Nádine en Gerhard: KERSFEES sonder ’n pa

0
204
gerhard_nadine.jpg

Kersfees is familietyd, saam met jou ma én pa. Maar nie vir Nádine en Gerhard Steyn nie. Die twee sangers gesels vir die eerste keer eerlik hieroor. En hulle wys (uiteindelik) vir ons hulle ma’s!

Die sangers Gerhard Steyn en Nádine is hoofsaaklik deur hulle ma’s grootgemaak. En albei se ma’s het ’n merkwaardige verskil in hierdie twee talentvolle mense se lewens gemaak. Vroualleen.

Linda, Gerhard se Engel

GERHARD SÊ

gerhard_ma.jpgNatuurlik het ek my pa gemis – maar dit was beter om sonder ’n pa groot te word as in ’n huis waar daar voortdurende spanning was, veral toe dit in fisieke geweld ontaard. Die dag toe my ma besluit het sy gaan skei, het sy die regte besluit geneem, eerstens ter wille van haar drie kinders, maar ook vir haarself.

Dit kon nie maklik gewees het nie. Ons was drie besige knapies. Om ons finansieel en emosioneel te onderhou, moes uitputtend gewees het. Boonop was ek hierdie rebel without a cause.

Die kontak tussen ons en my pa het geleidelik minder geword totdat daar niks meer was nie. Twaalf jaar gelede het my pa se familie ons laat weet hy het gesterf.

Ek was lank kwaad en het met baie onsekerheid in myself gesit. Maar tussendeur dit alles was my ma daar – standvastig, stabiel, die arend onder my vlerke. Met haar eindelose liefde het sy ons opgebou, sterk gehou en in onsself laat glo.

Toe ek aankondig dat ek my voltyds in die musiekwêreld wil begewe, kon dit nie vir haar maklik gewees het nie. Die musiekbedryf is maar onseker. Sy het egter gesien dat ek ernstig daaroor is, en het my ondersteun.

My ouers se situasie het my beslis skrikkerig gemaak om tot trou te kom, hoofsaaklik omdat ek gesien het hoe ’n negatiewe verhouding mense kan verwoes. Ek is nie bang dat ek ooit soos my pa sal wees nie; ek wil net graag ’n goeie man en eendag ’n pa wees.

My ma het nooit probeer om ’n ma én ’n pa te wees nie. Sy was net die beste ma wat ek kon droom om te hê. Ten spyte van ons omstandighede het sy altyd gesorg dat ons Kersfees hou. En my beste Kersfees ooit? Die afgelope drie jaar wat ek my ma en my broers genooi het om by my huis te kuier – en soos ’n regte ouboet hulle te kon bederf.

[Pagebreak]

LINDA SÊ

Gerhard is gebore binne ’n uur nadat ek geboortepyne begin kry het. Dis dié dat hy vandag steeds so haastig is. Die kind het op sewe en ’n half maande al begin loop! Dis die reine waarheid.

Hy het baie geworstel om vrede te maak met die egskeiding en sy swak verhouding met sy pa. Hy het gelukkig daardie struikelblok oorkom. Vandag is hy ’n positiewe mens met ’n betekenisvolle lewe.

Dit was sleg om te sien hoe swaar hy kry. Ek het baie gebid vir leiding – om die regte besluite oor my kinders, finansies lewe te neem. Verder het ek gevra dat my seuns sal weet hulle Hemelse Vader is Koning en dat hulle vir niks beter kan vra nie.

Dit was nogal ’n uitdaging toe Gerhard sê hy wil musiek sy loopbaan maak. Ek het begin bid dat God die regte persone op sy pad sal bring en dat hy mense met sy musiek sal bereik.

’n Maklike pad was dit beslis nie. Hy moes heel onder begin. Maar saam met die sukses kom daar uitdagings ook. Al wat ek dan kan doen, is om daar te wees en te vra dat hy beskerm sal word.

