Natasha: my kinders se nuwe stiefma

0
95
natasha_sutherland.jpg

Dit wat baie mense as “sleg” sien, is juis die dinge wat Natasha Sutherland kies om as mens te groei.

“Ek het al baie kanse in my lewe gewaag. Ek is op 19 uit die huis om na die groot, vreesaanjaende Johannesburg te kom om aktrise te word. Toe trou ek met ’n popster en skei van ’n popster – dit klink soos ’n werklikheidsreeks op TV!

“Maar as ek nou terugkyk na al die keuses in my lewe, weet ek ek sou ek nie vandag gewees het waar ek is as ek nie daardie besluite geneem het nie. Ek koester baie dinge wat dit vir my gegee het.

“Ek wou as jong aktrise Londen toe verhuis, maar toe bly ek om met Steve te trou. As ek gegaan het, sou ek nie my kinders gehad het nie. Ek sou nie deur die bittersoet pyn, en toe die deurbraak, van my egskeiding gegaan het nie. Ek sou nie my boeke geskryf het en die land vol kon reis om met vroue oor my ondervindings te gesels nie.

“Dis vir my ironies dat God my in ’n posisie geplaas het waar ek vroue kan help. Ek het altyd gedink ander vroue is in beheer van hulle lewens terwyl myne aanhoudend omgedolwe word.

“Ek het agter ’n masker weggekruip, maar toe die waarheid oopgevlek word en ek eerlik was daaroor in my boek Bittersoet, het talle vroue daarby aanklank gevind. En ek was bly dié dialoog kon oopgemaak word.”

Natasha het motiveringspraatjies begin hou en die temas is universeel: Hoe hanteer jy verlies, hoe vind jy weer jou voete, en hoe is jy lief vir jouself en gebruik jy daardie liefde om ander te beïnvloed?

Dis juis Natasha se openhartigheid wat maak dat baie vroue hulle met haar kan vereenselwig. Sy is bekend as iemand wat nie sal gaan lê nie, hoewel sy, soos ons almal, soms struikel.

“Jou hart kan gebreek wees. Jou liggaam kan uitgeput wees. Maar jou siel kan nie beskadig word nie. Dis die krag van liefde, ons bron van die lewe. Ek dink nie my egskeiding was daar om my af te breek nie, maar eerder om my oop te breek sodat ek dit kon raaksien – hoe liefde en hoop aanhou bestaan ten spyte van jou gebrokenheid.

“Ek het egter hard gewerk om oor die egskeiding te kom. Ek het myself belowe dit sal my nie oorwin nie. Ek het boeke vol joernale geskryf. Ek het ja gesê vir geleenthede waarvoor ek gewoonlik nee sou gesê het. Ek het afsprake met mans gehad. Ek het boeke geskryf en gepubliseer. Ek het geleer om te braai. Ek het myself gedissiplineer om nie in selfbejammering te verval nie, en om te vergewe. Ek het elke dag dinge opgenoem waarvoor ek dankbaar was.

[pagebreak] “Ek het lesse in alles begin raaksien – daar is ’n geskenk aan jouself in elke uitdaging. Egskeiding was op die ou end nie iets wat my van myself verwyder het nie, maar iets wat my na myself toe teruggebring het.

“Vandag is ek so gelukkig soos enige mens wat sukkel met rekeninge, ouer word en ouerskap. Ek voel geseënd. Ek leer om die geluk in klein dingetjies raak te sien. Soos my seun Sebastian wat ’n gedig op my kussing los. Om ’n goeie fliek saam met ’n vriend te kyk. My ander seun, Benjamin, wat sy vrese oorwin en begin perdry. Volmane. FaceTime met my sussies.”

Geweld teen vroue en kinders is iets wat haar veral na aan die hart lê en wat haar help om haar eie stryd te stry. “Ek is fisiek mishandel in ’n verhouding in my twintigs. Perspektief stel my nou in staat om te sien hoe verlore ek was. Gelukkig het ek besef daardie stryd was met myself en nie met hom nie, en ek het geloop. Ek verwyt hom nie. Dit was ’n leeftyd gelede.

