‘n Tweede kans

‘n Tweede kans – My kind in die swembad, geïnspireer deur Reinhardt Boshoff

Op ‘n warm Sondagoggend voor kerk, kom ‘n boodskap deur ‘messenger’ wat my vir ‘n oomblik laat sit en twee keer lees. Ek kry ‘n versoek om ‘n blog te skryf oor ‘n amper- swembadverdrinking en die tweede kans wat vir een spesifieke familie gegun is deur God. Die ironie van die versoek slaan my baie hard en ek sien die plan van ons Vader se Hand so duidelik dat dit my eintlik hoedervleis gee en vir die hoeveelste keer in my lewe die vraag laat afvra – hoe kan mense steeds dink dat dinge met toeval gebeur? Anine Boshoff versoek my om oor tweede kanse in die lewe te skryf en sy vra ‘n ‘tweede kans’ (ja ek) om dit te skryf. Ekself het ‘n verdrinking oorleef toe ek 4 jaar oud was en is gered deur my dierbare sussie, Jacolene Botha en ek besef hoe dankbaar ek is dat ek en my familie daardie kans gegun is in die lewe. ‘n Tweede kans word nie almal gegun nie en hierdie tweede kans wat hier sit en skryf besef dat hierdie geleentheid om so ‘n persoonlike gedeelte uit te dra na die lesers, ook reeds baie lank terug vir my beplan is.

Ek skryf hierdie met ongelooflik baie eerbied aan die families in Upington wat ek persoonlik ken en wat reeds kinders verloor het.  Glo vir my, ek kan nie vandag enige rede sien hoekom my eie familie ‘n tweede kans gegun is nie, behalwe dat dit absolute genade is.  Ek weet nie, maar as hierdie blog een familie, een persoon meer bewus maak van die gevare van swembaddens, kanale, riviere en hoe ontsettend maklik dit onder die oë van die allerdierbaarste vader-en-moeder oë kan gebeur, dan het ek en Anine ons doel bereik.

Anine se verhaal gee die raam vir die grootste gedeelte van die blog en ek gaan dit opbreek in segmente en weereens in haar woorde omskakel, juis sodat die leser die dieper en emosionele kant van so ‘n ouerpaar kan verstaan.

‘16 Augustus 2018: Anine Boshoff word geruk tot stilstand

Ek kry op ‘n doodgewone Donderdag die ontsettende slegte nuus dat een van my beste vriendinne se lewensmaat onverwags uit ons lewens geruk is en ‘n gebroke familie en kinders agterlaat. Ek sluit by haar aan vir ondersteuning, niksvermoedend van die pad wat vir my eie familie voorlê…

19 Augustus 2018: Ons lewe verander onherroeplik

Klein Reinhardt Boshoff was vir my en Wynand ‘n wonderwerk en ons het 9 jaar vir hom gewag. Alles aan Reinhardt was nog net ‘n wonderwerk en hy is selfs met ‘n noodkeisersnee gebore. Op ‘n ligte trant, ek was op ‘n vriendin se verjaarsdagtee eintlik al in kraam, maar het geglimlag en wou niemand teleurstel nie en Reinhardt is daardie aand op 4 November 2017 gebore. Reinhardt beteken “braaf, sterk en ‘brave as a fox’.

Dis my beurt om ‘n middag-slapie te maak en pappa en Reinhardt speel buite onder die boom op ‘n kombersie. Ek word in die kamer wakker om 16:45 en die oorverdowende stilte vang my onmiddellik, daardie stilte wat aankondig dat alles nie pluis is nie. Ek skarrel oor speelgoed om so vinnig as moontlik buite te kom en toe ek uitstap openbaar die beeld aan my iets wat ek nie kan verwoord of ooit weer wil sien in my lewe nie. Pappa lê en slaap op die kombersie en in die vlak kant van die swembad dryf my kind met sy mooi kleertjies aan, gesig na onder. Terwyl pappa en Reinhardt ingesluimer het, het hy onder pappa se arm uitgekruip reguit na die watergraf van ons swembad.

