“’n Weeskind kan ook ’n sukses maak van die lewe”

973

As weeskind het Heinrich Gabler min hoop gehad vir ’n goeie toekoms, maar deur ’n wonderwerk het hy op die plek beland wat sy lewe verander het. Hier is sy getuienis.

Voordat my ma oorlede is, was die lewe swaar. Sy het heeltyd gewerk, terwyl my pa hom dikwels aan drank vergryp het.

Ek was nege jaar oud toe ek by die kinderhuis se deure ingestap het. ’n Motorongeluk het my ma weggevat en my pa het daarna spoorloos verdwyn. Ons was vier kinders. Die een dag is jy nog ’n gesin en die volgende dag word julle uitmekaar geskeur.

Alhoewel ek skielik in ’n omgewing was met kos en ’n warm bed, was my hart stukkend. Dit was ’n baie emosionele tydperk, vol verlange.

Niemand wil in ’n kinderhuis wees nie, maar uiteindelik is dit die beste plek waar jy opgeneem kan word as jou wêreld uitmekaar val. Dit is die plek wat jou stabiliteit gee in jou deurmekaar gemoed en wêreld.

Soos die meeste ander tieners, het ek deur ’n fase gegaan waarin ek die lewe bevraagteken het. Dit is in hierdie tydperk dat ek my hart vir die Here gegee het.

Huis Andrew Murray het my lewe verander. Christa Brits, my huisma, het in my geglo en aangemoedig om die beste van my lewe en toekoms te maak. In skoolvakansies het ek op my pleegsorgouers se plaas gekuier. Hulle het my regtig toegevou in liefde.

Op skool het ek uitgeblink in sport, soos atletiek, rugby en binnenshuise krieket, en was lid van verskeie provinsiale spanne. Dit het my selfvertroue gebou en my gehelp droom oor die toekoms.

Gedurende my studentejare het ek hard daaraan gewerk om ’n professionele rugbyspeler te word. Tussendeur het ek ’n laerskoolrugbyspan afgerig en ek was mal daaroor. Dit het my laat besef dat daar niks anders is wat ek wil doen as om met kinders te werk nie.

Vandag is ek ’n onderwyser by Hugenote Laerskool. Dit is wonderlik om in die posisie te wees om ’n verskil te maak in kinders se lewens, veral vir diegene wat ook in die kinderhuis is.

Ek is tans een van die tien finaliste in die Mnr. Suid-Afrika 2018-kompetisie en geniet die geleentheid om my storie van hoop met ander mense te deel. As ek wen, sal ek ook graag ’n liefdadigheidsorganisasie wil begin om minderbevoorregte kinders te help.

[divider style=”8″]

Huis Andrew Murray (HAM) se passie is om vir weeskinders ’n gebalanseerde kinderlewe te gee, sodat hulle as goeie grootmense die buitewêreld kan betree.

Dié organisasie, wat deur ’n beheerraad bestuur word, se hoofdoel is om hoop te gee deur middel van standvastigheid, liefde en geloof.

Die personeel by HAM is opgelei om aan die kinders se fisiese en opvoedingsbehoeftes aandag te gee, en staan hulle ook emosioneel by en leer hulle van die Here.

Jy kan vir ’n weeskind standvastigheid gee vir die toekoms. Belê in Huis Andrew Murray se doel en besoek www.andrewmurray.org.za vir meer inligting. Jy kan hulle ook skakel by 021 873 3834 of volg hulle op sosiale media by @HuisAndrewMurray.

Stories van hoop word aangebied in samewerking met Mergon.