‘n Tiener se preek maak ‘n Ma verheug…

tiener

Hy maak vir my rasend. Meeste dae wroeg ek en het ek my bedenkinge of enige preek, raad of selfs kompliment hoegenaamd die bruin oog se binneste bereik.

Hy is skynbaar slimmer, regtig groter en verseker sterker as ek, lag my uit as ek in my kwaai fluisterstem praat en maak my in so ‘n nagemaakte, fyn stemmetjie na, sou ek waag om hom te berispe.

Saans na ete kry een lid van die gesin ‘n beurt om vir die ander ‘n Bybel stukkie te lees, verkieslik voorbereid. Helaas, jy weet sommer dis ‘n bruinoog Tiener se beurt as hy sy mes en vurk skielik tydens ete neergooi en kamer toe spoed.

Kom hy dan met ‘n groot glimlag, Bybel in die hand terug, net om te lees waar die Bybel die betrokke aand sou oopval. Die vorige week het ek die gesin uitgedaag om op hul eie, elk een nuwe teksvers te memoriseer. Hierdie week sou ons die verse met mekaar deel.

Deur die loop van die week het ek telkens diplomatiese herinnerings laat val. Kleinman wat bietjie hulp benodig het met die keuse van ’n vers het syne vinnig onder die knie gekry en sommer myne ook saam my geleer.

Die aand breek aan en na ete vra ek wie wil begin. My blik kruis die van ’n Tiener wat na my mening heel ongemaklik lyk en my summier die josie in het oor hy na alle waarskynlikheid nie ’n vers het nie.

Kleinman steek hand op en rits sy versie gemaklik uit. Dit blyk dinge gaan bietjie teen ’n ruwe pas vir die Graad 8 Blom met aanpassing en baie huiswerk, haar versie kom stotterend uit terwyl sy in haar Bybel loer-loer. Die Tiener daag my uit: “Mamma kan voor my gaan, laat ons hoor!”

Dit kan slegs aan stage fright toegeskryf word, want my goed voorbereide versie het soos mis voor die son uit my geheue verdwyn. Ek kan om die dood toe nie die hoofstuk of vers onthou nie. My mede-leerder, Die Kleinman, help geduldig deur stukkies voor te sê tot ek die hele een kan opsê. Nodeloos om te sê wil die Tiener hom pap lag. Sy beurt breek aan en ek begin sommer klaar my aansit laggie uitdruk.

Groot my verbasing egter toe twee vonkelende bruin oë my stip aankyk terwyl hy sy versie sê. Hy ken nie nét die vers volledig uit sy kop nie, hy sit ewe ’n stukkie preek ook by:

Spreuke 17:17
Op ’n vriend se lojaliteit
kan jy altyd reken.
Jou broer is gebore
om jou te help
wanneer daar probleme is.

“Hierdie versie bevestig net wat mamma-hulle altyd vir ons geleer het van kleins af. Julle het gesê, die vyf mense om hierdie tafel is wie jy het, dis die mense wat daar gaan wees as daar probleme is. Die mense wat jou sal help en vir jou daar sal wees as jou sogenaamde vriende wegraak.”

My vreugde was egter veel groter as my verbasing, sien liewe mede-Ma, ons preke gaan sit wel, al dink ons nie altyd so nie en selfs al lyk dit ook nie altyd so nie.

Preek, gee raad en hou aan komplimenteer, op ’n dag wanneer jy dit die heel minste verwag sal hulle dit wel na jou terug refrein. Hou goeie moed.

Foto: Freepik