Daar is niks in my lewe wat ek anders sou wou doen nie.’n Mens leer uit alles. Dis die pad wat ek moes stap en God was by my, treetjie vir treetjie.

Carine, Nádine se grootste aanhanger

CARINE SÊ

nadine_ma.jpgMy kind is ernstig gebore. Sy wou my nooit teleurstel nie.

Ek en haar pa is geskei toe sy nege maande oud was. Sy is die enigste kind. Ek kom uit ’n gesin waar daar Sondagmiddae ’n groot ete gekook is, terwyl nie ek of Nádine van kook hou nie. Ons het seker vyf dae ’n week in haar grootwordjare uitgeëet. Kentucky was haar gunsteling.

Ons was nie net as ma en dogter na aan mekaar nie, maar daar was ook ’n besigheid- en vriendskapsverhouding tussen ons.

Ek het self ook gesing en ek onthou die eerste keer wat Nádine op die verhoog was, baie goed! Sy was seker so drie toe sy tydens een van my vertonings op die verhoog geklim en gesê het: “Daardie tannie is my mamma.”

Na haar eerste album uitgereik is, was die koeël deur die kerk en dit was ook tóé dat ek haar agent geword het.

[Pagebreak] My kind het so vinnig grootgeword. As tiener moes sy al grootmensbesluite neem. Haar eerste album het ek gefinansier. Sy moes promosies by winkelsentrums doen om seker te maak mense gaan kyk na haar konserte.

Die jaloesie was baie erg, veral op hoërskool, maar ek kon nie inmeng nie. Sy moes leer om dit te hanteer. Al wat ek kon doen, was om raad te gee, aan te moedig en haar herinner aan haar droom.

Nádine is baie sensitief. Ek glo dat sy oor die jare sterker geword het. Gelukkig is ek steeds daar, die kwaai tierwyfie wat alles vir haar kind sal doen. Ek weet nie hoe Nádine my eendag gaan onthou nie. Al wat ek hoop, is dat sy sal onthou dat ek vir haar nét die beste wou gee.

NÁDINE SÊ

My ma het ’n onmeetlike groot aandeel nie net in die mens nie, maar ook in die kunstenaar wat ek vandag is. Met haar aanmoediging, finansiering, bemarking, lang ure op die pad en geloof in my is ek wat ek vandag is. Ek is ongelooflik lief vir haar.

Sy het alles in haar vermoë gedoen om ook Kersfees vir my so lekker as moontlik te maak. Die hele familie was opgewonde en veral ons kinders het dit vreeslik geniet.

My pa was nie so baie by my lewe en loopbaan betrokke nie, maar hy was altyd baie trots op my. En ’n kind het daardie wete nodig. Ek onthou nie soseer die tye wat hy nie daar was nie. Ek onthou die tye wanneer hy trots was op my, beter. Natuurlik mis ’n dogter haar pa, maar ek is nie bitter nie.

Almal ervaar goed anders, maar as ek moet raad gee, sal dit die volgende wees: Moenie jou woede teenoor jou voormalige man aan jou kind uitlê nie – dis nie jou kind se verantwoordelikheid om jou emosies te help verwerk nie. Moenie jou kind ’n plaasvervanger vir jou man maak nie. Gaan aan met jou lewe, kry ’n nuwe liefde. Dit help dat jou kind nie verantwoordelik voel vir jou geluk nie. Gun jou kind en haar pa dit om ’n verhouding met mekaar op te bou. En vergewe jouself.

My ouers se situasie het my beslis anders oor die huwelik laat dink. Niks in die lewe is ’n waarborg nie. Begrawe ongelukkigheid, verwerk dit, en moenie jou hart aan enigiemand toevertrou nie. Mense moet werk vir mekaar se vertroue; eers dan besef ons die waarde daarvan.

Kyk net hierdie pragtige lampe wat Gerhard self maak!