Die tydsverloop tussen wat ek gesien het en die gil van ‘n ma wie se kind in die swembad lê, was seker nie ‘n sekonde nie, maar dit voel soos ‘n ewigheid. Ek het verstar soos in jou grootste nagmerrie, maar die gil het vir papa en die bure attent gemaak en pappa is eerste in die swembad en het die pap lyfie op die gras neergesit en onmiddellik mond-tot-mond asemhaling gedoen. My hele lewe, my alles, het in daardie paar sekondes in duie gestort… om jou kind se lewelose lyfie op die gras te sien en die pogings van sy pappa om lewe terug te probeer kry, is die grootste nagmerrie wat jy jouself kan indink. Daardie oomblikke en sekondes is vir ewig in my vasgepen… my voshaarseuntjie is weg, hy is pap en yskoud. Ek het eerste my ouers gebel in ‘n waas van trane en mompel en gil en skree en ons bure het intussen opgedaag en ook gepoog om lewe in Reinhardt te kry. Maar nie een van hulle kry die lyfie weer aan die gang nie… dis stilte, dis koue, dis leegheid en dood wat my in die gesig staar op my eie grasperk.

Op een of ander manier kry die bure en my ouers mekaar en sluit hul by ons aan. My pa is ‘n dokter en om van ‘n gesoute dokter te vra om sy eie kleinkind weer lewendig te kry, is sekerlik die wreedste ding wat jy vir ‘n mens kan vra wat vir jare en jare in die professie staan om ánder se lewens te red. Hier is die taak voor hom om, in sy eie ontsettende emosionele toestand, sy eíe kleinseun te red wat op sy eíe kind se grasperk lê maar hier is ook waar God intree en ons almal in ‘n waas laat besef ons is nie alleen nie. Die wonderwerk van ‘n kind wie se hart reeds vir wie-weet-hoe-lank gaan staan het, tot ‘n kind met ‘n flou hartklop kom net van ons Vader af en oupa en ouma jaag met Reinhardt Hospitaal toe reguit in die ICU in.

Dag 1: ICU en daar is lewe

Hierdie segment van my lewe sal ek nooit ooit kan vergeet nie, daardie minute van wag en afwagting vir die geringste boodskappie en teken van hoop op herstel, dit maak jou mal. My buurvrou breek uiteindelik die nuus dat hy lewe aan my en die dankbaarheidstrane vloei onophoudelik en sonder skaamte of enige stop. Vriende neem my hospitaal toe en daar kon ek langs my kind gaan kniel en vir die eerste keer sien hoe hy skielik verander het vanaf die lewenslustige seuntjie na die lewelose pasiënt met pype, ventilator en masjiene oral in en rondom hom. Mense, daar is geen manier om oor te dra wat in my moederhart gebeur op daardie stadium nie.

My gebed en gesprekke met ons Almagtige Vader het oor en oor gedraai om my versoek dat Reinhardt asb moet lewe, dat hy normaal moet wees, dat ons ‘n tweede kans gegun sal word in die lewe. In daardie oomblikke maak ouers groot beloftes (of eerder geloftes) en die tyd wat ek aan God se voete spandeer, die gesprekke en versoeke is diepe en emosionele oomblikke wat ek altyd sal koester.

Dag 2: ICU en daar is hoop

Dit is juis wanneer jy die swaarste kry in die lewe, dat ander mense se hulp, deernis en goedheid die grootste impak op jou het en ons vriende, familie en massas mense wat ek van geen kant af ken nie, het ons in gebede en boodskappe gedra deur die uitmergelende minute en ure waarin jy jouself bevind. Reinhardt kom van die suurstofmasjien af, maar is steeds onder sedasie.

Dag 3: God, wees ons genadig

Op die derde dag kom Reinhardt onder sedering uit en alles is vir my onwerklik, die wonderwerk wat steeds voor my afspeel is te oorweldigend om te begryp of te verstaan.

