie. Nie raas nie.

En ophou weird wees. Sy bid heeltyd en hang elke Sondag by die kerk uit. Vra my om saam te gaan, maar ek het beter dinge om te doen. So vertel ek myself.

Maar eintlik breek ek hierbinne. Talle selfmoordpogings oor die jare het misluk. Die gevoel dat ek nêrens hoort nie, bly kleef.

Op ’n dag stem ek in en gaan saam. Net hierdie een keer.

En daar verander álles. Die oomblik toe ek my hart vir die Here gee, kom lê daar ’n stuk verstaan binne-in my. Ek behoort aan Hom.
Is waardig, want Hy sê so. Is geliefd, want ek weet nou Wie my gemaak het.

Vandag loop ons saam die pad vorentoe. Ons het ’n hegte band as ma en dogter, gebind deur bloed, vergifnis en aanvaarding.

WAT ONS GELEER HET…

DIS ’N FOUT OM…
mense goedsmoeds te vertrou. Nie almal het goeie motiewe nie. As iemand jou vertroue het, kan hulle enigiets met jou doen. Wees waaksaam, weet wanneer om weg te stap.
DIE LEWE GAAN OOR…
keuses. In party situasies het jy nie ’n keuse nie, maar jy kan steeds kies hoe jy dit hanteer. Ander kere neem jy verkeerde besluite, maar dit bly jou keuse om dit reg te stel.
ONVERGEWENSGESINDHEID KAN JOU…
toekoms vernietig. Jy kan nie ’n lewe bou op woede en bitterheid nie. Die saad wat ons saai, bepaal die oes wat gaan opkom. Saai liefde, vrede en vergifnis.
’N SLEGTE SITUASIE IS GOED…
omdat dit jou na jou eintlike doel toe kan lei. Dit bou en vorm jou karakter, sodat jy eendag vir ander in dieselfde omstandighede iets goeds kan beteken.
TROTS KAN JOU OORTUIG…
dat jy nie goed genoeg is nie. Wanneer jy pyn jou reisgenoot maak, glo jy dat jy niks beters verdien nie. Dis ’n leuen. Daar is tweede kanse vir almal.
VRYHEID KAN…
uitputtend wees, veral wanneer jy gewoond raak aan mense wat vir jou sê wat jy mag en nie mag doen nie. Vryheid is ’n seën en verantwoordelikheid – hanteer dit so.
VERHOUDINGS WORD HERSTEL…
wanneer julle na mekaar luister en by mekaar leer. ’n Ouer weet nie altyd alles nie, en ’n kind is nie altyd verkeerd nie. Hoor mekaar se harte, verstaan en pas aan.
DIE GROTER PRENTJIE…
help ’n mens om struikelblokke te oorkom.
Jy verloor hoop as jy teen jou omstandighede vas staar. Maar daar is ’n groter plan aan die werk. Byt vas, tot die deurbraak kom.