“Nou werk ek veral met vroue in plekke van veilige bewaring in die Kaap. Ek voel altyd verbyster as hulle my bedank vir my hulp, want hulle inspireer mý. Om ’n slagoffer te wees is bedwelmend. Dis ’n identiteit wat ons ken en al maak dit seer, sukkel ons om onsself in ’n ander lig te sien. Dié vroue, wat sterk genoeg is om hulleself as iets beters te sien, is ware voorbeelde van dapperheid.”

Natasha en Benjamin is vroeër vanjaar beroof, en sy kon haar persoonlike ondervinding en haar studie in logoterapie (’n veld in die sielkunde, waarin sy tans ’n gevorderde diploma voltooi) gebruik om hom ook te help. “Die rower het gesê hy gaan my in my gesig skiet as ek nie my selfoon vir hom gee nie. Wat my die bangste gemaak het, was dat my kind dit moes sien.

[pagebreak] “Ek het saam met Ben deur daardie angstige gevoelens probeer werk sodat hy daaruit kan groei eerder as dat die vrees hom sou oorweldig.

“Hy het uiteindelik uit sy eie gesê hy hoop die man het ’n huis en ’n yskas vol kos. Ek was verstom oor sy goedheid. Al waarvoor ’n mens kan hoop, is dat jou kinders verstaan die lewe is nie perfek nie, maar dat jy steeds die goeie uit alles kan haal.”

Almal het dié magiese krag in hulle, glo sy.

“Ek moes byvoorbeeld sover kom om my kinders met hulle nuwe stiefma te kan deel. Ek vra my altyd af wat die beste is vir my seuns, en volg dan die antwoord. Dis werklik so maklik soos dit! As hulle gemaklik is met Janine, is hulle gemaklik met hulle lewens. Hoe kan ’n ouer nie daarvoor wens nie?

“Een van my grootste uitdagings met die egskeiding was dat dit so min moontlik trauma vir my kinders moes wees. ’n Kind absorbeer ’n ouer se energie. As ek koud en bitter is, hou ek hulle vas sodat hulle ook nie sal groei en leer daaruit nie.

“Hulle was baie opgewonde oor hulle pa se troue en ek het my bes gedoen om dit te ondersteun; dit het my immers niks gekos nie. Daar was veel meer om te wen in die situasie.

“Ek is glad nie ’n leier of ghoeroe nie. Ek is bloot oop en eerlik. ’n Vrou wat sonde gedoen het, seergekry het en foute gemaak het soos enige ander, maar wat weier om op te gee. Dis so goed vir vroue om oor dié dinge te begin praat. As ons gesels, voel ons minder alleen. Die erkenning van verlies en die oorgee aan verandering moet gebeur voordat jy geestelik gesond kan word.”

Om weer daardie betekenis in die lewe te vind is die sleutel, sê sy. “Selfhelpboeke gaan jou dalk leer om weer lief te wees vir jouself, maar dis net die helfte van die probleem. Jy moet veranderings kan omarm en nuwe betekenis vind, en daardie stempel afdruk op die wêreld.

“Liefdadigheidswerk help jou om dít te doen. Maar moenie dit doen om ‘goed’ te wees of omdat God sê jy moet nie – dan word dit ’n instrument vir jou ego. Ware welwillendheid kom uit nederigheid.

“As jy nie jou liefde en lewenslesse só deel nie, is dit soos om ’n pragtige paar skoene te koop en nooit te dra nie omdat jy dit nie wil skaaf nie. Ons siele moet geskaaf word, want daardie reis laat jou toe om jouself te vind en jouself met ander te deel.”

Natasha Sutherland is aangewys as die FINESSE Doengoed-Voelgoed vrou van 2014. Deur haar werk met vroue het sy vroue se lewens radikaal verander. Hier is die onbekende vroue wat ons ook vir hulle harde werk en inspirasie vereer het. (link na 3 onbekende vroue)

Lees meer: Kyk wat vertel Natasha oor haar kêrel en haar Ferrari (http://www.voelgoed.co.za/s%C3%B3-leer-ons-vir-natasha-ken)