‘n Uitdaging saam met God

In die begin van die jaar is ek uitgedaag om een woord te kies, iets waarmee ek sukkel, en dit dan my woord vir die jaar te maak en daaraan te werk.

Toe ek die uitdaging hoor het die woord ‘dissipline’ sommer dadelik in my gedagtes opgekom. Ek sukkel baie met dissipline. Ek het soveel dinge wat ek graag ‘n sukses van wil maak, maar die dissipline ontbreek my.

En eweskielik een aand kom maak die Heilige Gees my bewus van hoe ek nog nie hierdie saak vir die Here gegee het nie. Ek probeer nou al vir so lank hierdie kwessie by myself uit te sorteer, ek raas met myself wanneer ek wéér nie moeite gedoen het nie. Ek belowe myself dan dat ek môre moeite sal insit, en ek dink nie eers ek hoef te sê nie, maar ja, kom môre dan het ek dit alweer nie gedoen nie.

Toe die Heilige Gees my kom bewus maak dat dit eintlik so eenvoudig is om hierdie saak, waarmee ek so sukkel, net vir die Here te gee, het ek dadelik gestop en dit voor die Here gesit en gevra dat Hy my sal lei en help om tyd te maak vir al die dinge wat ek so graag suksesvol wil afhandel. Dadelik het daar ‘n vrede my hart gevul en ek weet nou dat hierdie dinge een-vir-een goed afgehandel sal word.

Mag jy vandag jou een woord ontdek en dit sommer dadelik vir die Here gee om jou daarmee te help. Moet nie dinge deur jou eie krag of vermoë probeer doen nie, dit is baie meer die moeitewerd wanneer jy dit saam met God aanpak.

Seënwense,

Stephanie