Dag 4: Sit stil en hou God dop as Hy aan die werk is

Die nuus van ons Pediater is soos manna uit die hemel, onverwags en totaal onverklaarbaar. Reinhardt se vordering is so goed in so ‘n kort tydjie, dat ons dalk huis toe kan gaan binne die volgende 2 dae. Ons kan nie glo wat ons hoor nie en dankbaarheid loop oor my wange in strale water, water van verligting en aanbidding vir ‘n God wat ek nie voor genoeg kan dankie sê nie.

Dag 5: Van dood na hartedief

My kind wat 5 dae terug dood op die gras by my huis gelê het, herstel so goed dat hy almal se harte in die ICU steel en hy toon tekens van absolute normaliteit met handjies wat klap en vordering wat alle verstand te bowe gaan.

Dag 6: Normaliteit en ‘n absolute wonderwerk

Ons pediater deel ons mee dat alle toetse op Reinhardt wys daar is geen skade, dat alles normaal lyk en dat ons die volgende dag al kan huis toe gaan. Ons moet egter oor 3 maande Bloemfontein toe gaan vir toetse by nog ‘n Pediater om doodseker te maak. Ek is oorweldig … oorweldig deur my gevoel van dankbaarheid teenoor my almagtige God en Skepper wat my smeekbede verhoor het.

Dag 7: ‘n Wonderwerk verlaat die hospitaal

Dis foto’s en trane met die afskeid by die hospitaal, ons stap met ‘n wonderwerk uit by die deure en álmal wat ons bygestaan het besef wat hier plaasgevind het. Ons neem afskeid van ‘n plek wat ek hoop ek nooit weer in my lewe hoef te sien in dieselfde omstandighede nie, maar my dankbaarheid oorskadu enige ander gevoel.

3 Maande later in Bloemfontein

Tydens die besoek aan Bloemfontein kom die woorde van normaliteit en die wonderwerk waarmee ons te doen het, soos woorde van seën oor ons. Die pediater verwoord dat ons ‘n tweede kans gekry het en dat ons baie het om oor na te dink en dat hierdie met min ouers gebeur. My hele wese krimp ineen met die wete dat baie ouers in dieselfde situasie was en nie dieselfde uitslag as ons gekry het nie. Die dankbaarheid oorweldig my totaal en al en ek weet nie hoekom ons dit gespaar is nie, ek kan dit nie verklaar of toe-eien aan my eie smeking of gebede nie. Niemand kan nie en ek voel saam met elke ouer wat al hierdeur is, dalk met ‘n ander uitslag.

Die werking van God agter die skerms

Om die wonderwerk en die almag van God te verstaan, moet ek die volgende stukkies ook met jul deel. My pa was Saterdag die 18de Augustus 2018 oppad na Namibië vir ‘n Meobbaai duine-toer vakansie saam met ‘n vriend. Toe hul op die grens kom, het oupa se vriend die verkeerde paspoort gehad en het hy per ongeluk die oue geneem wat reeds verval het. Hul het teruggery Upington toe om vinnig weer terug te gaan en voor donker deur die grens te gaan. Niemand se gesoek na die paspoort kon dit te voorskyn laat kom nie en tot vandag toe, is daardie paspoort net eenvoudig weg. Oupa het beplan om op vakansie te gaan maar God het ‘n ander plan gehad vir hom en vir ons. Dit wat aanvanklik soos een massiewe ramp en frustrasie vir oupa en sy vriend gelyk het, het uitgedraai in die grootste wonderwerk wat vir ons familie gebring is. Oupa moes nie gaan visvang nie, sy taak was by die huis en sy taak was só belangrik dat deur sy vinnige reaksies hy sy naamgenoot, klein Reinhardt Jan-Willem sou red.

Hoekom ons, hoekom het God ons begenadig?

Ek en Wynand is doodnormale, sondige mense wat ‘n wonderwerk sien gebeur het en die vraag hieraan kan ons nie antwoord nie. Ons kan nie genoeg dankie sê vir Sy redding en hoe Hy ons voskop-seuntjie vir ons teruggebring het vanaf die dood nie. Hoekom ons gekies is en hoekom ander nie, kan ons nie antwoord nie. Ons sal God loof en prys hiervoor tot die dag van ons dood en ons sal oral en altyd getuig… moet nooit twyfel aan wonderwerke nie want dit bestaan.  Dit is elke dag in en om ons!

