‘n Wenresep vir die lewe

Dis nie jou omstandighede wat jou terughou nie, dis jou perspektief op die lewe wat jou aan bande lê. Hoe ons dink bepaal hoe ons die lewe sien, hoe ons optree en reageer.  ‘n Negatiewe houding bring jou nêrens nie.

Ek het nog nooit gehoor dat ‘n kampioen sê “ag, dis nou maar hoe dit is” of “ek is so gebore en so laat staan nie.” Met kampioen bedoel ek ook nie net ‘n sportster nie, ek praat van die lewenskampioene. Die mense met ‘n so ‘n ekstra skitter in die oog. Asof hulle een of ander geheim ontdek het en nou lekkerkry daaroor.

Luister jy na hierdie mense se stories, dan laat dit jou sprakeloos. Dis deurspek met tragedie en verlies, maar in plaas van “kry my jammer”, hoor mens, “ek is dankbaar.” Voorbeelde hiervan is volop. Ek dink maar aan Mathys Roets, die Afrikaanse sanger wat hom nie laat onderkry het deur ‘n motorfietsongeluk nie. Hy gaan kamp, speel golf, ski en ry bergpasse uit in sy rystoel. Ek het al onderhoude van hom op TV gesien, die ekstra skitter in die oog is daar.

Vanoggend gooi ek so vinnig ‘n oog oor Facebook en daar tussen al die baie klagtes, gedagtes, foto’s en dinge, gewaar ek skielik die jong man in ‘n swart toga wat ‘n graad onder sy ken vasknyp. Sy oë blink, sy glimlag is wyd. Mede blogger, Annette Willemse van die NWU se Vaalkampus het die foto gedeel van Letlhogonolo Mafela. Mnr Mafela is sonder arms gebore, maar op 9 April 2019 het hy sy B.Com. in Ekonomie behaal aan die NWU se Mafikeng kampus. Duidelik ‘n jongman wat hom nie deur sy omstandighede laat onderkry nie!

Net maar ‘n paar klieke verder en daar is ‘n foto van ‘n jong meisie,  Jeanne-Mari Viviers, wat onlangs haar LLB in Potchefstroom ontvang het. Die knop in my keel het gekom toe ek besef dis haar gidshond wat saam met haar graad gevang het, so ewe ook met ‘n rooi band om die nek.

Duidelik het sy ook die wenresep ontdek. Dis eintlik so eenvoudig, meng net ‘n positiewe ingesteldheid met gelyke hoeveelhede deursettingsvermoë, veerkrag, dankbaarheid en harde werk…