Neem beheer oor jou finansies

150
Neem beheer oor jou finansies

As jy jou finansiële situasie wil verbeter, sal jy anders oor geld moet dink. Praktiese raad om jou gewoontes te verander en jou finansies te verbeter, ongeag hoeveel kapitaal jy het.

Wanneer laas het jy eerlik oor jou huidige finansiële posisie en aftrede gedink? Baie mense is op die oomblik redelik negatief.

Hulle glo hulle sal so lank moontlik moet werk voor hulle eendag kan aftree. En dan moet hulle maar so vroeg moontlik doodgaan!

Volgens statistieke sal net sowat 5% van mense finansieel onafhanklik wees wanneer hulle aftree. Dit beteken dat in ’n vertrek met 100 mense, slegs vyf gemaklik met hulle pensioengeld sal kan leef.

As finansiële kenner kry ek elke dag met die ander 95% te doen. Ek weet watter groot behoefte daar by mense is vir raad met hulle finansies.

Daarom is dit vir my belangrik om jou te help op die pad na finansiële onafhanklikheid.

Mense kry die meeste van die tyd nie wat hulle wil hê nie omdat hulle nie weet wat hulle wil hê nie. Daar is heeltemal te veel mense wat iemand anders se droom vir hulle lewe probeer leef. Dink ’n slag mooi oor presies wat die regte ding vir jou is. Dit gaan in die eerste plek oor wat jý uit die lewe wil hê.

Die tweede rede dat mense nie kry wat hulle wil hê nie, is dat hulle nie eintlik weet hoekom hulle dit wil hê nie. Die “hoekom” is jou motivering en die emosie agter die “wat”. Sonder die regte emosie is daar geen energie om die veranderinge te maak wat nodig is om ’n doelwit te bereik nie. Dan sal niks regtig verander nie.

Wees nou eerlik en dink hoekom jy nog nie dit wat jy so begeer, het nie.

Daar is gewoonlik twee redes: ’n denkbeeldige rede en ’n ware rede. Die denkbeeldige rede is die verskonings waarmee ’n mens jou besluite regverdig. As jy egter eerlik genoeg is, sal jy besef wat die eintlike rede is dat daardie droom nog buite bereik is.

Jy het dus ’n plan nodig om jou droom te bewaarheid. Jy moet ’n heeltemal nuwe strategie uitwerk om te kom waar jy wil wees.

Onthou, jou gewoontes is so gevestig dat jy maar net sal doen wat jy nog altyd gedoen het as daar nie ’n ander plan is nie. En dan sal jy natuurlik kry wat jy nog altyd in die verlede gekry het!

Die goeie nuus is dat hierdie plan of strategie nie perfek hoef te wees nie. Dit is net die beginpunt wat jou in die regte rigting sal stuur.

So terloops, ’n vliegtuig wat van OR Tambo-lughawe na die Kaapstadse Internasionale Lughawe op pad is, is vir 90% van die tyd nie presies op die regte koers nie!

Hoe kry die vlieënier dit dan reg om op die regte landingsblad op die regte lughawe te land? Dis eenvoudig: Hy maak die hele tyd aanpassings terwyl hy vlieg.

Net so sal jou strategieë ook soms verander, maar jy sal nog in die regte rigting op pad wees.

Wanneer jy jou plan gefinaliseer het, moet jy die eerste treetjie gee op die pad wat jy vorentoe wil stap. Die meeste mense dink heeltemal meer as wat hulle bereid is om te doen. Baie drome lê begrawe omdat dit presies dít gebly het: drome.

Nadat jy die verandering gemaak en die proses aan die gang gesit het, moet jy bepaal of dit die regte skuif was. Jy moet weet of jy geslaag het. Sorg dat die regte maatstawwe in plek is om te bepaal of jou doelwitte bereik is.

Die lesse wat jy tydens hierdie proses gaan leer, sal jou help om uiteindelik al jou finansiële doelwitte te bereik.

Voor enigiets aan jou situasie kan verander, moet jy eers weet presies waar jou geldsake staan. Party mense gee moed op omdat hulle glo hulle is te oud om iets te verander.

Ander dink hulle is nog te jonk om hulle nou al oor hulle oudag te bekommer.

Die meeste is salig onbewus van hulle geldelike probleme. Of blameer ander mense vir die verknorsing waarin hulle is.

Die goeie nuus is, elke mens kan verander en die swak gewoontes wat sy geleer het, weer afleer. As jy reeds kinders het of beplan om eendag kinders te hê, leer hulle asseblief van die begin af reg.

Leer hulle om nie van betaaldag tot betaaldag te leef nie. Hulle moet weet dat dit wel moontlik is om geld oor te hê aan die einde van die maand, en nie andersom nie!

Leer jou kinders om nie lief vir geld te wees nie, want dit kan hulle inhalig en selfsugtig maak en hulle lewens vernietig. As hulle geld respekteer, sal hulle eendag verantwoordelike, produktiewe lands- en wêreldburgers wees.

Om die regering vir jou finansiële posisie te blameer sal jou niks in die sak bring nie. Goed, jy moet dalk baie belasting betaal en alles is peperduur, maar jý bly verantwoordelik vir jou finansies.

So, leer om die dinge te aanvaar wat jy nie kan beheer nie en werk met die dinge waaraan jy wel iets kan doen.

Jy kan nie die belastingkoers beheer nie, maar jy kan besluit om nie elke dag ’n skuimkoffie te koop nie. Jy kan nie die prys van diesel of petrol beheer nie, maar jy kan ’n motor koop wat ligter op brandstof is.

Die kruks is dat daar baie dinge is wat jy nie kan beheer nie.

Ja, die regering het ’n groot houvas op jou finansies, wat jou lewenskwaliteit kan beïnvloed. En tog, jy is die enigste een wat 100% in beheer van jou geldsake is.

Daardie peperduur ontwerpersrok of plasma-TV wat jy met die kredietkaart gekoop het, is jóú verantwoordelikheid. Die regering het jou nie gevra om dit te koop nie!

Dis belangrik om jou foute te erken, maar dan moet jy opstaan, jouself afstof en aangaan met die lewe. Begin deur van nou af die regte keuses te maak wat jou geldsake betref. Nie môre nie, maar vandag nog.

Dit maak nie saak in watter gemors jou finansies op die oomblik is nie. Dit maak nie saak hoeveel skuld jy het nie. Dit kán verander.

Onthou, dit het maande en jare geneem vir die skuld om so op te hoop. Daarom kan dit selfs langer neem om dit af te betaal. Maar skep moed – jy kan dit doen deur bewustelike, goed ingeligte besluite te neem.

JOU AKSIEPLAN!

Is jy gelukkig met jou lewe?  Om ’n aksieplan op te stel is die  eerste stap om jou drome ’n  werklikheid te maak.

  • Skryf drie doelwitte neer wat jy graag wil bereik.
  • Hoekom is hierdie dinge vir jou belangrik?
  • Hoekom het jy nog nie hierdie dinge nie?
  • Hoe sal dit wees as jy uiteindelik kan kry wat jy begeer?
  • Skryf nou die eerste drie aksies (spesifiek en doenbaar) by elke doelwit neer waarmee jy hierdie week kan begin.