Hierdie verhaal van Anine het my weer teruggeruk na die feit dat ek as 4-jarige seuntjie in ‘n lagune in Transkei verdwyn het in 1978. Dit terwyl twee families met 4 volwassenes langs die wal baljaar en gespeel het, nieteenstaande die feit dat ek twee ouers het wat niks mis in die lewe nie, ‘n ma wat nie vir ‘n oomblik haar oë van haar kinders afhaal nie en wat steeds op 76 ‘n wakende oog oor ons hou asof ons steeds langs daardie lagune baljaar en speel. My sussie van 11 het my hoedjie op die water sien dryf en blote instink en spoed het haar genoop om te hardloop en in te duik en my te soek onder die water tot sy my vind, my onder haar arms te neem en uit te swem wal toe. My ma het eers bewus geword van wat aan die gang is toe my sussie reeds in die water is, oppad na haar boetie. Tot vandag op 44-jarige ouderdom, vrees ek diep donker water en my ouers het baie moeite gedoen om my weer lief te maak vir water daarna en so goed daarin geslaag dat enige persoon wat my goed ken, sal weet dat wolke en water my hemel uitmaak.

Wat wil ek hierdeur vir julle vandag as lesers oordra: Tweede kanse bestaan in die lewe, wonderwerke bestaan, God het reeds die pad en die uitspeel van jou lewe bepaal nog lank voor jy in jou moederskoot gevorm is en die feit dat jy hierdie lees, dat jy ‘n blog in 2019 lees vanaf ‘n tweede-kans mens, moet vir jou God se ingryping in elkeen van ons se lewens weergee. Hierdie verhaal het my diep aangeraak en ek hoop klein Reinhardt Boshoff gaan die ongelooflike plan wat ek met my hele wese glo vir sy lewe is, volmondig en met oorgawe in dankbaarheid teenoor God uitleef. Hy sing glo klaar die woorde “halleluja” en ek stel myself die beeld voor van ‘n Almagtige Vader wat glimlag en saam juig oor hierdie familie se dankbaarheid en eerbied teenoor Hom wat vir hulle so ‘n kans gegun het. Tweede kanse gebeur en as jy en die familie waarmee dit gebeur dit nie aangryp en die allerbeste van dit maak nie, mis jy God se plan weereens daarmee. Gryp vandag aan, kyk uit vir jou tweede kans, sak op jou knieë en pak die lewe opnuut en vars aan in die almag van ons Almagtige Vader, Skepper van Hemel en Aarde (en tweede kanse).

Vorige artikelDapper om God, Eerder as die Mens te Vrees
Volgende artikelVan huishulp tot Ikoon
Blogger - Len Fourie
Len matrikuleer in 1992 te Hoërskool Upington en behaal 5 jaar daarna sy Magistergraad in Stads-en Streeksbeplanning (1997) aan die Universiteit van die Vrystaat. Len begin reeds in 1995 as student werk by Macroplan Stads-en Streeksbeplanners in Upington (dieselfde Firma waar hy permanent aansluit as Stadsbeplanner in opleiding einde 1997), na voltooiing van sy M-Graad studies. Len is bevoorreg genoeg om in 2006 Hoof Stadsbeplanner te word en die Firma Macroplan se bestuur oor te neem. Len het ‘n absolute passie vir sy Hemelse Vader wat hom die gawe gegee het om sy talente in die lewe uit te leef, ‘n groot liefde vir sy geboortedorp Upington, sy gemeenskap en die Noord-Kaap Provinsie in geheel. Die aspekte wat Len se hart vinnig laat klop sluit in enige vorm van toer, verkenning van ‘n nuwe plek, nuwe land, hetsy in Afrika of enige land oorsee, die neem van amateur foto’s en veral die bestudering van die klimaat. Die lewe bid soveel skoonheid en hy wil dit vasvang en dit met mense deel.